Search form

1 Konings 17

Dit reën nie in die land Israel nie

1Die *profeet Elia van Tisbe het nie self grond gehad nie, hy het in Gilead by ander mense gewoon. Hy het vir Agab gesê: “Daar sal hierdie jaar nie reën of *dou wees nie. Dit sal net reën of dou as ek so sê. Dit is so seker soos die Here lewe, die God van Israel vir wie ek werk.”

Elia in die Krit-vallei

2Daarna het die Here vir Elia gesê: 3“Jy moet hier weggaan. Gaan oos, oor die Jordaan-rivier, en gaan kruip weg in die Krit-vallei. 4Jy kan water drink uit die stroom in die vallei, en Ek het vir die kraaie gesê hulle moet vir jou kos bring.”

5Elia het gegaan en hy het gedoen wat die Here vir hom gesê het. Hy het in die Krit-vallei anderkant die Jordaan-rivier gaan bly. 6Die kraaie het elke oggend en elke aand brood en vleis vir hom gebring, en hy het water uit die stroom in die vallei gedrink.

Elia in Sarfat

7Dit het nie gereën nie, en daar was later nie meer water in die Krit-vallei nie. 8Toe het die Here vir Elia gesê: 9“Jy moet gereedmaak en na die stad Sarfat gaan in die land van die Sidoniërs. Jy moet daar gaan bly. Ek het vir ’n weduwee daar gesê sy moet vir jou kos gee.”

10Elia het gereedgemaak en na Sarfat gegaan. Toe hy by die *poort van die stad kom, was ’n weduwee daar besig om hout bymekaar te maak. Hy het haar geroep en gevra: “Gee asseblief vir my ’n bietjie water in ’n beker sodat ek dit kan drink.”

11Toe sy gaan om die water te gaan haal, skree hy vir haar: “Bring asseblief ook vir my ’n stukkie brood saam.”

12Sy het gesê: “So seker soos jou God die Here lewe, ek het niks wat gaar is nie. Ek het nog net ’n handvol meel in ’n *kruik en ’n bietjie olyf-olie in ’n bottel. Wanneer ek klaar ’n paar stukkies hout bymekaargemaak het, dan gaan ek vir my en my seun iets maak om te eet. Daarna sal ons sterf.”

13Elia het vir haar gesê: “Jy moenie bekommerd wees nie. Gaan doen wat jy wil doen, maar maak eers vir my ’n klein broodjie gaar, daarna kan jy vir jou en jou seun brood gaarmaak. 14Die Here, die God van Israel, het gesê: Die kruik waarin die meel is, sal nie leeg word nie, en daar sal genoeg olyf-olie in die oliebottel wees tot die dag wanneer die Here dit weer laat reën in die land.”

15Die weduwee het gegaan en gedoen wat Elia gesê het en sy het elke dag kos gehad om te eet, sy en Elia en haar huisgesin. 16Die meelkruik het nie leeg geword nie en daar was altyd olyf-olie in die oliebottel, soos die Here gesê het Elia moet sê.

17Later het die seun van die weduwee siek geword, die weduwee aan wie die huis behoort het. Hy was baie siek en hy het gesterf. 18Die weduwee het vir Elia gesê: “*Man van God, wat het ek verkeerd gedoen aan jou? Hoekom doen jy dit aan my? Het jy na my toe gekom sodat my seun moet sterf omdat ek sonde gedoen het?”

19Hy het vir haar gesê: “Gee jou seun vir my.”

Elia het die seun uit haar arms geneem en hy het die seun na die bo-kamer gedra. Elia het daar gewoon. Hy het die seun op sy bed neergesit 20en hy het tot die Here gebid en gesê: “My God die Here, wil U dit sleg laat gaan met hierdie weduwee? Sy het gesê ek mag hier woon, en nou het U haar seun laat sterf.”

21Toe gaan lê Elia drie maal op die kind en hy bid tot die Here en hy sê: “My God die Here, laat asseblief hierdie kind se lewe terugkom in hom.”

22Die Here het gedoen wat Elia gevra het. Die lewe van die kind het teruggekom in hom en hy het weer begin lewe. 23Elia het die kind ondertoe gedra in die huis in. Hy het die kind vir sy ma gegee en vir haar gesê: “Hier is jou kind, hy lewe.”

24Die vrou het vir Elia gesê: “Nou weet ek jy is regtig ’n man van God. Die dinge wat die Here sê jy moet sê, is die waarheid.”

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index