Search form

1 Samuel 9

Saul word koning

1Daar was ’n man van die *Benjamin-stam. Sy naam was Kis, en hy was die seun van Abiël seun van Serur seun van Bekorat seun van Afiag. Hy was ’n belangrike man in die Benjamin-stam. 2Kis het ’n seun gehad, die seun se naam was Saul. Saul was ’n mooi jongman, niemand van die Israeliete was mooier as hy nie, en hy was ’n kop langer as al die ander Israeliete.

3Kis se donkies het weggeraak, en hy het vir sy seun Saul gesê: “Jy moet asseblief een van die *slawe saam met jou neem en julle moet die donkies gaan soek.”

4Saul en die slaaf het by die Efraim-berge verbygegaan en toe verby die Salisa-distrik, maar hulle het nie die donkies gekry nie. Toe het hulle verby die Saälim-distrik en verby die Jemini-distrik gegaan, maar hulle het die donkies ook nie daar gekry nie. 5Toe hulle in die Suf-distrik kom, sê Saul vir die slaaf by hom: “Kom ons gaan terug, my pa sal vergeet van die donkies en hy sal bekommerd word oor ons.”

6Die slaaf het vir Saul gesê: “Nee wag, daar is ’n *man van God in hierdie stad. Die mense respekteer hom baie, want alles wat hy sê, gebeur soos hy gesê het. Kom ons gaan na hom toe, miskien kan hy vir ons sê waar ons moet soek.”

7Toe sê Saul vir die slaaf: “Maar as ons gaan, wat kan ons vir die man saamneem? Want die brood in ons sakke is op. Wat het ons wat ons vir die man van God kan gee?”

8Die slaaf het geantwoord: “Ek het nog ’n *kwart-sikkel silwer by my. Ek sal dit vir die man gee sodat hy vir ons kan sê waar ons moet soek.”

9Wanneer die mense in die volk Israel vir God iets wou vra, dan het hulle altyd gesê: “Kom ons gaan na die *siener toe.” Hulle het die *profete daardie tyd “sieners” genoem. 10Saul het vir die slaaf gesê: “Dit is goed, kom ons gaan.”

Hulle het toe na die stad gegaan waar die man van God was. 11Terwyl hulle teen die heuwel opgaan na die stad, kry hulle meisies wat uitgaan om water te skep. Hulle het vir die meisies gevra: “Is die siener hier?”

12Die meisies het geantwoord: “Ja, hy is hier voor. Hy het vandag na die stad gekom, want die mense moet vandag ’n *offer bring op die *offer-plek. Julle moet gou maak. 13Wanneer julle by die stad kom, dan sal julle hom kry voordat hy na die offer-plek gaan om saam met die mense te gaan eet. Die mense eet nie voordat hy gekom het nie, want hý moet eers vir die Here dankie sê vir die *offer-ete, en daarna eet die gaste. Maar julle moet nou gaan, dan sal julle hom daar kry.”

14Saul en die slaaf het toe na die stad gegaan, en toe hulle in die stad kom en begin rondkyk, kom Samuel daar aan om op te gaan na die offer-plek. 15Die dag voordat Saul gekom het, het die Here met Samuel gepraat en vir hom gesê: 16“Ek sal môre omtrent hierdie tyd ’n man na jou toe stuur uit die land Benjamin. Jy moet hom *salf om koning te wees oor my volk Israel, sodat hy my volk kan red van die Filistyne. Want Ek het gesien hoe dit met my volk gaan, en Ek het gehoor toe hulle geskree het en gevra het dat Ek hulle moet help.”

17Toe Samuel vir Saul sien, het die Here vir Samuel gesê: “Hier is die man oor wie Ek met jou gepraat het. Dit is hý wat oor my volk sal regeer.”

18Samuel was in die *poort en Saul het na hom toe gegaan. Saul het gevra: “Sê asseblief vir my waar is die siener se huis.”

19Samuel sê toe vir Saul: “Ek is die siener. Jy moet voor my loop na die offer-plek. Julle moet vandag saam met my eet. Ek sal jou môre-oggend laat gaan, en ek sal dan alles vir jou sê wat jy wil weet. 20Jy moenie bekommerd wees oor die donkies wat drie dae gelede weggeraak het nie. Die mense het hulle gekry. Maar al die Israeliete wag dat jy en jou familie hulle moet help.”

21Saul het vir Samuel gesê: “Ek is van die Benjamin-stam, die kleinste van die *stamme van Israel, en my familie is minder belangrik as al die ander families in die Benjamin-stam. Hoekom sê jy hierdie dinge vir my?”

22Samuel het Saul en sy slaaf saamgeneem en hy het hulle in die eetplek gebring. Daar was omtrent 30 gaste, en Samuel het vir Saul en sy slaaf laat sit op die belangrikste plekke. 23Samuel het vir die kok gesê: “Bring die vleis wat ek gesê het jy moet apart hou.”

24Die kok het die boud vleis gebring en hy het dit voor Samuel neergesit. Samuel het vir Saul gesê: “Kyk, ons het hierdie vleis apart gehou, ek sit dit voor jou neer. Jy moet dit eet, want ons het dit vir jou gebêre sodat jy dit vandag saam met die gaste kan eet.”

Saul het toe daardie dag saam met Samuel geëet. 25Daarna het hulle van die offer-plek afgegaan na die stad. Samuel het op sy huis se dak met Saul gepraat. 26Hulle het die volgende dag vroeg opgestaan. Toe dit begin lig word, het Samuel vir Saul op die dak geroep en gesê: “Jy moet opstaan, ek wil jou laat gaan.”

Saul het opgestaan, en hy en Samuel het uitgegaan buitetoe. 27Hulle het geloop en toe hulle amper uit die stad was, het Samuel vir Saul gesê: “Sê vir die slaaf hy moet verder gaan. Maar jý moet nou hier bly staan sodat ek vir jou kan sê wat God gesê het.”

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index