Search form

2 Kronieke 18

Josafat by Agab van Israel

(Kyk ook 1 Kon 22:1-40)

1Koning Josafat was baie ryk, en almal het hom gerespekteer. Sy seun was getroud met ’n dogter van koning Agab. 2Josafat het ná ’n paar jaar vir Agab in die stad Samaria gaan kuier. Agab het ’n groot klomp skape en bokke en beeste geslag vir Josafat en die mense by hom. Agab het met Josafat gepraat en hy het gevra Josafat moet saam met hom oorlog gaan maak teen die stad Ramot in Gilead. Josafat het ja gesê. 3Koning Agab van *Israel het vir koning Josafat van *Juda gevra: “Sal jy saam met my gaan na die stad Ramot in Gilead?”

Josafat het gesê: “Ek sal saam met jou gaan, en jy kan my manne ook gebruik.”

4Josafat het ook vir die koning van Israel gesê: “Maar jy moet asseblief eers vra en luister na wat die Here sê.”

5Die koning van Israel sê toe al die *profete moet bymekaarkom. Daar was 400 profete, en hy vra toe vir hulle: “Moet ons oorlog gaan maak teen Ramot in Gilead of moet ek dit nie doen nie?”

Die profete het gesê: “Jy moet gaan. God sal jou laat wen.”

6Toe sê Josafat: “Is hier nog ’n profeet van die Here? Ons moet vir hom ook vra.”

7Die koning van Israel het vir Josafat gesê: “Ja, hier is nog ’n profeet. Dit is Miga seun van Jimla. Ons kan vir hom vra wat die Here sê, maar ek hou nie van die man nie, want die dinge wat hy sê, is nooit goed vir my nie, dit is altyd sleg.”

Josafat sê toe: “Die koning moenie so praat nie.”

8Die koning van Israel roep toe ’n *amptenaar en hy sê vir hom: “Gaan roep gou vir Miga seun van Jimla.”

9Die koning van Israel en koning Josafat van Juda het hulle koningsklere aangehad en elkeen het op sy *troon gesit by die *dorsvloer voor die *poort van Samaria. Al die profete was besig om vir hulle te sê wat sal gebeur. 10Sedekia seun van Kenaäna het vir hom ’n paar ysterhorings gemaak en hy het gesê: “Die Here sê: Met hierdie horings sal jy die Arameërs stoot totdat hulle almal dood is.”

11Al die ander profete het gesê dit sal so gebeur. Hulle het gesê: “Koning, jy moet gaan na die stad Ramot in Gilead. Jy sal wen, die Here sal die stad vir jou gee.”

12Die *boodskapper wat vir Miga moes gaan roep, het vir hom gesê: “Al die profete sê dit sal goed gaan met die koning. Jy moet asseblief ook soos hulle sê, jy moet sê dit sal goed gaan.”

13Miga het gesê: “So seker soos die Here lewe, ek sal sê wat my God vir my sê.”

14Toe Miga by die koning kom, vra die koning vir hom: “Miga, moet ons oorlog gaan maak teen die stad Ramot in Gilead of moet ons dit nie doen nie?”

Miga het geantwoord: “Koning, julle moet gaan. Julle sal wen, die Here gee die stad vir julle.”

15Maar toe sê die koning vir Miga: “Ek het baie maal vir jou gesê jy moet net die waarheid praat wanneer die Here jou stuur. Hoekom doen jy dit nie?”

16En toe sê Miga: “Ek het gesien die vyande het al die mense van Israel na al die kante toe op die berge gejaag. Hulle is soos skape wat nie ’n skaapwagter het nie. Die Here het gesê: ‘Hierdie mense het nie ’n koning nie. Hulle moet teruggaan, elkeen moet veilig na sy huis gaan.’ ”

17Die koning van Israel sê toe vir Josafat: “Ek het vir jou gesê dat die profeet Miga altyd sê dit sal sleg gaan met my, nie goed nie.”

