Search form

1 Samuel 17

Die Filistyn Goliat

1Die Filistyne het hulle manne laat bymekaarkom om oorlog te maak. Hulle het bymekaargekom by die stad Soko in die land Juda, en hulle het hulle tente opgeslaan by die stad *Efes-Dammim, tussen Soko en Aseka. 2Saul en die manne van Israel het ook bymekaargekom. Hulle het hulle tente opgeslaan in die vallei waar die groot boom is, en hulle het in rye gereedgestaan om oorlog te maak teen die Filistyne. 3Die Filistyne was teen een berg, en die Israeliete was teen ’n ander berg. Daar was ’n klein vallei tussen hulle. 4’n *Voorvegter het uit die Filistyne se kamp gekom. Sy naam was Goliat en hy het uit die stad Gat gekom. Hy was *ses el en ’n span lank. 5Op sy kop was ’n *helm van *brons en hy het ’n *harnas van brons-plate aangehad. Die harnas het 5 000 *sikkels geweeg. 6Om sy bene was brons-plate, en ’n brons-spies het tussen sy skouers gehang. 7Die houtsteel van sy spies was so groot soos die *balk van ’n *weefstoel, en die ysterlem van die spies het *600 sikkels geweeg. Voor hom het ’n man geloop wat sy *skild gedra het. 8Goliat het gaan staan. Hy het vir die Israeliete geskree en hy het gesê: “Hoekom kom staan julle in rye om oorlog te maak? Ek is ’n Filistyn en julle is die mense wat vir Saul werk. Julle moet ’n man kies en julle moet hom na my toe laat kom. 9As hy teen my kan veg en as hy my wen, dan sal ons julle *slawe wees. Maar as ek beter is as hy en as ek hom wen, dan sal julle ons slawe wees en julle sal vir ons werk.”

10Die Filistyn het gesê: “Ek sê nou vir julle: Julle Israeliete beteken niks. Julle moet vir my ’n man stuur sodat ons teen mekaar kan veg.”

11Saul en al die Israeliete het gehoor wat die Filistyn sê, en hulle het geskrik en baie bang geword.

Dawid kom na die kamp van die Israeliete

12Dawid was die seun van ’n man uit Efrat, by die stad Betlehem in die land Juda. Die man se naam was Isai, en hy het ag seuns gehad. Isai was al oud toe Saul koning was. 13Sy drie oudste seuns het saam met Saul gaan oorlog maak. Hulle was Eliab, die oudste seun, en Abinadab en Samma. 14Dawid was die jongste seun. Sy drie oudste broers het saam met Saul gegaan. 15Dawid was partymaal by Saul, en partymaal by Betlehem om sy pa se skape en bokke op te pas. 16Die Filistyn Goliat het 40 dae lank elke oggend en aand nader gekom na Saul en sy manne toe en hy het gereedgestaan om te veg.

17Isai het vir sy seun Dawid gesê: “Jy moet asseblief hierdie *efa gebraaide koring en hierdie tien brode neem en jy moet dit vir jou broers in die kamp bring. 18En hierdie tien stukke kaas moet jy vir hulle *offisier bring. Jy moet kyk hoe dit met jou broers gaan en jy moet iets saambring wat vir my sal wys dat hulle nog lewe.”

19Saul en die broers van Dawid en die manne van Israel was in die vallei waar die groot boom is. Hulle was daar om oorlog te maak teen die Filistyne. 20Dawid het vroeg die volgende oggend opgestaan en hy het die skape en bokke by ’n skaapwagter gelos. Hy het toe gegaan en gedoen wat Isai gesê het en hy het by die kamp gekom. Die manne was besig om in rye te gaan staan en hulle het geskree dat die oorlog moet begin. 21Die Israeliete het in rye gaan staan, en die Filistyne het oorkant die Israeliete in rye gaan staan. 22Dawid het die goed wat hy saamgebring het, gelos by die man wat die goed moes oppas, en hy het na die rye manne toe gehardloop. Toe hy daar kom, het hy vir sy broers gevra hoe dit gaan. 23Die *voorvegter se naam was Goliat. Hy het vorentoe gekom terwyl Dawid besig was om met sy broers te praat. Goliat was ’n Filistyn wat uit die stad Gat gekom het. Hy het weer gespog, soos voorheen, en Dawid het dit gehoor. 24Al die manne van Israel het teruggestaan toe hulle die man sien. Hulle was baie bang. 25Hulle het gesê: “Sien julle hierdie man wat vorentoe kom? Hy kom om vir die Israeliete te sê dat hulle niks beteken nie. Die koning sal die man wat hom wen, baie ryk maak. Die koning sal ook sy dogter met die man laat trou, en die man se familie sal nie meer vir die koning moet werk soos die ander Israeliete nie.”

26Dawid het vir die manne wat by hom gestaan het, gevra: “Wat sal die koning doen vir die man wat hierdie Filistyn wen sodat hy nie meer die Israeliete sal spot nie? Want wie is hierdie Filistyn? Hy is ’n *heiden. Hoekom sê hy die soldate van die God wat lewe, beteken niks?”

27Die manne het vir Dawid gesê wat die koning sal doen vir die man wat die Filistyn oorwin. 28Dawid se oudste broer Eliab het gehoor toe Dawid met die manne praat. Eliab het kwaad geword vir Dawid en hy het gesê: “Hoekom het jy hiernatoe gekom, en by wie het jy daardie skape en bokke in die veld gelos? Ek weet jy is parmantig en skelm. Jy het net gekom om te kyk hoe ons veg.”

29Dawid het gesê: “Wat het ek verkeerd gedoen? Ek het net gevra.”

