Search form

2 Kronieke 10

Rehabeam word koning, en die mense van Israel word opstandig teen hom

(Kyk ook 1 Kon 12:1-19)

1Rehabeam het na die stad Sigem gegaan, want al die Israeliete het daarnatoe gekom om hom koning te maak. 2Jerobeam seun van Nebat het dit gehoor. Hy was nog in die land Egipte, want hy het daarnatoe gevlug omdat hy bang was vir koning Salomo. Hy het daar gaan woon, 3maar die mense van *Israel het hom laat roep, en hy het gekom. Jerobeam en die hele volk Israel het met Rehabeam kom praat. 4Hulle het gesê: “Jou pa het ons baie hard laat werk. Jy moet ons nie so hard laat werk nie, dan sal ons vir jou werk.”

5Rehabeam het vir hulle gesê hulle moet eers weggaan en hulle moet oor drie dae terugkom. Hulle het toe weggegaan. 6Daar was *amptenare wat vir Salomo gewerk het toe hy gelewe het. Koning Rehabeam het vir hulle gevra wat hy moet doen. Hy het vir hulle gevra: “Wat sê julle? Wat moet ek vir hierdie mense antwoord?”

7Hulle het vir hom gesê: “As jy vandag goed wil wees vir hierdie mense en jy doen wat hulle wil hê en jy gee vir hulle ’n goeie antwoord, dan sal hulle jou altyd dien.”

8Maar Rehabeam wou nie luister na wat hulle vir hom gesê het nie. Hy het toe vir die jongmanne gaan vra wat saam met hom grootgeword het en wat sy amptenare was. 9Hy het vir hulle gevra: “Wat sê julle? Wat moet ek vir hierdie mense antwoord? Hulle het vir my gevra dat ek hulle nie so hard moet laat werk soos hulle vir my pa moes werk nie.”

10Die jongmanne wat saam met Rehabeam grootgeword het, het vir hom gesê: “Hierdie mense het vir jou gesê dat jou pa hulle baie hard laat werk het, en jy moenie vir hulle so hard laat werk nie. Jy moet vir hulle sê: ‘My pinkie is dikker as my pa se lyf. 11Daarom, my pa het julle hard laat werk, maar ek sal julle nog harder laat werk. My pa het julle regeer met gewone *swepe, ek sal julle regeer met swepe wat soos skerpioene byt.’ ”

12Rehabeam het voorheen vir die mense gesê hulle moet ná drie dae terugkom. Jerobeam en die hele volk het toe op die derde dag teruggekom na Rehabeam toe, 13en die koning het kwaai met hulle gepraat. Hy het nie geluister en gedoen wat die ouer leiers vir hom gesê het nie. 14Hy het gedoen wat die jongmanne vir hom gesê het. Rehabeam het gesê: “My pa het julle hard laat werk, maar ek sal julle nog harder laat werk. Hy het julle regeer met gewone swepe, ek sal julle regeer met swepe wat soos skerpioene byt.”

15Die koning het nie geluister na die volk nie, want die Here het dit so laat gebeur. Die Here wou doen wat Hy vir Jerobeam seun van Nebat gesê het toe Hy vir Agija van Silo gestuur het. 16Toe die koning nie na hulle luister nie, het al die mense van Israel vir die koning gesê:

“Ons is nie Dawid se familie nie,

die seun van Isai was nie een

van ons nie.

Mense van Israel, gaan terug

na julle tente!

Dawid, nou moet jy

jou eie huis oppas.”

Die mense van Israel het teruggegaan na hulle tente. 17Rehabeam was toe koning net van die Israeliete wat in die stede van Juda gewoon het. 18Adoram was die hoof van die mense wat vir die koning moes werk. Koning Rehabeam het vir Adoram gestuur na die mense van Israel toe, maar hulle almal het vir Adoram met klippe doodgegooi. Koning Rehabeam moes vinnig op sy *oorlogkar klim en na Jerusalem vlug. 19Dit is hoe die mense van Israel *opstandig geword het teen die *koningshuis van Dawid, en dit het so gebly tot nou toe.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index