Search form

1 Korintiërs 14

Die genadegawe om God se boodskap te bring

1Julle moet nooit ophou om lief te wees vir God en vir ander mense nie. Maar julle moet ook bid en hard werk vir die dinge wat die Heilige Gees vir julle gee, en die belangrikste wat Hy vir julle gesê het, is dat julle God se boodskap moet bring vir ander mense. 2Want wanneer iemand *in tale praat, dan praat hy nie met mense nie, hy praat met God. Niemand verstaan dit nie, want hy praat geheime wat die Gees vir hom gee. 3Maar wanneer iemand die boodskap van God bring, dan praat hy met mense. En dit maak hulle geloof sterk, dit help hulle om aan te hou glo en dit troos hulle. 4Wanneer iemand in tale praat, dan maak hy sy eie geloof sterk. Maar wanneer iemand die boodskap van God bring, dan maak hy die mense van die kerk se geloof sterk. 5Ek wil graag hê dat julle almal in tale moet praat. Maar ek wil nog meer hê, ek wil hê dat julle God se boodskap moet bring. Iemand wat God se boodskap bring, is belangriker as iemand wat in tale praat. Iemand moet tolk en sê wat die persoon sê wat in tale praat. Dan sal dit goed wees vir die gemeente, want dan maak dit die gemeente se geloof sterk. 6Vriende, dink nou goed hieroor: As ek na julle toe kom en ek praat in tale, dink julle dit kan vir julle help? Nee, ek kan julle net help wanneer ek vir julle iets sê wat God vir my gewys het of wanneer ek vir julle verduidelik wat God wil hê of wanneer ek God se boodskap bring of wanneer ek vir julle iets leer. 7Dit is dieselfde met musiek-instrumente, dinge wat nie lewe nie. Dink aan ’n *fluit of ’n *harp. As iemand nie ’n fluit reg blaas nie of hy speel nie reg op ’n harp nie, dan sal ’n mens nie weet watter musiek dit is nie. 8En wanneer iemand nie hard en duidelik op die *trompet blaas sodat almal dit kan hoor nie, dan sal die soldate nie gereedmaak om oorlog te maak nie. 9Dit is dieselfde in die gemeente. Wanneer iemand praat, maar julle kan nie verstaan wat hy sê nie, sal julle dan weet wat die persoon wil sê? Nee. Dan is dit soos wanneer iemand praat, maar die wind waai sy woorde weg. 10Daar is baie tale in die wêreld. En elke taal het mense wat die woorde verstaan. 11Maar as ek nie verstaan wat iemand sê nie, dan is ek vir hom soos iemand wat die taal praat van ’n ander land en hy is vir my soos iemand van ’n ander land. 12Dit moenie so wees by julle nie. Julle wil graag die dinge hê wat die Heilige Gees vir julle gee. Daarom moet dit vir julle baie lekker wees om die mense in die gemeente se geloof sterk te maak. 13Daarom, wanneer iemand in tale praat, dan moet hy ook bid dat hy sal kan sê wat dit beteken. 14Want wanneer ek in tale bid, dan bid my hart, maar ek dink nie met my verstand wat ek bid nie. 15Wat moet ek dan doen? Ek sal bid met my hart, maar ek sal ook bid met my verstand. Ek sal vir die Here sing met my hart, maar ek sal ook met my verstand vir die Here sing. 16Maar onthou: Wanneer jy met jou hart bid en jy prys die Here, dan is daar miskien iemand wat nie die *genadegawe het om tale te verstaan nie. Kan daardie persoon dan saamstem en “amen” sê wanneer jy vir die Here dankie sê? Nee, want hy verstaan nie wat jy sê nie. 17Jy sê miskien mooi dankie vir die Here, maar dit maak nie die ander persoon se geloof sterk nie. 18Ek sê dankie vir God dat ek meer as julle almal in tale praat. 19Maar vir my is dit beter om in die gemeente net vyf woorde met my verstand te praat as om 1 000 woorde in tale te praat. Want as ek met my verstand praat, dan kan ek vir die gemeente leer.

20Vriende, julle moenie soos kinders dink nie. Ja, wanneer julle verkeerde dinge wil doen, dan moet julle soos babas wees. Maar julle moet soos grootmense dink. 21In die Ou Testament is geskryf:

*Die Here sê: “Ek sal met

hierdie volk praat

in tale wat hulle nie ken nie,

in die tale van mense

van ander lande,

maar ook dán sal hulle nie luister

na My nie.”

