Search form

1 Samuel 14

1Eendag het Jonatan seun van Saul vir sy *wapendraer gesê: “Kom, ek wil hê ons moet die Filistyne gaan aanval wat daar oorkant *wagstaan.”

Jonatan het nie vir sy pa vertel wat hy wou doen nie. 2Saul het onder ’n *granaatboom gesit wat in Migron was, naby die stad Gibea. Daar was omtrent 600 manne by hom. Hulle het ook nie geweet dat Jonatan gegaan het nie. 3Agija het die *skouer-kleed aangehad. Hy was die seun van Agitub, die broer van Ikabod. Ikabod was die seun van Pinehas, en Pinehas was die seun van Eli, *die priester van die Here in Silo. 4Jonatan moes oor die bergpas gaan om by die groep Filistyne te kom. Daar was ’n skerp rots langs elke kant van die bergpas. Die naam van die een rots was Boses en die naam van die ander rots was Senne. 5Die een rots het soos ’n pilaar gestaan, langs die noordekant van die bergpas, naby Mikmas, en die ander rots was langs die suidekant van die bergpas, naby Geba. 6Jonatan het vir sy wapendraer gesê: “Kom ons gaan op na daardie *heidene toe. Miskien sal die Here ons help, want niks kan die Here keer wanneer Hy iemand wil red nie. Hy gebruik baie mense of min mense.”

7Jonatan se wapendraer het vir hom gesê: “Jy moet alles doen wat jy dink is reg. Gaan, en ek sal doen wat jy doen.”

8Toe sê Jonatan: “Wanneer ons opgaan na hulle toe, dan moet ons só loop dat hulle ons sien. 9As hulle vir ons sê: ‘Bly daar, ons kom na julle toe,’ dan moet ons staan waar ons is, ons moenie opgaan na hulle toe nie. 10Maar as hulle vir ons sê: ‘Kom op na ons toe,’ dan moet ons opgaan, want dit sal vir ons wys dat die Here ons sal laat wen teen hulle.”

11Jonatan en sy wapendraer het só geloop dat die Filistyne kon sien hulle kom, en die Filistyne het gesê: “Kyk, daar kom *Hebreërs uit die gate waar hulle weggekruip het.”

12Die manne van die groep Filistyne het vir Jonatan en sy wapendraer gesê: “Kom op na ons toe, ons sal vir julle wys wie is die sterkste.”

Toe sê Jonatan vir sy wapendraer: “Kom saam met my, want die Here sal ons laat wen teen hulle.”

13Jonatan het op sy hande en voete opgeklim en sy wapendraer het agter hom gekom. Jonatan het die Filistyne met sy swaard gekap, en hulle het op die grond geval, en sy wapendraer het die Filistyne agter Jonatan doodgemaak. 14Jonatan en sy wapendraer het daardie eerste dag omtrent 20 Filistyne doodgemaak. Die grond waarop hulle die Filistyne doodgemaak het, was omtrent so groot soos ’n halwe *ploeg-akker. 15Die Filistyne in die kamp het almal baie bang geword, en die Filistyne wat goed moes bymekaarmaak om weg te vat, het gebewe. Almal in die land was baie bang, want hulle het groot geskrik.

Die Israeliete oorwin die Filistyne

16Saul se *wagte in Gibea in die land Benjamin het gesien dat die Filistyne vlug en dat hulle heen en weer hardloop. 17Saul het gesê: “Tel hoeveel manne hier is en kyk wie is nie hier nie.”

Hulle het getel, en hulle het gesien Jonatan en sy *wapendraer was nie daar nie. 18Saul het vir die *priester Agitub gesê: “Bring die *kis van God nader.”

Die kis was daardie dag by die Israeliete. 19Maar Saul was besig om met die priester te praat, toe hoor hulle die Filistyne skree harder en harder en hulle sien dat die Filistyne heen en weer hardloop. Saul sê toe vir die priester: “Los die kis.”

20Saul en al die manne het geskree om die oorlog te begin en hulle het gegaan om die Filistyne aan te val. Die Filistyne was besig om mekaar dood te maak, en alles was baie deurmekaar. 21Die *Hebreërs wat voorheen saam met die Filistyne was en wat saam met hulle gekom het om oorlog te maak, het nou na die Israeliete toe gekom wat by Saul en Jonatan was. 22Al die Israeliete wat weggekruip het in die Efraim-berge, het gehoor dat die Filistyne gevlug het. Hulle het ook die Filistyne gevolg en gejaag. 23Die Here het die Israeliete daardie dag gered. Hulle het oorlog gemaak tot verby die stad Bet-Awen.

Saul sê dat iemand wat voor die aand eet, moet sterf

24Toe die manne van Israel daardie dag nader kom, het Saul gewaarsku en gesê: “Ek *vervloek die man wat voor vanaand eet, hy sal sterf, want ek wil eers my vyande straf.”