30Dawid het weggedraai van Eliab. Hy het dieselfde vir die ander manne gevra, en hulle het vir hom dieselfde geantwoord.

Dawid maak vir Goliat dood

31Party manne het gehoor wat Dawid sê, en hulle het dit vir koning Saul gaan vertel. Saul het vir Dawid laat roep. 32Dawid het vir Saul gesê: “Niemand moet bang wees vir hierdie Filistyn nie. Ek sal teen hom gaan veg.”

33Saul het vir Dawid gesê: “Jy kan nie teen hom gaan veg nie, want jy is ’n kind en hy is ’n man wat oorlog maak vandat hy jonk was.”

34Dawid het vir Saul gesê: “Ek was ’n wagter by my pa se skape en bokke, en wanneer ’n leeu of ’n beer gekom het en een van die skape weggedra het, 35dan het ek hom gejaag en hom geslaan en die skaap uit sy bek geruk. En wanneer hy my wou byt, dan het ek hom aan sy baard gegryp en hom doodgeslaan. 36Ek het leeus én bere oorwin, en hierdie Filistyn, hierdie *heiden, sal soos een van hulle wees, want hy het gesê die manne van die God wat lewe, beteken niks.”

37Dawid het gesê: “Die Here wat my gered het van leeus en bere, dit is Hy wat my sal red van hierdie Filistyn.”

Saul het vir Dawid gesê: “Goed, jy mag gaan. Ek bid dat die Here jou sal help.”

38Saul het toe sy klere geneem en hy het dit vir Dawid gegee om aan te trek. Saul het sy *helm van *brons op Dawid se kop gesit en hy het gesê Dawid moet die *harnas aantrek. 39Dawid het sy swaard bo-oor die klere vasgemaak met ’n belt en hy het probeer loop, want hy het dit nog nooit gedoen nie. Maar toe sê hy vir Saul: “Ek kan nie met hierdie swaar goed loop nie, ek het dit nog nooit gedoen nie.”

Dawid het toe Saul se klere uitgetrek. 40Hy het sy kierie geneem en hy het vyf gladde klippe in die sloot gaan soek. Hy het dit in sy skaapwagter-sak gesit. Toe het hy nader gegaan na die Filistyn toe en hy het sy *slingervel in sy hand vasgehou. 41Die Filistyn het nader gekom na Dawid toe. Die man wat sy *skild gedra het, was voor hom. 42Toe die Filistyn vir Dawid sien, het hy gedink Dawid beteken niks, want Dawid was ’n jong seun. Hy was gesond en mooi. 43Die Filistyn het vir Dawid gesê: “Dink jy ek is ’n hond? Hoekom kom jy met ’n kierie na my toe? Ek *vervloek jou, my *gode sal jou laat sterf.”

44Hy het vir Dawid gesê: “Kom hier, ek sal jou vleis vir die voëls en die wilde diere gee.”

45Dawid het vir die Filistyn gesê: “Jy kom na my toe met ’n swaard en met spiese, maar ek kom na jou toe omdat die Here my gestuur het, die Here wat oor alles regeer. Hy is die God van die manne van Israel. Jy het gesê hulle beteken niks. 46Vandag sal die Here my laat wen teen jou, en ek sal jou oorwin en jou kop afkap. Ek sal die dooie liggame van die Filistyne vir die voëls en die wilde diere gee. Al die mense op die aarde sal weet daar is ’n God in die land Israel. 47Almal wat hier bymekaar is, sal weet dat dit die Hére is wat mense red. Hy gebruik nie swaarde en spiese wanneer Hy hulle red nie. Dit is Hý wat besluit wat gebeur in ’n oorlog en Hy sal ons laat wen teen julle.”

48Toe die Filistyn gereedmaak en nader kom om teen Dawid te veg, het Dawid vinnig vorentoe gehardloop om by hom te kom. 49Dawid het ’n klip uit sy sak gehaal en hy het dit met die slingervel gegooi. Hy het die klip so hard teen die Filistyn se voorkop gegooi, dat dit in sy kop ingegaan het. Die Filistyn het op sy gesig op die grond geval. 50Dawid het net die slingervel en een klip gebruik, maar hy was sterker as die Filistyn. Hy het die Filistyn oorwin en hy het hom doodgemaak, en hy het nie ’n swaard in sy hand gehad nie. 51Dawid het gehardloop en by die Filistyn gaan staan. Hy het die Filistyn se swaard uit sy leersak getrek en hy het hom doodgemaak en sy kop afgekap. Toe die Filistyne sien dat hulle held dood is, het hulle gevlug. 52Die manne van Israel het die Filistyne gejaag tot waar ’n mens by die vallei kom, en tot by die *poorte van die stad Ekron. Baie Filistyne was dood en hulle het gelê op die pad na die stad Saärajim en tot by die stede Gat en Ekron. 53Die Israeliete het toe opgehou om die Filistyne te jaag en hulle het teruggekom en die goed in die Filistyne se kamp gevat. 54Dawid het die Filistyn se kop gevat en hy het dit na Jerusalem gebring, maar hy het die Filistyn se wapens in sy eie tent gaan sit.

55Toe Saul gesien het Dawid gaan om met die Filistyn te veg, het hy vir Abner, die *hoof van die leër, gevra: “Abner, wie se seun is daardie jongman?”

Abner het geantwoord: “Nee, koning, ek weet glad nie.”

56Die koning het gesê: “Jy moet uitvind wie se seun hy is.”

57Nadat Dawid die Filistyn oorwin het, het hy teruggekom en Abner het hom na die koning toe gebring. Dawid het die Filistyn se kop in sy hand vasgehou. 58Saul het vir hom gevra: “Jongman, wie is jou pa?”

En Dawid het gesê: “My pa is Isai van Betlehem.”

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index