Search form

1 Johannes 4

Jesus was regtig ’n mens

1Vriende, julle moenie vir almal glo wat sê dat hulle God se Gees in hulle het nie. Julle moet uitvind of hulle regtig God se Gees het, want daar is baie *vals profete in die wêreld. 2Hoe moet julle uitvind of iemand die Gees van God het? As mense sê hulle glo dat Jesus Christus regtig ’n mens geword het, dan het hulle die Gees van God. 3Maar mense wat sê dat hulle dit nie glo nie, het nie die Gees van God nie. Hulle het die gees van die *antichris. Julle het gehoor dat die antichris sal kom. Maar ek sê vir julle, hy is nou al klaar hier in die wêreld.

4Vriende, julle is kinders van God. Julle het die vals profete oorwin, want God is by julle en Hy is sterker as die *Satan wat by die mense van die wêreld is. 5Die vals profete is mense van die wêreld. Daarom praat hulle soos die mense van die wêreld, en die mense van die wêreld doen wat die vals profete sê. 6Maar ons is kinders van God. Almal wat vir God ken, doen wat ons sê. Almal wat nie kinders van God is nie, doen nie wat ons sê nie. Daarom weet ons wie het ’n gees wat lieg en wie het God se Gees, die Gees van die waarheid.

Julle moet lief wees vir mekaar

7Vriende, ons moet lief wees vir mekaar, want liefde kom van God. Almal wat lief is vir ander mense, is kinders van God en hulle ken vir God. 8Mense wat nie lief is vir ander mense nie, ken nie vir God nie, want God is liefde. 9God het vir ons gewys hoe lief Hy vir ons is toe Hy sy Seun na die wêreld gestuur het. Niemand anders is soos sy Seun nie. Sy Seun het gekom om vir ons ware lewe te gee. 10Ware liefde is nie dat óns lief was vir God nie, maar dat Gód lief was vir ons en dat Hy sy Seun gestuur het. Sy Seun het gesterf, Hy was die *offer wat ons sonde weggeneem het en wat ons met God *versoen het.

11Vriende, God het vir ons gewys hoe lief Hy vir ons is, daarom moet ons ook lief wees vir mekaar. 12Niemand het vir God gesien nie, nooit. As ons lief is vir mekaar, dan bly God by ons en dan is ons harte vol van sy liefde.

13Ons weet dat ons by God bly en dat Hy by ons bly, want Hy het sy Gees vir ons gegee. 14Ons het gesien en nou vertel ons dat die Vader sy Seun gestuur het sodat die Seun die *Redder van die wêreld kon word. 15As mense sê hulle glo dat Jesus die Seun van God is, dan is God by hulle en hulle is by God. 16Ons het gesien en geglo dat God lief is vir ons. God is liefde, en almal wat vashou aan sy liefde, bly by Hom en Hy bly by hulle.

17Ons harte het vol geword van God se liefde, en daarom is ons nou nie bang vir die *oordeelsdag nie. Ons is nog in die wêreld, maar ons is nie bang om by God te wees nie, soos Jesus nie bang is om by God te wees nie. 18Mense wat liefde in hulle harte het, is nie bang nie, want as hulle regtig liefde in hulle harte het, dan kan hulle nie meer bang wees nie. Mense is altyd bang vir straf. Die mense wat bang is dat God hulle sal straf, is die mense wat nie regtig liefde in hulle harte het nie.

19Ons is lief vir God en vir mekaar, want God was eerste lief vir ons. 20Wanneer mense sê hulle is lief vir God, maar hulle haat ander *gelowiges, dan lieg hulle. Hulle kan die ander gelowiges sien, maar is nie lief vir hulle nie. Kan hulle dan lief wees vir God, God vir wie hulle nie sien nie? Nee. 21God het vir ons gesê as ons lief is vir Hom, dan moet ons ook lief wees vir die ander gelowiges.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index