Search form

1 Konings 3

Salomo trou met die farao se dogter

1Salomo het ’n *ooreenkoms gemaak met die *farao, die koning van Egipte. Hy het met die dogter van die farao getrou en hy het haar in die *Dawidstad laat woon totdat hy sy paleis en die *tempel en die muur rondom Jerusalem klaar gebou het.

Die Here gee vir Salomo wysheid

(Kyk ook 2 Kron 1:1-13)

2Die mense het in daardie tyd nog aangehou om op die *offer-plekke te *offer, want die *tempel vir die Here was nog nie gebou nie. 3Salomo self was lief vir die Here en hy het alles gedoen wat Dawid vir hom gesê het, maar hy het op die offer-plekke ge-offer en daar *wierook gebrand. 4Die koning het na Gibeon gegaan om daar te offer, want dit was die belangrikste offer-plek. Hy het op daardie *altaar 1 000 *brand-offers ge-offer. 5Daar in Gibeon het die Here een nag aan Salomo *verskyn en vir hom gesê: “Jy mag vir My enige iets vra, en Ek sal dit vir jou gee.”

6Salomo het toe gesê: “U het vir my en vir my pa Dawid gedoen wat U belowe het. My pa het aangehou om U te dien, en hy was ’n *regverdige en eerlike mens wat vir U gedien het. U het gedoen wat U vir hom belowe het en U het vir hom ’n seun gegee wat vandag op sy *troon sit. 7My God die Here, U het my die koning laat word in my pa se plek, maar ek is baie jonk en ek weet nie hoe om ’n leier te wees nie. 8Ek is hier saam met u volk, U het hulle gekies. Hulle is ’n groot volk, so groot dat ’n mens hulle nie kan tel en elkeen se naam kan noem nie. 9U moet my help om gehoorsaam te wees aan U sodat ek reg kan regeer oor u volk en sodat ek kan weet wat reg is en wat verkeerd is. Niemand kan oor hierdie belangrike volk van U regeer as U hom nie help nie.”

10Die Here was bly dat Salomo dit gevra het. 11Hy het vir Salomo gesê: “Jy het dit gevra, jy het nie ’n lang lewe gevra of om ryk te word nie, of dat jou vyande moet sterf nie. Jy het gevra dat jy sal weet wat reg is. 12Daarom sal Ek nou doen wat jy gevra het. Ek gee vir jou *wysheid en verstand, niemand vóór jou het soveel wysheid gehad nie en niemand ná jou sal soveel wysheid hê nie. 13Ek gee ook vir jou wat jy nie gevra het nie. Jy sal jou hele lewe lank die rykste wees van al die konings, en die mense sal jou meer respekteer as vir die ander konings. 14As jy lewe soos Ek wil hê en as jy doen wat Ek vir jou gesê het, soos jou pa Dawid ook gedoen het, dan sal Ek jou lank laat lewe.”

15Toe Salomo wakker word, het hy geweet die Here het met hom gepraat in ’n droom. Hy het na Jerusalem gegaan en hy het voor die *verbondskis van die Here gaan staan. Hy het brand-offers en *ete-offers gebring en hy het al sy *amptenare genooi om saam met hom te eet.

Die wysheid waarmee Salomo ge-oordeel het

16Eendag het twee vroue wat *prostitute was, na die koning toe gekom en voor hom kom staan. 17Die een vrou het gesê: “Asseblief, Meneer, ek en hierdie vrou woon in een huis, en ek het ’n kind gekry. Hierdie vrou was by my in die huis. 18Op die derde dag nadat ek die kind gekry het, het hierdie vrou ook ’n kind gekry. Ons was saam, niemand anders was by ons nie. Net ons twee was in die huis. 19Maar hierdie vrou se kind het daardie nag gesterf, sy het hom doodgelê. 20Toe staan sy in die middel van die nag op en sy vat mý kind terwyl ek slaap en sy sit hom by haar neer en sy sit haar seun wat dood is, by my neer. 21Toe ek die volgende oggend opstaan om my kind te laat drink, sien ek hy is dood. Maar toe ek die oggend goed na hom kyk, sien ek dit is nie die kind wat ek gekry het nie.”

22Maar die ander vrou het gesê: “Nee, die kind wat lewe, is mý kind. Die kind wat dóód is, is jóú kind.”

En die vrou wat eerste gepraat het, het gesê: “Nee, jou kind is die kind wat dood is, my kind is die kind wat lewe.”

So het hulle voor die koning gestaan en twis. 23Die koning dink toe: Hierdie vrou sê die seun wat lewe, is haar kind, en die seun wat dood is, is die ander vrou se kind. Daardie vrou sê: “Nee, jóú seun is dood, dit is mý seun wat lewe.”

24Toe sê die koning: “Bring vir my ’n swaard.”

Iemand het vir hom ’n swaard gebring, 25en die koning het gesê: “Kap die kind wat lewe, in twee stukke en gee vir elke vrou ’n stuk.”

26Die vrou wat die ma was van die kind wat lewe, het met die koning gepraat. Sy was jammer vir haar seun, en sy het gesê: “Asseblief, Meneer, gee die kind vir daardie vrou, moenie hom doodmaak nie.”

Maar die ander vrou het gesê: “Hy sal nie my kind wees nie en ook nie jou kind nie. Kap hom in twee stukke.”

27Toe sê die koning: “Gee die kind wat lewe vir die vrou wat sê hy moet lewe, moenie hom doodmaak nie, sý is die kind se ma.”

28Al die Israeliete het gehoor hoe die koning *ge-oordeel het. Hulle het die koning gerespekteer, want hulle het gesien dat God self vir die koning *wysheid gegee het om reg te kan oordeel.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index