Search form

1 Konings 21

Isebel laat vir Nabot vermoor

1Daar het ’n tyd verbygegaan nadat hierdie dinge gebeur het. Nabot van Jisreël het ’n *wingerd gehad voor die paleis van koning Agab van Samaria. 2Agab het met Nabot gepraat en gesê: “Gee vir my jou wingerd. Ek sal vir jou ’n beter wingerd gee, of as jy wil, dan sal ek vir jou geld gee daarvoor. Ek wil daar ’n *kruie-tuin maak, want dit is naby, dit is voor my paleis.”

3Maar Nabot het vir Agab gesê: “Die Here moet my keer as ek dit wil doen. Ek sal nooit vir jou die grond gee wat ek van my *voorvaders gekry het nie.”

4Toe Agab by die huis kom, was hy moedeloos en kwaad omdat Nabot van Jisreël vir hom gesê het hy sal nie vir hom die grond gee wat hy van sy voorvaders gekry het nie. Agab het op sy bed gaan lê en hy het sy gesig na die muur gedraai. Hy wou nie eet nie. 5Sy vrou Isebel kom toe by hom en vra vir hom: “Hoekom is jy moedeloos en hoekom eet jy nie?”

6Hy sê toe vir haar: “Ek het met Nabot van Jisreël gaan praat en vir hom gevra: Gee vir my jou wingerd, ek sal jou betaal, of as jy wil, sal ek vir jou ’n ander wingerd gee. Maar hy het gesê nee, hy sal nie sy wingerd vir my gee nie.”

7Agab se vrou Isebel sê toe vir hom: “Jy is die koning van *Israel. Staan op en eet en wees vrolik. Ek sal ’n plan maak sodat jy Nabot van Jisreël se wingerd kan kry.”

8Isebel skryf toe briewe en sy sit Agab se naam en sy *seël daarop. Toe stuur sy die briewe na die leiers en die *amptenare wat saam met Nabot in sy stad gewoon het. 9In die briewe het sy geskryf: “Julle moet ’n *vasdag hou en julle moet vir Nabot voor die mense laat sit. 10Julle moet twee manne wat kan jok voor Nabot laat sit. Hulle moet sê Nabot het God en die koning *vervloek, en hulle moet sê hulle is *getuies dat hy dit gedoen het. Dan moet julle vir Nabot buitetoe neem en julle moet hom doodgooi met klippe.”

11Die leiers en die amptenare wat saam met Nabot in sy stad gewoon het, het gedoen wat Isebel vir hulle geskryf het in die briewe wat sy vir hulle gestuur het. 12Hulle het ’n vasdag gehou en hulle het vir Nabot voor die mense laat sit. 13Hulle het twee manne gebring wat kan jok en hulle het die manne voor Nabot laat sit. Die twee manne het toe gepraat teen Nabot en hulle het gesê Nabot het God en die koning vervloek. Toe het hulle vir Nabot uit die stad geneem en hulle het hom doodgegooi met klippe. 14Hulle het vir Isebel laat weet dat hulle vir Nabot doodgegooi het met klippe. 15Toe Isebel dit hoor, het sy vir Agab gesê: “Nabot lewe nie meer nie, hy is dood. Nou kan jy Nabot se wingerd gaan vat wat hy nie aan jou wou verkoop nie.”

Die Here stuur vir Elia na Agab toe om vir hom te sê wat met hom en sy familie sal gebeur

16Toe Agab hoor dat Nabot dood is, het hy gereedgemaak om na die *wingerd van Nabot van Jisreël te gaan om dit vir hom te vat. 17Elia van Tisbe het gehoor die Here sê vir hom: 18“Agab koning van *Israel in Samaria is by die wingerd van Nabot. Hy het daarnatoe gegaan om dit vir hom te vat. Jy moet gereedmaak en jy moet hom gaan ontmoet. 19Jy moet vir hom sê: Die Here vra: Agab, het jy iemand vermoor en het jy nou ook iemand se goed gevat? Op dieselfde plek waar die honde Nabot se bloed opgelek het, daar sal die honde jou bloed ook oplek.”

20Toe Elia dit vir Agab sê, het Agab gesê: “Het jy my gekry, my vyand?”

Elia het geantwoord: “Ja, ek het jou gekry, want jy het dit geniet om dinge te doen waarvan die Here nie hou nie. 21Daarom sê die Here: ‘Ek sal dit sleg laat gaan met jou, Ek sal jou *nageslag wegvee, Ek sal elke man en seun in die familie van Agab laat doodmaak, elkeen in die land Israel, getroud of ongetroud. 22Ek sal met jou *koningshuis doen wat Ek gedoen het met die koningshuis van Jerobeam seun van Nebat en met die koningshuis van Baesa seun van Agija. Ek doen dit omdat jy My hartseer gemaak het en omdat jy vir Israel sonde laat doen het.’ 23Die Here het ook oor Isebel gepraat. Hy het gesê: ‘Die honde sal vir Isebel opvreet by die muur van Jisreël. 24Wanneer iemand van Agab in die stad sterf, dan sal die honde hom opvreet, en wanneer iemand van Agab in die veld sterf, dan sal die voëls hom opvreet.’ ”

25Daar was nie nog iemand wat so sleg was soos Agab nie. Hy het dit geniet om dinge te doen waarvan die Here nie hou nie. Sy vrou Isebel het hom die dinge laat doen. 26Hy het dinge gedoen wat die Here haat, hy het *afgode gedien. Die Amoriete het dit voorheen ook gedoen, en toe het die Here hulle weggejaag uit die land en Hy het die land vir die Israeliete gegee.

Agab verneder hom voor die Here

27Toe Agab hoor wat Elia alles gesê het, het hy sy *klere geskeur en *rouklere om sy lyf gebind en hy het *gevas. Hy het geslaap met die rouklere. Hy het rondgeloop en hy het niks gepraat nie. 28Die Here sê toe vir Elia van Tisbe: 29“Het jy gesien dat Agab hom voor My *verneder het? Omdat hy dit gedoen het, sal Ek dit nie met hom sleg laat gaan terwyl hy nog lewe nie, maar wanneer sy seun koning is, dan sal Ek dit sleg laat gaan met sy *koningshuis.”

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index