Search form

2 Konings 4

’n Weduwee se olyf-olie word meer

1Een van die *profete se vrou het na Elisa toe gekom en sy het vir hom gevra dat hy haar moet help. Sy het gesê: “My man is dood. Jy weet self dat hy die Here gedien het. Maar hy het geld vir ’n man geskuld, en nou het daardie man gekom om my twee seuns te vat. Hy wil hulle sy *slawe maak.”

2Elisa het vir haar gevra: “Wat kan ek vir jou doen? Sê vir my wat het jy in jou huis.”

Sy het gesê: “Ek het niks in die huis nie. Ek het net ’n *kruikie olyf-olie.”

3Toe sê Elisa: “Gaan leen by jou bure leë kruike, jy moet baie kruike leen. 4Gaan dan in jou huis en sluit die deur. Dan moet jy en jou seuns al die kruike vol olyf-olie gooi en julle moet die kruike bêre wat vol is.”

5Die vrou het gegaan en sy het die deur agter haar toegesluit. Haar seuns het die kruike vir haar gegee en sy het dit volgemaak. 6Toe die kruike almal vol is, sê sy vir een van haar seuns: “Bring vir my nog ’n kruik.”

Die seun het vir haar gesê: “Daar is nie meer kruike nie.”

7En toe het daar nie meer olyf-olie uit die kruikie gekom nie. Sy het dit vir die *man van God gaan sê, en hy het gesê: “Gaan verkoop nou die olyf-olie en betaal die skuld. Jy en jou seuns kan dan lewe van die geld wat oorbly.”

Die vrou wat in Sunem woon, se seun sterf en lewe weer

8Toe Elisa eendag in die stad Sunem kom, het ’n ryk vrou hom genooi om by hulle te kom eet. Hy het toe elke maal wanneer hy daar gekom het, na haar huis gegaan om te eet. 9Eendag het sy vir haar man gesê: “Luister na wat ek sê, die *man van God is ’n *gewyde man en hy kom baie maal by ons. 10Kom ons maak die klein bo-kamer vir hom gereed, en ons sit daar vir hom ’n bed en ’n stoel en ’n tafel en ’n *lamp. Dan kan hy elke maal wanneer hy by ons kom, daar gaan bly.”

11Hulle het dit toe gedoen. Eendag het Elisa gekom en hy het in die bo-kamer op die bed gaan lê. 12Hy sê toe vir die jongman Gehasi wat vir hom werk: “Gaan roep vir my hierdie vrou van Sunem.”

Gehasi het haar gaan roep, en sy het by die deur kom staan. 13Toe sê Elisa vir Gehasi: “Sê vir haar: Jy het baie gedoen om vir ons te help. Wat kan ons vir jóú doen? Kan ek vir die koning of vir die *hoof van die leër iets sê oor jou?”

Die vrou het geantwoord: “Nee, ek woon by my eie mense.”

14Elisa sê toe: “Ek wonder wat ek vir haar kan doen.”

En toe sê Gehasi: “Ek weet wat jy vir haar kan doen. Sy het nie ’n seun nie, en haar man is oud.”

15Elisa het gesê Gehasi moet die vrou gaan roep, en sy het by die deur kom staan. 16Toe sê Elisa vir die vrou: “Jy sal volgende jaar hierdie tyd jou eie seun in jou arms hou.”

Die vrou het gesê: “Nee, Meneer, jy is ’n man van God, jy moenie vir my jok nie.”

17Maar die vrou het swanger geword en sy het ’n seun gekry op die tyd wat Elisa gesê het.

18Toe die seun groter was, het hy eendag saam met sy pa gegaan na die koringland waar die mense die koring afsny. 19En hy het vir sy pa gesê: “My kop is seer, my kop is seer.”

Sy pa het vir ’n jongman gesê: “Neem my seun na sy ma toe.”

20Die jongman het die seun opgetel en hy het hom na sy ma toe geneem. Die seun het op haar skoot gesit tot die middag, en toe het hy gesterf. 21Sy ma het hom na die bo-kamer gedra en sy het hom neergesit op die man van God se bed. Sy het toe die deur gesluit en ondertoe gegaan. 22Toe roep sy haar man en sê: “Stuur asseblief vir my een van die jongmanne en ’n donkie, ek wil gou na die man van God toe gaan.”

23Haar man het gevra: “Hoekom wil jy vandag na hom toe gaan? Dit is nie *Nuwemaan-fees of *Sabbatdag nie.”

