Search form

1 Konings 13

1Toe Jerobeam op die altaar klim om te offer, het ’n *man van God daar in Bet-El aangekom. Die man van God het van die land Juda gekom. Die Here het die man gestuur. Jerobeam het op die altaar gestaan om te offer, 2en die man van God het met die altaar gepraat. Hy het ’n boodskap van die Here gebring en gesê: “Altaar, altaar, die Here sê: ‘Luister na wat Ek sê: Daar sal ’n seun gebore word in die *koningshuis van Dawid. Sy naam sal Josia wees. Die *priesters van die *offer-plekke brand *wierook op jou, maar Josia sal daardie priesters hier op jou offer, en hulle sal mense se bene op jou verbrand.’ ”

3Die man van God het daardie dag gesê die Here sal hierdie *teken gee: Die altaar sal oopbars, en die *as sal op die grond val. 4Toe koning Jerobeam hoor wat die man van God sê van die altaar in Bet-El, het hy sy hand uitgesteek van bo-op die altaar en hy het gesê: “Gryp hom!”

Maar die hand wat hy uitgesteek het, het styf geword. Hy kon dit nie terugtrek nie. 5Die altaar het oopgebars, en die as het op die grond geval. Dit was die teken van die Here soos die man van God gesê het. 6Die koning het vir die man van God gesê: “Praat asseblief mooi met jou God die Here en bid vir my sodat ek my hand kan terugtrek.”

Die man van God het dit gedoen, en die koning se hand was weer reg. Dit was weer soos dit voorheen was. 7Die koning sê toe vir die man van God: “Kom eet saam met my, ek wil vir jou ’n present gee.”

8Maar die man van God het vir die koning gesê: “Ek sal nie saam met jou kom nie, ook nie as jy die helfte van jou paleis vir my gee nie. En ek sal nie in hierdie plek eet of drink nie, 9want die Here het vir my gesê: ‘Jy moenie daar eet of drink nie en jy moenie op dieselfde pad terugkom nie.’ ”

10Die man van God het op ’n ander pad teruggegaan. Hy het nie teruggegaan op die pad waarop hy na Bet-El gekom het nie.

Die man van God sterf

11Daar het ’n ou *profeet in Bet-El gewoon. Sy seuns het vir hom kom vertel wat die *man van God daardie dag in Bet-El gedoen het en wat hy vir die koning gesê het. 12Die ou profeet vra toe vir sy seuns op watter pad die man van God teruggegaan het, want die seuns het gesien op watter pad die man van God teruggegaan het. 13Die ou profeet sê toe vir sy seuns hulle moet vir hom ’n donkie opsaal, en hy het op die donkie geklim 14en gery om die man van God te gaan soek. Hy het die man van God gekry, die man het onder ’n groot boom gesit. Die ou profeet het vir hom gevra: “Is jy die man van God wat van Juda gekom het?”

Die man van God het gesê: “Ja, ek is.”

15Die ou profeet sê toe vir hom: “Kom saam met my huis toe en kom eet iets.”

16Die man van God het vir die ou profeet gesê: “Ek mag nie saam met jou teruggaan na jou huis nie, ek mag nie eet of drink in hierdie plek nie, 17want die Here het vir my gesê: ‘Jy moenie eet of drink nie en jy moenie teruggaan op die pad waarop jy gekom het nie.’ ”

18Die ou profeet sê toe vir die man van God: “Ek is ook ’n profeet soos jy. ’n *Engel het vir my ’n boodskap van die Here gebring en gesê: ‘Jy moet die man van God saambring na jou huis en jy moet vir hom kos gee om te eet en water om te drink.’ ”

Maar die ou profeet het vir die man van God gejok. 19Toe gaan die man van God saam met die ou profeet terug en hy het in sy huis geëet en gedrink. 20Terwyl hulle by die tafel gesit het, het die Here gepraat met die ou profeet wat die man van God laat terugkom het. 21Die profeet het gepraat met die man van God wat van Juda gekom het. Hy het geskree en gesê: “Die Here sê: Jy was *opstandig teen die Here, jy het nie gedoen wat Hy vir jou gesê het nie! 22Hy het gesê jy moenie terugkom en eet en drink in hierdie plek nie, maar jy hét teruggekom en dit gedoen. Daarom sal hulle jou lyk nie begrawe in die *graf van jou *voorvaders nie.”

23Nadat die man van God klaar geëet en gedrink het, het die ou profeet wat hom laat terugkom het, die man se donkie laat opsaal. 24Die man van God het toe daar weggegaan. Langs die pad het daar ’n leeu gekom en hy het die man van God doodgemaak. Die man se lyk het op die pad gelê, en die donkie en die leeu het by die lyk gestaan. 25Daar het mense verbygekom en hulle het gesien dat die man van God se lyk op die pad lê en dat die leeu by die lyk staan. Hulle het dit gaan vertel in die stad waar die ou profeet gewoon het. 26Die ou profeet wat die man van God laat omdraai het, het dit gehoor en hy het gesê: “Dit is die man van God wat opstandig was teen die Here. Die Here het die leeu na hom toe gestuur, en die leeu het hom verskeur en doodgemaak. Dit het gebeur soos die Here vir hom gesê het.”

27Die ou profeet sê toe vir sy seuns hulle moet vir hom ’n donkie opsaal, en hulle het dit gedoen. 28Hy het gegaan en hy het die lyk gekry waar dit op die pad lê. Die donkie en die leeu het by die lyk gestaan. Die leeu het nie die lyk gevreet nie en hy het ook nie die donkie doodgemaak nie. 29Die profeet het die lyk van die man van God opgetel en hy het dit op die donkie gelaai. Hy het die lyk teruggebring na sy stad om oor die man van God te *rou en om hom te begrawe. 30Hy het die lyk in sy eie graf gesit en hy het oor hom gerou en gesê: “Ag, my broer.”

31Nadat hy hom begrawe het, het die profeet vir sy seuns gesê: “Wanneer ek sterf, dan moet julle my begrawe in die graf waar ek die man van God begrawe het. Julle moet my lyk by sy bene sit, 32want die Here het hom gestuur, en die dinge sal gebeur wat hy gesê het teen die *altaar in Bet-El en teen al die *tempels by die *offer-plekke in die stede van Samaria, dit is seker.”

33Jerobeam het ná hierdie dinge nie opgehou om die slegte dinge te doen wat hy gedoen het nie. Hy het aangehou om *priesters te kies en aan te stel, *mense wat nie van die *Levi-stam was nie. Hy het elkeen wat ’n priester wou wees, aangestel om priester te wees by die offer-plekke. 34Dit is die sonde wat die *koningshuis van Jerobeam gedoen het, en dit is hoekom daar niemand van sy koningshuis is wat nou nog regeer nie.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index