Search form

2 Konings 6

’n Byl dryf op die water

1Die *profete het vir Elisa gesê: “Kyk, die plek waar jy vir ons leer, is te klein vir ons. 2Laat ons asseblief na die Jordaan-rivier gaan. Ons kan daar pale afkap, sodat ons die plek groter kan maak waar ons moet sit.”

Elisa het gesê dit is goed, 3en toe sê een van die profete vir Elisa: “Jy moet asseblief saam met ons gaan.”

Elisa het gesê dit is goed, hy sal saamgaan. 4Hy het toe saamgegaan, en hulle het by die Jordaan-rivier gekom en begin bome afkap. 5Terwyl een van die profete besig was om ’n groot boom af te kap, het sy byl in die water geval. Hy het geskree en gesê: “Ag, Meneer, dit is ’n byl wat ek geleen het.”

6Die *man van God het vir hom gevra: “Waar het die byl in die water geval?”

Die profeet het vir Elisa die plek gewys. Elisa het ’n stuk hout afgekap en hy het dit daar in die water gegooi. En toe dryf die byl op die water. 7Elisa het gesê: “Haal die byl uit.”

Die profeet het sy hand uitgesteek en hy het die byl geneem.

Die Arameërs wil vir Elisa vang

8Die koning van Aram het oorlog gemaak teen *Israel. Hy het saam met sy *offisiere planne gemaak en hy het besluit om sy tente op ’n plek op te slaan. 9Maar die *man van God het vir die koning van Israel laat weet: “Pasop dat julle nie by daardie plek verbygaan nie, want die Arameërs gaan daarnatoe.”

10Die koning van Israel het ’n boodskap gestuur en hy het die mense wat daar was, gewaarsku. Dit het meer as een maal gebeur. 11Die koning van Aram het bekommerd geword daaroor en hy het sy offisiere geroep en vir hulle gesê: “Julle moet vir my sê wie van ons manne vertel vir die koning van Israel van ons planne.”

12Een van sy offisiere het gesê: “Nee, Meneer die koning, dit is nie een van ons manne nie, dit is die *profeet Elisa wat daar in die land Israel is. Hy weet alles en hy kan vir sy koning ook die dinge sê wat jy in jou slaapkamer praat.”

13Die koning van Aram het gesê hulle moet uitvind waar Elisa is, sodat hy mense kan stuur om vir Elisa te vang. Die koning hoor toe dat Elisa in die stad Dotan is. 14Die koning van Aram stuur toe perde en *oorlogkarre en baie manne na Dotan. Hulle het in die nag daar gekom en hulle het rondom die stad gaan staan. 15Die volgende oggend het die bediende van Elisa, die man van God, vroeg opgestaan, en toe hy uitgaan, sien hy al die manne en die perde en die oorlogkarre rondom die stad. Hy het vir Elisa gesê: “Ag, Meneer, wat moet ons doen?”

16Elisa het vir die bediende gesê: “Jy moenie bekommerd wees nie, daar is meer by ons as by hulle.”

17Elisa het gebid en gevra: “Here, maak asseblief sy oë oop sodat hy kan sien.”

Die Here het die oë van die jongman oopgemaak, en toe sien hy dat die berge rondom Elisa vol perde en oorlogkarre van vuur is. 18Toe die Arameërs nader kom, het Elisa tot die Here gebid en gevra: “Here, laat hierdie mense asseblief blind word.”

Die Here het gedoen wat Elisa gevra het, en die Arameërs het blind geword. 19Elisa het vir hulle gesê: “Julle is op die verkeerde pad en by die verkeerde stad. Kom saam met my, dan sal ek julle bring in die stad wat julle soek.”

En toe bring Elisa die Arameërs na die stad Samaria. 20Toe hulle in Samaria kom, het Elisa gebid: “Here, maak nou hierdie manne se oë oop sodat hulle kan sien.”

Die Here het dit gedoen, en toe hulle kyk, was hulle binne-in Samaria. 21Die koning van Israel het vir Elisa gevra: “Meneer, moet ek hierdie Arameërs doodmaak?”

22Maar Elisa het gesê: “Nee, jy moenie vir hulle doodmaak nie. Jy het hulle nie in ’n oorlog gevang nie, daarom mag jy hulle nie doodmaak nie. Gee vir hulle kos en water sodat hulle kan eet en kan teruggaan na hulle koning toe.”

23Die koning van Israel het toe vir hulle ’n groot fees-ete gegee, en nadat die Arameërs geëet en gedrink het, het hy hulle laat gaan. Hulle het teruggegaan na hulle koning toe, en die Arameërs het nie gou weer die stede in die land Israel kom aanval nie.

Die Arameërs slaan hulle tente op rondom Samaria, en die kos in die stad word baie min

24Later het koning Ben-Hadad van Aram al sy manne laat bymekaarkom en hulle het hulle tente rondom die stad Samaria opgeslaan. 25Hulle het daar gebly, en die kos in Samaria het baie min geword. Die kos het later baie duur geword, ’n donkie se kop het 80 *sikkels gekos en ’n klein bietjie duiwemis het *vyf sikkels gekos. 26Toe die koning van *Israel eendag op die muur van die stad verbyloop, het ’n vrou vir hom geskree: “Meneer die koning, jy moet my help!”

27Die koning het geantwoord: “Die Here sal jou moet help. Ek het niks wat ek vir jou kan gee nie, nie koring of wyn of olyf-olie nie.”

28Die koning vra toe vir die vrou: “Maar wat is jou probleem?”

En sy het gesê: “Hierdie vrou het vir my gesê ek moet my seun gee sodat ons hom vandag kan eet, dan eet ons môre haar seun. 29Ons het toe my seun gekook en ons het hom geëet, en toe ek die volgende dag vir haar sê sy moet haar seun bring sodat ons hom kan eet, het sy haar seun weggesteek.”

Die koning wil vir Elisa laat doodmaak

30Toe die koning hoor wat die vrou sê, het hy sy *klere geskeur en *rouklere aangetrek. Hy het op die muur geloop, en die mense kon sien dat hy rouklere aangehad het onder sy ander klere. 31Die koning het gesê: “Vandag sal ek die kop van Elisa seun van Safat laat afkap. God moet my straf as ek dit nie doen nie.”

Die koning het iemand gestuur om Elisa se kop af te kap. 32Elisa was in sy huis, en die leiers het by hom gesit. Maar voordat die man wat die koning gestuur het, daar gekom het, het Elisa vir die leiers gesê: “Weet julle dat hierdie moordenaar, die koning van *Israel, iemand gestuur het om my kop af te kap? Julle moet kyk, en wanneer die persoon kom, dan moet julle die deur sluit en hom buite hou. Ek hoor sy koning kom saam met hom.”

Elisa sê daar sal baie kos wees

33Terwyl Elisa besig was om te praat, het die koning self daar aangekom. En toe sê hy vir Elisa: “Dit is die Here wat dit so sleg laat gaan met ons. Ek weet Hy wil ons nie help nie.”

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index