Search form

2 Konings 14

Amasia, koning van Juda

(Kyk ook 2 Kron 25:1-24)

1Amasia seun van Joas het koning van *Juda geword in die tweede jaar nadat Joas seun van Joahas koning van *Israel geword het. 2Amasia was 25 jaar oud toe hy koning geword het, en hy was 29 jaar lank koning in Jerusalem. Sy ma se naam was Jehoaddan, sy was van Jerusalem. 3Amasia het dinge gedoen waarvan die Here hou, maar hy het nie alles gedoen soos sy *voorvader Dawid nie. Amasia het gedoen soos sy pa Joas gedoen het. 4Amasia het ook nie die *offer-plekke afgebreek nie. Die mense het nog op die offer-plekke *ge-offer en *wierook gebrand. 5Toe Amasia seker was dat hy koning sal bly, het hy sy *amptenare doodgemaak wat vir sy pa vermoor het. 6Hy het nie die kinders van die moordenaars doodgemaak nie, want in die *Wette van Moses is geskryf dat die Here gesê het: “*Wanneer ’n kind sonde doen, dan moet sy pa nie daaroor sterf nie, en wanneer ’n pa sonde doen, dan moet sy kind nie daaroor sterf nie. Elkeen mag net vir sy eie sondes sterf.”

7Dit is Amasia wat 10 000 Edomiete oorwin het in die Sout-vallei. Hy het die stad Sela in die oorlog oorwin en gevat, en hy het die naam van die stad verander na Jokteël. Dit is tot vandag toe die naam van daardie stad. 8In daardie tyd het Amasia *boodskappers gestuur na Joas seun van Joahas seun van koning Jehu van Israel. Die boodskappers moes vir Joas sê: “Kom ons maak oorlog teen mekaar.”

9Koning Joas van Israel het vir koning Amasia van Juda geantwoord: “Die doringbos op die Libanon-berg laat weet vir die sederboom op die Libanon-berg: ‘Gee jou dogter sodat my seun met haar kan trou.’ En toe kom daar ’n wilde dier van die Libanon-berg verby en hy trap die doringbos plat. 10Jy het die Edomiete oorwin, dit is seker. En nou verbeel jy jou dat jy baie belangrik is. Bly by jou huis. Hoekom wil jy probleme maak vir jouself? Jy sal sterf, en die mense van Juda saam met jou.”

11Maar Amasia wou nie luister nie. Toe het koning Joas van Israel gekom, en hy en koning Amasia van Juda het teen mekaar oorlog gemaak in die stad Bet-Semes. Bet-Semes het aan Juda behoort. 12Israel het gewen teen Juda, en die manne van Juda het gevlug, elkeen na sy huis. 13Koning Joas van Israel het vir koning Amasia seun van Joas seun van Ahasia gevang by Bet-Semes en hy het vir Amasia na Jerusalem gebring. Daar het Joas ’n stuk van Jerusalem se muur laat afbreek, die stuk muur was 400 *el lank. Dit was tussen die *Efraim-poort en die *Hoek-poort. 14Joas het ook al die goud en silwer en die ander goed gevat wat hy in die *tempel en in die stoorkamers van die paleis kon kry. Hy het ook *gyselaars saam met hom geneem. En toe het hy teruggegaan na die stad Samaria.

Joas koning van Israel sterf

15Al die ander dinge wat Joas gedoen het, ook die dapper dinge wat hy gedoen het en sy oorlog teen koning Amasia van *Juda, is geskryf in die dagboeke van die konings van *Israel. 16Joas het gesterf, en sy mense het hom begrawe in Samaria by die konings van Israel. Sy seun Jerobeam het koning geword ná hom.

Amasia sterf

(Kyk ook 2 Kron 25:25-28)

17Koning Amasia van *Juda, seun van Joas, het nog 15 jaar gelewe nadat Joas seun van Joahas koning van *Israel gesterf het. 18Die ander dinge wat Amasia gedoen het, is geskryf in die dagboek van die konings van Juda. 19Mense in Jerusalem het besluit om Amasia dood te maak. Hy het gevlug na die stad Lakis, maar hulle het mense daarnatoe gestuur om hom te vang, en hulle het hom daar doodgemaak. 20Hulle het sy liggaam op perde teruggebring, en hulle het hom begrawe in Jerusalem by sy *voorvaders in die *Dawidstad. 21Al die mense in Jerusalem het toe vir Ussia geneem en hulle het hom koning gemaak ná sy pa Amasia. Ussia was toe 16 jaar oud. 22Dit is hý wat die stad Elat weer gebou het en wat die stad teruggevat het vir Juda. Ussia het dit gedoen nadat koning Amasia gesterf het.

Jerobeam seun van Joas, koning van Israel

23Jerobeam seun van Joas het in Samaria koning van *Israel geword in die vyftiende jaar nadat Amasia koning van *Juda geword het. Jerobeam was 41 jaar lank koning. 24Hy het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie, hy het aangehou om die sondes te doen wat Jerobeam seun van Nebat gedoen het en wat hy die mense van Israel laat doen het. 25Jerobeam seun van Joas het die grond weer teruggevat wat voorheen aan Israel behoort het, dit was van die stad Lebo-Hamat tot by die Dooie See. Dit het gebeur soos die Here gesê het toe Hy sy *dienaar Jona seun van Amittai gestuur het om ’n boodskap te bring. Jona was die *profeet wat van die stad Gat-Gefer gekom het. 26Die Here het gesien dit gaan sleg met Israel, baie sleg. Daar was toe niemand wat vir Israel kon help nie, nie ’n *slaaf of ’n vry mens nie. 27Die Here wou nie almal in die land Israel laat sterf nie, en Hy het vir Jerobeam seun van Joas gehelp om vir Israel te red.

Jerobeam sterf

28Al die ander dinge wat Jerobeam gedoen het, is geskryf in die dagboeke van die konings van *Israel. Hy het dapper dinge gedoen toe hy oorlog gemaak het en die stede Damaskus en Hamat teruggevat het. Damaskus en Hamat het voorheen aan Israel behoort. 29Jerobeam het gesterf, en sy seun Sagaria het koning geword ná hom.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index