Search form

1 Samuel 28

Saul praat met Samuel se gees

1In daardie tyd het die Filistyne hulle manne laat bymekaarkom om oorlog te maak teen die Israeliete. Akis het vir Dawid gesê: “Jy moet goed verstaan, jy en jou manne sal nou saam met my moet gaan om oorlog te maak.”

2Dawid het vir Akis gesê: “Ja, goed, jy sal self sien ek sal jou dien.”

Akis sê toe vir Dawid: “Goed, dan moet jy my altyd oppas.”

3Samuel het voor daardie tyd gesterf. Al die Israeliete het oor hom *gerou en hulle het hom begrawe in Rama, die stad waar hy gewoon het. Voor daardie tyd het Saul al die vroue wat met die geeste van dooie mense gepraat het en ook die *waarsêers weggejaag uit die land.

4Die Filistyne het bymekaargekom en hulle het hulle tente opgeslaan by die stad Sunem. Saul het al die Israeliete laat bymekaarkom en hy het sy tente opgeslaan op Gilboa-berg. 5Saul het baie bang geword toe hy die tente van die Filistyne sien en hy het gebewe. 6Hy het vir die Here gevra wat hy moet doen, maar die Here het hom nie geantwoord nie. Die Here het nie met Saul gepraat in ’n droom of met die *urim nie. Hy het ook nie vir die *profete gesê wat hulle vir Saul moet sê nie. 7Saul het toe vir sy *amptenare gesê: “Julle moet vir my sê waar is ’n vrou wat met die geeste van dooie mense praat, ek wil vir haar vra wat ek moet doen.”

Sy amptenare het vir hom gesê: “Daar is so ’n vrou in En-Dor.”

8Saul het ander klere aangetrek sodat niemand kon sien wie hy is nie, en hy en twee manne het na die vrou toe gegaan. Hulle het in die nag by die vrou gekom, en Saul het vir haar gesê: “Jy moet vir my help, jy moet praat met die gees van ’n dooie man. Ek sal vir jou sê wie jy moet laat kom.”

9Maar die vrou het vir Saul gesê: “Luister na my, jy weet self wat Saul gedoen het. Hy het die vroue wat met die geeste van dooie mense praat en die waarsêers uit die land gejaag. Hoekom wil jy hê ek moet iets doen waaroor hy my sal doodmaak?”

10Saul het vir haar voor die Here belowe en gesê: “So seker soos die Here lewe, jy sal nie hieroor *skuldig wees nie.”

11Die vrou het gevra: “Wie moet ek vir jou laat kom?”

En Saul het gesê: “Jy moet Samuel vir my laat kom.”

12Toe die vrou vir Samuel sien, het sy hard geskree en vir Saul gesê: “Hoekom het jy my *bedrieg? Jy is Saul.”

13Die koning het vir haar gesê: “Jy moenie bang wees nie. Wat sien jy?”

Die vrou het gesê: “Ek sien ’n gees wat uit die aarde kom.”

14Saul het vir haar gevra: “Hoe lyk hy?”

En sy het gesê: “Hy lyk soos ’n ou man, en hy dra ’n *bo-kleed.”

Saul het toe geweet dit is Samuel. Saul het gekniel en hy het laag gebuig. 15Samuel het vir Saul gesê: “Hoekom is jy lastig? Hoekom laat jy my kom?”

Saul sê toe: “Ek het baie probleme. Die Filistyne maak oorlog teen my, en God het weggegaan van my. Hy het my nie geantwoord nie, nie met die profete nie en nie met drome nie. Toe het ek vir jóú geroep, jy moet vir my sê wat ek moet doen.”

16Samuel het gesê: “Die Here het weggegaan van jou en Hy het jou vyand geword. Hoekom vra jy nou vir mý om jou te help? 17Die Here het gedoen wat Hy gesê het. Hy het my gestuur om vir jou te sê jy sal nie meer koning wees nie, Hy sal ’n ander man koning maak. Daardie man is Dawid. 18Die Here het dit gedoen omdat jy ongehoorsaam was aan Hom. Hy was kwaad vir die Amalekiete, en jy het nie gedoen wat Hy vir jou gesê het nie. 19Die Here sal die Filistyne laat wen teen die Israeliete en teen jou, en môre sal jy en jou seuns by my wees. Die Here sal die Filistyne laat wen teen die manne van Israel.”

20Saul het plat op die grond geval. Hy was baie bang oor wat Samuel gesê het. Hy was ook swak, want hy het die hele dag en nag niks geëet nie. 21Die vrou het na Saul toe gekom en sy het gesien hoe bang hy is. Sy het vir hom gesê: “Luister na my, ek het gedoen wat jy gevra het. Dit was baie gevaarlik vir my, maar ek het geluister na jou. 22Nou moet jy luister na mý. Ek sal vir jou ’n bietjie kos bring sodat jy kan eet en sterk kan word voordat jy verder gaan.”

23Maar Saul wou dit nie doen nie, hy het gesê: “Nee, ek sal nie eet nie.”

Maar sy manne en die vrou het aangehou sê hy moet eet, toe het Saul geluister na hulle. Hy het opgestaan en hy het op ’n bank gaan sit. 24Die vrou het ’n vet jong bees by die huis gehad, en sy het dit gou geslag. Sy het meel geneem en geknie en *ongesuurde brood gebak. 25Sy het dit gebring en voor Saul en sy manne neergesit. Hulle het geëet en hulle het dieselfde nag weggegaan.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index