22Dit beteken: Die genadegawe om in tale te praat, is ’n *teken vir mense wat nie glo nie. Dit is nie ’n teken vir mense wat glo nie. Maar die genadegawe om God se boodskap te bring, is ’n teken vir mense wat glo, dit is nie ’n teken vir mense wat nie glo nie. 23Daarom, wanneer die hele gemeente bymekaarkom en daar kom miskien mense in wat nie vir julle ken nie, dan sal hulle dink julle is mal. Of as daar mense inkom wat nie in Christus glo nie, dan sal hulle ook dink julle is mal. 24Maar as almal die boodskap van God bring, en daar kom iemand in wat nie in Christus glo nie, of dit is iemand wat nie vir julle ken nie, dan sal hy voel almal praat met hom oor die dinge wat verkeerd is in sy lewe. Hy sal voel almal sê vir hom dat God hom sal straf oor sy sondes. 25Hy sal sê dit is waar dat daar slegte dinge diep in sy hart is, dinge waarvan niemand weet nie. En dan sal hy buig en vir God aanbid en sê: “God is regtig hier by julle.”

Wat die gemeente moet doen wanneer hulle bymekaarkom

26Vriende, wat beteken dit alles? Dit beteken dat wanneer julle bymekaarkom, dan het elkeen ’n *genadegawe, hy kan die Here daarmee dien. Daar is verskillende genadegawes: om ’n lied te sing, om iets vir ander mense te leer, om te vertel wat die Here vir jou gewys het, om *in tale te praat, of om daardie tale te kan tolk. Maar onthou, alles moet só gebeur dat dit julle geloof sterker maak. 27As mense in tale wil praat, dan moet dit net twee persone wees wat praat, of nie meer as drie persone nie. Hulle moenie saam praat nie, hulle moet ná mekaar praat wanneer dit hulle beurt is om te praat. En daar moet iemand wees wat kan tolk en sê wat dit beteken. 28As daar nie iemand is wat kan tolk nie, dan moet die een wat in tale praat, stilbly, dan moet hy nie praat daar waar die gemeente bymekaarkom nie. Hy moet praat daar waar hy alleen is en waar hy sy eie geloof sterk kan maak en met God kan praat. 29En wanneer die *profete God se boodskap bring, dan moet dit ook net twee of drie profete wees wat praat. Die ander profete moet luister of hulle reg praat. 30En as een profeet praat en God wys vir ’n ander profeet iets wat hy dadelik vir die gemeente moet sê, dan moet die eerste profeet ophou praat. 31Elke profeet kan ’n beurt kry om God se boodskap vir die gemeente te bring. En so leer God vir almal en so maak Hy almal se geloof sterk. 32Julle moet onthou, ’n profeet kan besluit om op te hou praat en hy kan vir ’n ander profeet ’n beurt gee om te praat. 33Want God wil hê dat alles wat julle doen, reg moet wees wanneer julle bymekaarkom, dit moenie deurmekaar wees nie, want God hou van vrede.

Vroue praat nie in een van die gemeentes nie, 34en hulle moet dit ook nie by julle doen nie. God wil dit nie hê nie, die vroue moet luister na hulle mans. Die Ou Testament sê dieselfde. 35As die vroue iets wil weet, dan moet hulle dit by die huis vir hulle mans vra, want dit is nie mooi wanneer ’n vrou in die kerk praat nie. 36Julle is nie die eerste gemeente wat die boodskap van God gebring het nie, en julle is ook nie die enigste gemeente wat die boodskap gehoor het nie.

37As iemand ’n profeet of ’n *geestelike mens is, dan sal hy weet dat die dinge wat ek vir julle skryf, dinge is wat die Here self sê. 38En as iemand nie aanvaar wat ek skryf nie, dan sal die Here hom ook nie aanvaar nie. 39My vriende, daarom moet julle aanhou om God se boodskap te bring, maar julle moenie die mense keer wat in tale praat nie. 40En julle moet onthou, alles moet só gebeur dat niks deurmekaar is in die gemeente nie, en elke ding moet ’n beurt kry op die regte tyd.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index