Search form

2 Konings 7

1Elisa het vir die koning gesê: “Luister wat sê die Here: Môre, hierdie selfde tyd, sal kos weer goedkoop wees, ’n *sea koringmeel sal een *sikkel kos, en twee sea *gars sal een sikkel kos in die *poort van Samaria.”

2Die *offisier wat langs die koning gestaan het, sê toe vir die *man van God: “Nee, dit sal nooit gebeur nie, ook nie wanneer die Here vensters in die hemel maak waardeur die reën kan val nie.”

Elisa het vir die offisier gesê: “Ek sê vir jou, jy sal sien dat dit gebeur, maar jy sal nie self van daardie meel of gars eet nie.”

Die Arameërs vlug, en daar is baie kos

3Daar was vier *melaatse mans voor die *poort van die stad Samaria. Hulle het vir mekaar gesê: “Hoekom moet ons hier sit totdat ons sterf? 4As ons besluit om in die stad in te gaan, dan sal ons daar sterf, want daar is nie kos nie. En as ons hier bly, dan sal ons hier sterf. Daarom, kom ons loop na die Arameërs toe. As hulle ons laat lewe, dan lewe ons, en as hulle ons doodmaak, dan sterf ons.”

5Toe dit begin donker word, staan die vier melaatse mans op om na die Arameërs se kamp te gaan, maar toe hulle by die kamp kom, was hulle baie verbaas, want daar was niemand nie. 6Die Here het iets laat gebeur. Die Arameërs het gedink hulle hoor dat daar perde en *oorlogkarre en baie manne aankom, en toe sê die Arameërs vir mekaar: “Kan julle dit hoor? Die koning van *Israel het die konings van die Hetiete en van Egipte gehuur om te kom oorlog maak teen ons.”

7Dit het begin donker word, en die Arameërs het gevlug. Hulle het hulle tente en hulle perde en donkies alles daar gelos en hulle het gevlug, hulle wou nie sterf nie. 8Die vier melaatse mans kom toe by die kamp en hulle gaan in ’n tent in en hulle eet en drink. Hulle vat toe ook goud en silwer en klere en hulle gaan begrawe dit. Daarna het hulle teruggekom en in nog ’n tent ingegaan. Hulle het daar ook goed gevat en gaan begrawe. 9En toe sê hulle vir mekaar: “Ons doen nou verkeerd. Vandag is ’n dag van goeie nuus, maar ons bly stil. Ons moenie wag tot môre nie, dit sal verkeerd wees. Kom ons gaan vertel dit vir die mense by die paleis.”

10Hulle kom toe by die poort van die stad en hulle skree vir die *wagte: “Ons het in die Arameërs se kamp gekom, en daar was niemand nie. Die perde en donkies is daar vasgemaak, en die tente is ook nog daar.”

11Die wagte het dit by die paleis gaan vertel, 12en toe die koning dit daardie nag hoor, het hy opgestaan en vir sy *amptenare gesê: “Ek weet wat die Arameërs met ons wil doen. Hulle weet ons is honger. Hulle het uitgegaan uit die kamp en hulle het in die veld gaan wegkruip. Hulle wil ons lewendig vang wanneer ons uit die stad kom, sodat hulle in die stad kan inkom.”

13Een van die amptenare van die koning sê toe: “Die perde wat nog oor is in die stad, sal ook doodgaan soos baie van ons mense. Kom ons neem vyf van die perde en ons stuur mense om te gaan kyk.”

14Hulle het toe twee oorlogkarre en perde geneem, en die koning het manne gestuur om te gaan kyk waar die Arameërs is. 15Die manne het tot by die Jordaan-rivier gegaan om die Arameërs te soek. Oral op die pad het klere en wapens gelê wat die Arameërs weggegooi het terwyl hulle weggehardloop het. Die manne het teruggegaan en hulle het dit vir die koning vertel. 16Toe het die mense van die stad uitgegaan en hulle het alles gevat wat in die Arameërs se tente was.

Alles het gebeur soos die Here gesê het: Een *sea koringmeel het ’n *sikkel gekos en twee sea *gars het ook ’n sikkel gekos. 17Die koning het vir die *offisier wat langs hom gestaan het, gesê hy moet by die poort staan en kyk dat alles reg gaan. Maar die mense het die offisier doodgetrap in die poort. 18Dit het gebeur soos die *man van God vir die koning gesê het. Hy het gesê: “Môre, hierdie selfde tyd, sal twee sea gars een sikkel kos en een sea koringmeel sal ook een sikkel kos.” 19Daardie offisier het toe vir die man van God geantwoord en gesê: “Dit wat jy sê, kan nooit gebeur nie, ook nie as die Here vensters in die hemel maak waardeur die reën kan val nie.”

En Elisa het gesê: “Jy sal sien dat dit gebeur, maar jy sal nie self van daardie meel of gars eet nie.”

20En dit het toe so met die offisier gebeur. Die mense het hom doodgetrap in die poort.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index