Nie een van die manne het toe daardie dag geëet nie. 25Hulle het in ’n bos gekom, en daar was heuning in die grond. 26Toe die manne in die bos kom, sien hulle daar drup baie heuning, maar niemand het daarvan geëet nie, want hulle was bang vir wat Saul gesê het. 27Maar Jonatan het nie gehoor toe sy pa dit vir die manne gesê het nie. Hy het ’n kierie by hom gehad. Hy het die kierie se punt in die heuning gesteek en hy het die heuning afgelek. Hy het dadelik baie beter gevoel. 28Een van die manne het vir hom gesê: “Jou pa het gesê die manne mag nie vandag eet nie, en die man wat eet, sal sterf. Nou is die manne swak van die honger.”

29Jonatan het gesê: “My pa bring die dood oor die land. Kyk, ek het van die heuning geproe en ek voel nou baie beter. 30As die manne vandag geëet het van die goed wat hulle gevat het van die vyande, dan sou dit met hulle ook baie beter gegaan het. Maar nou het hulle nie baie Filistyne doodgemaak nie.”

31Die Israeliete het daardie dag teen die Filistyne geveg van die stad Mikmas tot by Ajalon, en hulle was baie moeg. 32Die manne het van die skape en bokke en beeste gevang wat hulle gevat het van die Filistyne. Hulle het die diere op die grond geslag en hulle het die vleis geëet wat vol bloed was. 33Iemand het vir Saul gaan sê: “Jy moet kyk, die manne doen sonde teen die Here, hulle *eet vleis wat vol bloed is.”

Saul het gesê: “Julle is *ontrou aan die Here. Julle moet vandag ’n groot klip hiernatoe rol. 34Dan moet julle vir al die manne sê elkeen moet sy bees of sy skaap bring en hy moet dit hier slag en eet. Hulle moenie sonde doen teen die Here nie, hulle moenie vleis eet wat vol bloed is nie.”

Al die manne het toe in die nag hulle diere gebring en daar geslag. 35Saul het ’n *altaar vir die Here gebou. Dit was die eerste maal dat hy ’n altaar vir die Here gebou het.

Die manne red vir Jonatan

36Daarna het Saul gesê: “Kom ons gaan vannag en ons veg teen die Filistyne en vat hulle goed. Ons moet aanhou tot die oggend, ons moenie een van hulle laat aanhou lewe nie.”

Die manne het gesê: “Jy moet doen wat jy dink is reg.”

Maar die *priester het gesê: “Ons moet eers hier voor God kom staan en vir Hom vra wat ons moet doen.”

37Saul het toe vir God gevra: “Moet ons die Filistyne gaan aanval? Sal U ons laat wen teen hulle?”

Maar God het daardie dag nie vir Saul geantwoord nie. 38Saul het toe gesê: “*Offisiere, julle moet hiernatoe kom, ons moet uitvind wie hierdie sonde gedoen het. 39Want die man wat die sonde gedoen het, sal sterf, dit is seker, so seker soos die Here lewe, Hy wat vandag vir Israel gered het. Die man sal sterf, ook as dit my seun Jonatan is.”

Nie een van die manne het hom geantwoord nie. 40Hy het vir al die Israeliete gesê: “Julle moet hier staan, en ek en my seun Jonatan sal daar anderkant staan.”

Die manne het vir Saul gesê: “Jy moet doen wat jy dink is reg.”

41Saul het vir die Here gesê: “God van Israel, sê vir ons die waarheid, sê wie is *skuldig.”

Die Here het gesê dit is Jonatan of Saul, nie die manne nie. 42Toe sê Saul vir die priester: “Vra nou wie is skuldig, ek of my seun Jonatan.”

Die Here het gesê dit is Jonatan. 43Saul sê toe vir Jonatan: “Vertel vir my wat jy gedoen het.”

Jonatan het vir hom gesê: “Ek het net ’n bietjie heuning geproe wat aan die punt van my kierie was. Hier is ek, ek sal sterf.”

44Toe sê Saul: “Jonatan, so seker soos die Here lewe, jy moet sterf.”

45Maar die manne het vir Saul gesê: “Moet Jonatan sterf? Nee, nooit nie! Dit is hý wat die Israeliete gehelp het om te wen! So seker soos die Here lewe, daar sal nie een haar van Jonatan se kop op die grond val nie, want God het hom gehelp.”

So het die manne vir Jonatan gered. Hy het nie gesterf nie. 46Saul het opgehou om die Filistyne te jaag, en die Filistyne het teruggegaan na hulle land.

Saul maak oorlog teen die vyande van die Israeliete

47Nadat Saul koning geword het oor die Israeliete, het hy oorlog gemaak teen al sy vyande rondom die land Israel: teen die Moabiete, die Ammoniete, die Edomiete, die konings van die land Soba, en die Filistyne. Hy het oral gewen teen die vyande. 48Hy het sy manne geneem en hulle het die Amalekiete oorwin. So het hy die Israeliete gered van almal wat altyd hulle goed kom vat het.

49Saul se seuns was Jonatan, Jiswi en Malki-Sua, en sy twee dogters se name was Merab en Mikal. 50Saul se vrou was Aginoam dogter van Agimaäs. Die *hoof van Saul se leër was Abner. Abner se pa was Ner. Ner was Saul se oom. 51Saul se pa was Kis. Kis en Ner was die seuns van Abiël. 52Die oorlog teen die Filistyne het aangehou so lank soos Saul koning was, en hy het elke man wat kon oorlog maak, saam met hom geneem.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index