Search form

1 Samuel 30

Die Amalekiete verbrand Siklag en vat die mense weg, Dawid oorwin die Amalekiete en bring die mense terug

1Dawid en sy manne het op die derde dag by die stad Siklag aangekom. Terwyl hulle weg was, het die Amalekiete die mense in die Suid-land en in Siklag aangeval en hulle het alles gevat wat hulle kon kry. Hulle het Siklag aangeval en hulle het die stad verbrand. 2Hulle het al die vroue wat in die stad was, gevang en weggevat. Hulle het niemand doodgemaak nie, hulle het die vroue voor hulle laat loop en hulle het verder gegaan.

3Dawid en sy manne kom toe by die stad, en toe was dit afgebrand. Hulle vroue en hulle seuns en dogters was weg. 4Dawid en die manne by hom het hard gehuil, hulle het aangehou totdat hulle nie meer kon huil nie. 5Dawid se twee vroue was ook weg. Sy vroue was Aginoam van die stad Jisreël en Abigajil, die weduwee van Nabal van die stad Karmel. 6Dit was gevaarlik vir Dawid, want die manne het gesê hulle wil hom doodgooi met klippe. Die manne was baie hartseer oor hulle kinders. Maar Dawid het sterk gebly, want sy God die Here was by hom.

7Dawid het vir die *priester Abjatar seun van Agimelek gesê: “Bring die *skouer-kleed na my toe.”

Abjatar het die skouer-kleed vir Dawid gebring 8en Dawid het vir die Here gevra: “Hierdie mense het ons vroue en kinders en ons goed weggevat, moet ek hulle volg en jaag? Sal ek hulle kan vang?”

Die Here het vir hom gesê: “Jy moet hulle volg en jaag, want jy sal hulle kan vang en jy sal jou mense red. Dit is seker.”

9Dawid en 600 manne het gegaan en hulle het by die Besor-rivier gekom. Party van die manne het daar gebly. 10Dawid en 400 manne het die Amalekiete gevolg, en 200 manne was te moeg om oor die rivier te gaan, hulle het daar gebly. 11Dawid se manne het ’n Egiptenaar in die veld gekry en hulle het hom na Dawid toe geneem. Hulle het vir hom kos en water gegee 12en droë vye en twee koeke rosyne. Hy het geëet en hy het toe beter gevoel, want hy het drie dae lank niks geëet of gedrink nie. 13Dawid het vir hom gevra: “Aan wie behoort jy? En van waar kom jy?”

Hy het gesê: “Ek is ’n Egiptenaar, ek is die *slaaf van ’n Amalekiet. My eienaar het my langs die pad gelos, want ek was siek. Dit was drie dae gelede. 14Ons het die mense in die Suid-land van die Filistyne aangeval. Ons het hulle goed gevat en ook mense in party stede van Juda en in die Suid-land waar die Kaleb-families woon. Ons het Siklag verbrand.”

15Dawid vra toe vir die man: “Sal jy my na hierdie Amalekiete toe neem?”

Die man het gesê: “Jy moet eers voor die Here belowe dat jy my nie sal doodmaak of dat jy my vir my eienaar sal teruggee nie, dan sal ek jou na hierdie Amalekiete toe neem.”

16Die man het hulle na die Amalekiete toe geneem. Die Amalekiete was oral besig om *fees te vier en te eet en te drink van die baie goed wat hulle gevat het in Filistyne-land en in die land Juda. 17Dawid het hulle aangeval van vroeg die oggend tot die aand van die volgende dag. Net 400 jongmanne het nie gesterf nie. Hulle het op kamele geklim en gevlug. 18Dawid het alles teruggekry wat die Amalekiete gevat het, ook sy twee vroue. 19Niks was weg nie, Dawid het alles teruggebring, kinders en grootmense, seuns en dogters, en al die goed wat die Amalekiete gevat het. 20Hy het die skape en bokke en beeste gevat en hy het hulle voor die ander diere verder gejaag. Die mense het gesê: “Dit is die goed wat Dawid gevat het.”

21Dawid het by die 200 manne gekom wat te moeg was om saam te gaan en wat hy by die Besor-rivier laat bly het. Die 200 manne het vir Dawid en die manne by hom kom ontmoet, en toe Dawid by hulle kom, het hy gevra hoe dit met hulle gaan. 22’n Paar van die manne wat saam met Dawid gegaan het, was slegte en wrede mense. Hulle het gesê: “Hierdie manne het nie saam met ons gegaan nie. Ons sal nie vir hulle van die goed gee wat ons gevat het nie. Elke man kan net sy vrou en kinders neem en dan moet hy gaan.”

23Maar Dawid het gesê: “Vriende, julle moenie so doen met die goed wat die Here vir ons gegee het nie. Hy het ons beskerm en Hy het ons laat wen teen die Amalekiete wat na ons toe gekom het. 24Niemand moet luister na wat julle sê nie. Die man wat oorlog toe gegaan het en die man wat by die goed gebly het, moet dieselfde kry.”

25Dawid het daardie dag gesê die Israeliete moet dit altyd doen, en hulle doen dit nou nog. 26Toe Dawid terugkom in Siklag, het hy van die goed gestuur vir sy vriende, die leiers van Juda, en hy het vir hulle gesê: “Hier is vir julle ’n present, dit is party van die goed wat ons gevat het van die vyande van die Here.”

27Dawid het die presente gestuur na die mense in Bet-El, Ramot-Negeb, Jattir, 28Aroër, Sifmot, Estemoa, 29Rakal, die stede van die Jeragmeël-families en die Keniete, 30Gorma, Bor-Asan, Atak 31en Hebron. Dit was die plekke waar Dawid en sy manne rondgetrek het.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index