Search form

1 Konings 20

Koning Agab wen ’n oorlog teen koning Ben-Hadad

1Koning Ben-Hadad van Aram het al sy soldate laat bymekaarkom. Daar was 32 konings saam met hom, en hy het *oorlogkarre en perde gehad. Hy het gegaan en hy het sy tente rondom die stad Samaria opgeslaan. 2Toe stuur hy *boodskappers na die stad, na koning Agab van *Israel toe 3om vir hom te sê: “Ben-Hadad sê: Jou silwer en jou goud is myne, en jou vroue en jou beste seuns is ook myne.”

4Die koning van Israel het geantwoord en gesê: “Goed, Meneer die koning, ek en alles wat ek het, is joune.”

5Maar die boodskappers het later weer na Agab teruggekom en gesê: “Ben-Hadad sê: Ek het vir jou ’n boodskap gestuur en gesê jy moet jou silwer en jou goud en jou vroue en jou seuns vir my gee, 6maar ek sal môre hierdie selfde tyd my *offisiere na jou toe stuur, en hulle sal oral in jou paleis en in die huise van jou *amptenare soek. Hulle sal alles vat en saambring, alles wat vir jou *kosbaar is.”

7Toe roep die koning van Israel al die leiers van die land en hy sê vir hulle: “Julle moet hoor, julle moet dit weet. Hierdie man wil vir my probleme gee. Hy het vir my gevra dat ek my vroue en my seuns, my silwer en my goud vir hom moet gee, en ek het nie geweier nie.”

8Al die leiers en al die mense het vir die koning gesê: “Jy moenie na hom luister nie, jy moenie doen wat hy vra nie.”

9Toe sê die koning vir die boodskappers van Ben-Hadad: “Sê vir meneer die koning: Ek sal alles doen wat jy die eerste maal vir my gevra het, maar wat jy nou vra, kan ek nie doen nie.”

Die boodskappers het vir Ben-Hadad gaan sê wat Agab sê. 10Ben-Hadad stuur toe weer vir Agab ’n boodskap. Hy het gesê: “Ek bid dat die *gode my sal help. Ek sal Samaria so *verwoes dat daar net stof sal oorbly, en die stof sal nie genoeg wees vir al die manne saam met my om dit met hulle hande weg te dra nie.”

11Die koning van Israel het geantwoord: “Iemand wat ’n oorlog wil begin, moenie spog nie, hy moet wag totdat die oorlog verby is.”

12Ben-Hadad en die ander konings was besig om te drink in die tente. Toe hy die boodskap van Agab kry, het hy vir sy offisiere gesê: “Julle moet gereedmaak.”

Hulle het toe gereedgemaak om die stad aan te val. 13En toe kom daar ’n *profeet by Agab, die koning van Israel. Die profeet het gesê: “Die Here sê: Sien jy hierdie groot klomp mense? Ek sal jou vandag laat wen teen hulle, dan sal jy weet dat Ek die Here is.”

14Toe vra Agab: “Met wie sal die Here dit doen?”

En die profeet sê: “Die Here sê: Ek sal dit doen met die jongmanne van die *distrikshoofde.”

Agab vra toe wie die oorlog moet begin, en die Here antwoord: “Jy.”

15Agab het die jongmanne van die distrikshoofde laat tel en laat gereedstaan. Hulle was 232 manne. Daarna het hy al die manne van Israel laat tel en laat gereedstaan. Hulle was 7 000 manne. 16Hulle het in die middel van die dag uit die stad gegaan. Ben-Hadad was besig om te drink en dronk te word in die tente, hy en die 32 konings wat sy *bondgenote was. 17Die jongmanne van die distrikshoofde het eerste gegaan. Ben-Hadad het manne gestuur om uit te vind wat gebeur, en sy manne het vir hom kom sê: “Daar het manne uit Samaria gekom.”

18Ben-Hadad sê toe: “As hulle nie gekom het om oorlog te maak nie, dan moet julle hulle lewendig vang. En as hulle gekom het om oorlog te maak, dan moet julle hulle ook lewendig vang.”

19Die jongmanne van die distrikshoofde het uit die stad gekom, en die ander manne was agter hulle. 20Elke man van Agab, die koning van Israel, het die man oorwin wat teen hom geveg het, en die Arameërs het gevlug. Die Israeliete het hulle gevolg en gejaag. Maar Ben-Hadad koning van Aram het op ’n perd gevlug saam met die manne wat op perde gery het. 21Die koning van Israel het uit die stad gegaan en hy het die oorlog gewen teen Ben-Hadad se manne op die perde en op die oorlogkarre. Hy het ver gewen teen die Arameërs.

Agab wen weer teen Ben-Hadad maar hy laat hom vry weggaan

22Die *profeet het daarna weer by Agab gekom en hy het vir Agab gesê: “Jy moet nou meer soldate kry en jy moet goeie planne maak, want naby die einde van die jaar sal die koning van Aram jou weer kom aanval.”

