Search form

2 Kronieke 2

Salomo en koning Hiram van Tirus maak ’n ooreenkoms

(Kyk ook 1 Kon 5:1-12)

1Salomo het besluit om ’n *tempel te bou waar hulle die Naam van die Here kan *eer, en ook ’n paleis vir homself. 2Hy het besluit dat 70 000 mans die hout moet dra en dat 80 000 mans die klippe in die berge moes kap. Daar moes ook 3 600 hoofde wees. Hulle moes kyk dat die werkers hulle werk doen. 3Salomo het vir koning Hiram van Tirus ’n boodskap gestuur. Hy het gesê: “Jy het vir my pa Dawid sederhout gestuur sodat hy vir hom ’n paleis kon bou om in te woon. 4Nou wil ek ’n tempel bou om die Naam van my God die Here te eer. Ek wil die tempel aan Hom *wy sodat ons daar *wierook kan brand voor Hom, en sodat ons altyd *offer-brood op sy tafel kan sit, en sodat ons *brand-offers kan bring in die oggend en in die aand, op die *Sabbatdae, die *Nuwemaan-feeste en die ander feeste vir ons God die Here. Dit is dinge wat die volk Israel altyd moet doen. 5Die gebou wat ek wil bou, moet groot wees, want ons God is groter as ander *gode. 6Niemand kan regtig vir Hom ’n huis bou nie, want daar is nie genoeg plek vir Hom nie, ook nie in die hoogste hemel nie. Ek kan net vir Hom ’n tempel bou sodat ons daar vir Hom *offers kan bring. 7Nou vra ek dat jy vir my iemand moet stuur wat *vaardig is om te werk met goud en silwer en *brons en yster en met pers wol, rooi wol en blou wol. Dit moet iemand wees wat ook weet hoe om letters en prente op klip uit te sny. Hy moet die werk doen saam met die slim manne hier by my in Juda en Jerusalem. My pa het hierdie manne bymekaargemaak. 8Jy moet ook vir my sederhout, sipreshout en jenewerhout van die Libanon-berg stuur, want ek weet jou werkers weet hoe om Libanon-bome te kap. My werkers sal saam met jou werkers werk. 9Hulle moet vir my baie sederhout gereedmaak, want die tempel wat ek wil bou, moet groot en wonderlik mooi wees. 10Dit is wat ek sal betaal vir jou werkers wat die hout kap: 20 000 *kor koring, *20 000 kor *gars, 20 000 *bat wyn en 20 000 bat olyf-olie.”

11Koning Hiram van Tirus het vir Salomo in ’n brief geantwoord. Hy het geskryf: “Die Here is lief vir sy volk. Daarom het Hy jou koning laat word oor hulle.”

12Hiram het ook geskryf: “Ek prys die Here, die God van Israel, Hy wat die hemel en die aarde gemaak het. Hy het vir koning Dawid ’n *wyse seun gegee, ’n man wat weet wat hy moet doen en wat slim en *verstandig is, sodat hy vir die Here ’n tempel kan bou en ook ’n paleis vir homself. 13Nou stuur ek vir jou ’n vaardige man, ’n man wat weet hoe om hierdie dinge te doen. Hy is die *meester-ambagsman Hiram. 14Hy is die seun van ’n vrou van die land Dan, en sy pa is ’n man van Tirus. Hy weet hoe om met goud te werk en ook met silwer, brons, yster, klip en hout. Hy weet ook hoe om te werk met pers en blou wol-materiaal, met linne en rooi materiaal, en hoe om letters en prente op klip uit te sny. Hy kan dit doen op enige manier wat jy vir hom sê. Hy kan dit doen saam met jou *ambagsmanne, die ambagsmanne van jou pa, koning Dawid. 15Jy moet nou vir my die koring, die gars, die wyn en die olyf-olie stuur wat jy belowe het. 16Dan sal ons al die bome wat jy nodig het, op die Libanon-berg kap. Ons sal *vlotte daarvan maak en dit vir jou oor die see bring tot by die stad Jafo. Jy kan hulle dan self na Jerusalem bring.”

Salomo maak werkers bymekaar

(Kyk ook 1 Kon 5:13-18)

17Salomo het al die mans laat tel wat *vreemdelinge in die land Israel was. Sy pa Dawid het hulle voorheen ook laat tel. Hulle was almal saam 153 600 mans. 18Salomo het gesê 70 000 van hulle moet die hout dra en 80 000 mans moet klippe kap in die berge. Hy het 3 600 mans gekies en aangestel om hoofde te wees. Hulle moes kyk dat die werkers hulle werk doen.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index