Search form

2 Kronieke 20

Die Here oorwin die vyande van Juda

1Later het die Moabiete en Ammoniete gekom om oorlog te maak teen koning Josafat, en saam met hulle het nog ander Ammoniete ook gekom. 2Party mense het vir Josafat kom sê: “Daar het ’n groot klomp manne gekom om jou land aan te val. Hulle het gekom van anderkant die Dooie See uit die land Edom. Hulle is al klaar in die stad Gaseson-Tamar, dit is En-Gedi.”

3Josafat het bang geword, en hy het besluit om vir die Here te vra wat Hy sê. Josafat het gesê al die mense in Juda moet *vas. 4Die mense van *Juda het bymekaargekom om vir die Here te vra wat hulle moet doen. Hulle het uit al die stede van Juda gekom om vir die Here te vra om hulle te help. 5Josafat het gaan staan by die *tempel voor die nuwe *oop stuk grond. Hy het in die *volksvergadering van Juda en Jerusalem gaan staan 6en hy het gesê: “Here, God van ons *voorvaders, U is God in die hemel, U regeer oor al die lande van die volke. U is sterk, niemand kan teen U bly staan nie. 7Ons God, U het die mense van hierdie land weggejaag om vir u volk Israel plek te maak en U het die land vir altyd vir die *nageslag van u vriend Abraham gegee. 8Hulle het hier kom woon en hulle het hier ’n tempel gebou vir U. Hulle het gesê: 9‘Wanneer dit sleg gaan met ons, wanneer U ons straf met oorlog of *pes of honger, dan sal ons voor hierdie tempel en voor U kom staan, want hierdie tempel behoort aan U. Ons sal bid en vra dat U ons moet help, en U sal hoor, U sal ons red.’ 10Nou het die Ammoniete en Moabiete en die mense van Seïr-berg gekom om ons aan te val. Toe die Israeliete uit Egipte gekom het, het U die Israeliete nie in hierdie volke se lande laat kom nie. U het gesê die Israeliete moet wegdraai van hierdie volke. Die Israeliete het nie hierdie volke doodgemaak nie. 11Maar nou het hierdie volke gekom om ons aan te val. Hulle wil ons wegjaag uit hierdie land wat U vir ons gegee het. 12Ons God, U moet hulle straf, want ons is te swak om oorlog te maak teen hierdie groot klomp mense. Ons weet nie wat om te doen nie. Daarom vra ons dat U ons moet help.”

13Al die mans van Juda het daar voor die Here gestaan, die mans en hulle oumense en hulle vroue en hulle kinders. 14Jagasiël was ook daar. Hy was die seun van Sagaria seun van Benaja seun van Jeïel seun van Mattanja. Jagasiël was ’n *Leviet van die Asaf-familie. Die Gees van die Here het daar in die vergadering op Jagasiël gekom, 15en hy het gesê: “Luister, al julle mense van Juda, en julle wat in Jerusalem woon, en koning Josafat. Die Here sê vir julle: Julle moenie bekommerd wees nie, julle moenie bang wees vir hierdie klomp vyande nie, want dit is nie julle oorlog nie, dit is God se oorlog. 16Julle moet môre afgaan na hulle toe. Hulle kom nou op in die Bloeisel-pas. Julle sal hulle kry by die punt van die vallei langs die kant van die Jeruel-woestyn. 17Julle sal nie self oorlog maak nie, julle kan net staan en kyk hoe die Here julle red. Mense van Juda en Jerusalem, julle moenie bekommerd wees nie, julle moenie bang wees nie. Gaan môre na hulle toe. Die Here sal by julle wees.”