23Die *offisiere van Ben-Hadad, die koning van Aram, het vir hom gesê: “Die *gode van die Israeliete is berg-gode, daarom was hulle te sterk vir ons. Dit sal beter wees as ons op gelyk grond oorlog maak teen hulle, dan sal ons sterker wees as hulle. 24Dit is wat jy moet doen: Jy moet die konings uitskop en jy moet *goewerneurs in hulle plekke kies en aanstel. 25Jy moet self weer manne kies in die plek van jou manne wat gesterf het en jy moet perde en *oorlogkarre kry soos jy gehad het. Ons moet op gelyk grond oorlog maak teen hulle, dan sal ons sterker wees as hulle.”

Ben-Hadad het na hulle geluister en hy het dit gedoen. 26Naby die einde van die jaar het Ben-Hadad gesê die Arameërs moet gereedmaak om oorlog te maak. Hulle het na die stad Afeka gegaan om oorlog te maak teen *Israel. 27Die Israeliete het ook gereedgemaak en hulle het genoeg kos saamgeneem. Hulle het gegaan om die Arameërs te ontmoet. Die Israeliete het hulle tente opgeslaan oorkant die Arameërs se tente. Die tente was soos twee troppe bokke. Die Arameërs was oral in die land. 28En toe kom ’n *man van God by die koning van Israel en hy sê vir hom: “Die Here sê: Die Arameërs het gesê dat Ek ’n berg-god is, nie ’n god van gelyk plekke nie. Daarom sal Ek jou laat wen teen hierdie baie soldate, en jy sal weet dat Ek die Here is.”

29Die twee groepe soldate het sewe dae lank oorkant mekaar in hulle tente gebly. Op die sewende dag het die oorlog begin, en die Israeliete het op een dag 100 000 Arameërs doodgemaak. Dit was voetsoldate. 30Die Arameërs wat oorgebly het, het in die stad Afeka in gevlug, maar toe het die muur van die stad omgeval op die 27 000 manne wat oorgebly het. Ben-Hadad het in die stad van die een kamer na die ander kamer gevlug. 31Sy offisiere het vir hom gesê: “Luister asseblief, ons het gehoor dat die konings van Israel *genadig is. Ons moet *rouklere aantrek en toue om ons koppe bind en ons moet na die koning van Israel toe gaan. Miskien sal hy jou nie doodmaak nie.”

32Hulle trek toe rouklere aan en hulle bind toue om hulle koppe en hulle gaan na die koning van Israel toe en hulle sê vir hom: “Jou *slaaf Ben-Hadad vra: ‘Jy moet my asseblief nie doodmaak nie.’ ”

En toe vra Agab: “Lewe Ben-Hadad nog? Hy is my broer!”

33Die manne het gesien Agab is vriendelik, en hulle het dadelik gesê: “Ja, Ben-Hadad is jou broer.”

Agab het gesê: “Gaan haal hom.”

Toe Ben-Hadad by hom kom, het Agab gesê hy moet by hom op die oorlogkar klim. 34Ben-Hadad het vir Agab gesê: “Agab, ek gee die stede terug wat my pa van jou pa gevat het, en jy kan vir jou plekke in die strate van Damaskus maak om goed te koop en te verkoop, soos my pa in Samaria gedoen het.”

Agab het vir Ben-Hadad gesê hy sal hom vry laat weggaan as hy ’n *ooreenkoms met hom maak. Ben-Hadad het dit gedoen, en Agab het hom laat gaan.

’n Profeet sê vir Agab die Here sal hom straf

35Een van die *profete het vir sy vriend gesê: “Slaan my, asseblief.”

Die Here het gesê hy moet dit sê. Maar sy vriend wou hom nie slaan nie, hy het dit nie gedoen nie. 36Toe sê die profeet vir sy vriend: “Jy het nie gedoen wat die Here gesê het nie. Daarom, wanneer jy hier weggaan van my, dan sal ’n leeu jou vang.”

En toe die vriend weggaan van die profeet, het ’n leeu hom gevang en hom doodgemaak. 37Die profeet kom toe by ’n ander vriend en hy sê vir hom: “Slaan my asseblief.”

Die man het hom stukkend geslaan. 38Toe gaan die profeet en hy wag op die pad vir die koning. Die profeet het sy oë met ’n lap toegebind sodat mense nie kan weet wie hy is nie. 39Toe die koning daar verbykom, skree die profeet en hy vra dat die koning hom moet help. Hy het gesê: “Ek het oorlog toe gegaan, en iemand het ’n man na my toe gebring en vir my gesê: ‘Jy moet hierdie man oppas. As hy vlug en wegkom, dan sal jy sterf in sy plek, of jy moet ’n *talent silwer betaal.’ 40Ek was besig met ander dinge en toe ek weer kyk, was die man nie meer daar nie.”

Toe sê die koning van *Israel vir die profeet: “Jy het self gesê wat met jou moet gebeur, jy is *skuldig.”

41Die profeet ruk toe vinnig die lap van sy oë af, en die koning van Israel sien dat hy een van die profete is. 42Toe sê die profeet vir die koning: “Die Here sê: Ek wou hê Ben-Hadad moet sterf, maar jy het hom vry laat weggaan. Daarom moet jy nou sterf in sy plek, en jou volk sal sterf in sy volk se plek.”

43Die koning van Israel was moedeloos en kwaad. Hy het weggegaan huis toe en hy het in Samaria gekom.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index