18Miga het toe weer gepraat: “Luister wat sê die Here. Ek het gesien die Here sit op sy troon, en almal wat in die hemel is, staan by Hom, hulle staan regs en links langs Hom. 19En die Here het gesê: ‘Vir wie kan Ek stuur om vir Agab te *bedrieg? Daardie een moet sê Agab moet na Ramot in Gilead gaan, Ek wil hê Agab moet daar sterf.’ Almal wat in die hemel is, het daaroor met mekaar gepraat, 20en toe kom een van hulle en hy gaan staan voor die Here en hy sê: ‘Ek sal hom bedrieg.’ Toe vra die Here vir hom: ‘Hoe sal jy dit doen?’ 21en hy sê: ‘Ek sal gaan en ek sal ’n leuengees word. Ek sal vir al die profete sê om leuens te vertel vir koning Agab.’ Die Here het gesê: ‘Jy sal hom bedrieg, jy sal dit regkry. Gaan doen dit.’ 22Koning, daarom moet jy dit weet: Die Here het ’n leuengees laat kom in die mond van al hierdie profete van jou. Maar weet jy wat die Here regtig gesê het? Die Here het gesê dit sal sleg gaan met jou.”

23Toe kom Sedekia seun van Kenaäna nader en hy slaan vir Miga op sy kakebeen en hy vra: “Dink jy die gees wat van die Here gekom het, het weggegaan van my om met jóú te praat?”

24Miga het vir Sedekia gesê: “Jy sal dit sien daardie dag wanneer jy van een kamer na die ander kamer gaan om te probeer wegkruip.”

25Toe sê die koning van Israel: “Vat vir Miga na Amon die burgemeester en na prins Joas toe, 26en sê vir hulle die koning sê: ‘Julle moet hierdie man in die tronk sit en julle moet vir hom min kos en water gee totdat ek veilig terugkom.’ ”

27Miga sê toe: “Koning Agab, as jy regtig veilig sal terugkom, dan kom die woorde wat ek gesê het, nie van die Here nie.”

Miga het ook gesê: “Manne, julle moet almal luister na wat ek sê.”

28Die koning van Israel en koning Josafat van Juda het gegaan na die stad Ramot in Gilead. 29Die koning van Israel het vir Josafat gesê: “Ek sal ander klere aantrek sodat die vyande nie sal weet wie ek is nie en dan sal ek saam met die manne oorlog begin maak. Jy moenie jou koningsklere uittrek nie.”

Die koning van Israel het toe ander klere aangetrek en hy het saam met die manne oorlog begin maak. 30Die koning van Aram het *offisiere van die *oorlogkarre by hom gehad. Hy het vir hulle gesê: “Julle moet net die koning van Israel skiet. Julle moenie die ander manne skiet nie, dit maak nie saak of hulle belangrik of onbelangrik is nie.”

31En toe die offisiere van die oorlogkarre vir Josafat sien, het hulle gedink dit is die koning van Israel. Hulle het van al die kante gekom om hom te skiet. Josafat het geskree en gevra dat die Here hom moet help, en God het hulle laat wegdraai van hom. 32Toe die offisiere sien dit is nie die koning van Israel nie, het hulle opgehou om vir Josafat te jaag.

33Een van die Arameërs het ’n pyl geskiet. Hy het sommer in die lug geskiet, hy het nie geweet waarnatoe die pyl gaan nie. Hy het die koning van Israel raakgeskiet. Die pyl het ingegaan onder die plate van sy *harnas. Die koning het vir die man wat sy oorlogkar gedryf het, gesê: “Draai om en neem my uit die oorlog, want iemand het my raakgeskiet.”

34Maar almal het daardie dag so hard geveg dat die koning van Israel tot die aand op sy oorlogkar moes bly staan teen die Arameërs. Hy het gesterf toe die son ondergaan.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index