18Toe het Josafat gekniel met sy gesig na die grond, en al die mense van Juda en Jerusalem het voor die Here op hulle knieë gestaan en hulle het voor Hom gebuig met hulle gesigte teen die grond. 19Toe het die Leviete van die Kehat-familie en die Korag-familie opgestaan om die Here, die God van Israel, te prys. Hulle het baie hard gesing. 20Die mense het vroeg die oggend opgestaan en na die Tekoa-woestyn gegaan. Toe hulle begin loop, het Josafat daar gaan staan en gesê: “Mense van Juda en Jerusalem, julle moet glo in julle God die Here, dan sal julle aanhou lewe. Julle moet glo wat sy *profete sê, dan sal julle oorwin.”

21Nadat Josafat vir die mense gevra het wat hulle dink, het hy mense gekies en aangestel wat moes sing. Hulle moes voor die soldate loop en hulle moes die Here, die Koning, prys. Hulle moes sing “Prys die Here, want Hy doen altyd wat Hy belowe het.”

22Die mense van die Seïr-berge wou vir Juda kom aanval. En presies dieselfde tyd toe Josafat se mense begin het om te sing en om die Here te prys, het die Here die Ammoniete en die Moabiete en die mense van die Seïr-berge laat dink dat daar vyande voor hulle en agter hulle is, hulle het gedink hulle sal die oorlog verloor. 23Die Ammoniete en die Moabiete het toe die mense van die Seïr-berge aangeval en hulle het almal doodgemaak. Daarna het hulle mekaar begin doodmaak. 24Die Judeërs het by ’n plek in die woestyn gekom waar hulle kon staan en ver kon sien wat gebeur. Hulle het gekyk waar die vyande is, en hulle het die lyke daar op die grond gesien lê. Niemand het vry weggekom nie. 25Josafat en sy manne het gekom om die vyande se goed te vat. Hulle het baie goed daar gekry, klere en *kosbare goed wat hulle kon vat, hulle kon dit nie alles dra nie. Hulle het drie dae lank die goed weggedra, want dit was so baie. 26Die volgende dag het hulle bymekaargekom in die Prys-vallei, want hulle het die Here daar geprys. Dit is hoekom mense die plek vandag nog “Prys-vallei” noem. 27Al die manne van Juda en Jerusalem het toe omgedraai. Josafat het voor hulle geloop, en hulle het teruggegaan na Jerusalem. Hulle was baie bly, want die Here het hulle bly gemaak oor hulle vyande. 28Hulle het in Jerusalem na die tempel gegaan en hulle het *harpe en *liere en *trompette saamgeneem. 29Die volke in al die lande het baie bang geword toe hulle hoor dat die Here oorlog gemaak het teen die vyande van Israel. God het die volke bang laat word. 30Maar in die land van Josafat was alles stil en rustig. Die Here het vir hom vrede gegee, daar was nie vyande rondom hom nie.

Josafat sterf

(Kyk ook 1 Kon 22:48-51)

31Josafat was koning van *Juda. Hy was 35 jaar oud toe hy koning geword het en hy was 25 jaar lank koning in Jerusalem. Sy ma was Asuba dogter van Silgi. 32Josafat het reg gelewe soos sy pa Asa en hy het aangehou om dit te doen. Hy het reg gedoen, en die Here het daarvan gehou. 33Maar daar was nog *offer-plekke, en die mense was nie heeltemal gehoorsaam aan die God van hulle *voorvaders nie. 34Die ander dinge wat Josafat voorheen en later gedoen het, is geskryf in die Verhale van Jehu seun van Ganani. Dit is geskryf in die Boek van die Konings van Israel. 35Koning Josafat van Juda het later ’n *ooreenkoms gemaak met koning Ahasia van *Israel. Ahasia was ’n man wat verkeerde dinge gedoen het. 36Josafat het met Ahasia ’n ooreenkoms gemaak om skepe te bou wat na Tarsis kan gaan. Hulle het die skepe in Esjon-Geber gebou. 37Maar Eliëser seun van Dodawa van die stad Maresa het vir Josafat ’n boodskap van die Here gebring. Hy het gesê: “Die Here sal jou werk laat misluk omdat jy ’n ooreenkoms gemaak het met Ahasia.”

Die skepe het gebreek, en hulle kon nie na Tarsis gaan nie.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index