Die vrou het gesê haar man moenie bekommerd wees nie. 24Sy het die donkie laat opsaal en vir die jongman gesê: “Jy moet die donkie vinnig jaag, jy moet net stadiger gaan wanneer ek vir jou sê.”

25Toe sy by die man van God op Karmel-berg kom, het hy haar sien aankom en vir die jongman Gehasi by hom gesê: “Kyk, hier kom die vrou van Sunem. 26Hardloop asseblief na haar toe en vra vir haar: ‘Gaan dit goed met jou, gaan dit goed met jou man, gaan dit goed met die kind?’ ”

Die vrou het geantwoord: “Dit gaan goed.”

27Maar toe sy by die man van God op die berg kom, gaan lê sy en sy hou Elisa se voete vas. Gehasi het nader gekom om haar weg te trek, maar die man van God het gesê: “Los haar, sy is baie hartseer, en die Here het dit nie vir my gewys nie, Hy het dit nie vir my gesê nie.”

28Die vrou sê toe vir Elisa: “Ek het nie vir Meneer ’n seun gevra nie. Ek het gesê jy moenie vir my jok nie.”

29Elisa het vir Gehasi gesê: “Jy moet jou klere vasmaak en my kierie neem en na haar huis gaan. Wanneer jy langs die pad iemand kry, dan moet jy hom nie groet nie, en wanneer hy jou groet, dan moet jy nie antwoord nie. Gaan sit dan my kierie op die seun se gesig.”

30Die seun se ma het vir Elisa gesê: “Kom saam. So seker soos die Here lewe en jy lewe, ek sal nie gaan as jy nie saamgaan nie.”

Elisa het opgestaan en hy het saam met haar gegaan. 31Gehasi het voor hulle by die vrou se huis gekom, en hy het die kierie op die seun se gesig gesit. Maar niks het gebeur nie, die seun het nie gelewe nie. Gehasi het teruggegaan, en toe hy by Elisa kom, het hy gesê: “Die seun het nie wakker geword nie.”

32Toe Elisa by die huis kom, sien hy dat die seun daar dood op die bed lê. 33Hy het die deur toegemaak en tot die Here gebid. 34Toe gaan lê hy bo-op die seun en hy sit sy mond op die seun se mond, sy oë op die seun se oë en sy hande op die seun se hande. So het hy op die seun gelê totdat die seun se liggaam warm geword het. 35Daarna het Elisa afgeklim van die bed en hy het een maal heen en weer geloop in die kamer. Toe het hy weer op die seun gaan lê. Die seun het sewe maal genies en hy het sy oë oopgemaak. 36Elisa roep toe vir Gehasi en sê: “Roep die vrou van Sunem.”

Gehasi het haar geroep, en toe sy by Elisa kom, het hy gesê: “Tel jou seun op.”

37Sy het gekom en by Elisa se voete gaan lê met haar gesig teen die grond. Toe het sy haar kind opgetel en uitgegaan.

Giftige kos word reg om te eet

38Elisa het teruggegaan na die stad Gilgal. Daar was *hongersnood in die land. Eendag toe hy besig was om vir die *profete te leer, het hy vir die jongman by hom gesê: “Sit die groot pot op die vuur en kook kos vir die profete.”

39Een van die profete het uitgegaan veld toe om *kruie te pluk. Hy kry toe ’n wilde plant wat vrugte gedra het, en hy pluk sy sak vol. Toe kom hy terug en hy sny die vrugte in stukkies en gooi dit in die pot. Maar hy het nie die vrugte geken nie. 40Hulle het later vir die manne kos geskep om te eet, maar toe hulle die kos proe, het hulle geskree: “*Man van God, die kos is giftig!”

Hulle kon dit nie eet nie. 41Maar Elisa het gesê hulle moet vir hom meel bring, en hy het die meel in die pot gegooi en gesê: “Skep nou van die kos vir die manne.”

Hulle het geëet, en daar was toe niks verkeerd met die kos nie.

Honderd manne eet genoeg van twintig garsbroodjies

42Iemand van die stad Baäl-Salisa het vir die *man van God 20 *garsbroodjies gebring van *gars wat nog vars was, en ook vars *koring-are. Elisa het gesê: “Gee dit vir die manne sodat hulle kan eet.”

43Maar sy bediende het gesê: “Ek kan nie hierdie kos vir 100 manne gee nie, dit is te min.”

Elisa het gesê: “Gee dit vir die manne sodat hulle kan eet, want die Here sê hulle sal genoeg eet en daar sal nog oorbly.”

44Die bediende het die kos vir hulle gegee. Hulle het genoeg geëet, en daar het kos oorgebly.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index