Search form

2 Samuel 10

Oorlog teen die Ammoniete en die Arameërs

(Ook 1 Kron 19:1-19)

1Die koning van die Ammoniete het gesterf, en sy seun Ganun het koning geword ná hom. 2Dawid het gedink: Ganun se pa was ’n vriend van my, ek wil ook ’n vriend wees van Ganun seun van Nagas.

Dawid het toe *amptenare gestuur om vir Ganun te sê dat hy saam met hom hartseer voel omdat sy pa dood is. Maar toe die amptenare van Dawid in die land van die Ammoniete kom, 3het die leiers van die Ammoniete vir hulle koning Ganun gesê: “Wat dink jy, hoekom het hierdie amptenare na ons toe gekom? Dink jy Dawid het jou pa gerespekteer en daarom het hy mense na jou toe gestuur om vir jou te sê dat hy hartseer voel saam met jou? Nee, ons dink hy het sy amptenare na jou toe gestuur net om oral in die stad te kyk en te sien hoe hulle die stad kan aanval en *verwoes.”

4Toe neem Ganun die amptenare van Dawid en hy laat die helfte van elke amptenaar se baard afskeer. Hy het ook hulle klere laat afsny by die heupe, en toe het hy hulle laat gaan. 5Die manne het baie *verneder gevoel. Toe Dawid hoor wat met die manne gebeur het, het hy mense gestuur om hulle te ontmoet en vir hulle te sê dat hulle in Jerigo moet bly totdat hulle baarde weer gegroei het, want die manne het baie verneder gevoel. 6Die Ammoniete het besef dat Dawid kwaad is vir hulle, en hulle het mense gestuur om soldate te huur om vir hulle te help. Hulle het 20 000 voetsoldate gehuur van die Arameërs van Bet-Regob en van die Arameërs van Soba. Hulle het ook 1 000 manne gehuur van die koning van Maäka en 12 000 manne van die mense van Tob. 7Toe Dawid dit hoor, het hy vir Joab en al sy manne gestuur, manne wat goed oorlog kon maak. 8Die Ammoniete het uitgekom en hulle het gereedgestaan voor die *poort van hulle stad. Die Arameërs van Soba en Regob en die manne van Tob en Maäka het op ’n ander plek in die veld gestaan. 9Joab het gesien hy sal op twee plekke oorlog moet maak. Hy het van die beste manne van Israel gekies en hy het hulle laat gereedstaan om teen die Arameërs te veg. 10Hy het die ander manne vir sy broer Abisai gegee en hy het hulle laat gereedstaan om teen die Ammoniete te veg. 11Joab het vir Abisai gesê: “As die Arameërs my wen, dan moet jy my kom help, en as die Ammoniete jou wen, dan sal ek jou kom help. 12Jy moet dapper wees en goed veg vir ons volk en vir die stede van ons God. Die Here sal laat gebeur wat Hy wil hê.”

13Joab en sy manne het toe begin om oorlog te maak teen die Arameërs, en die Arameërs het weggevlug van hom. 14Toe die Ammoniete sien dat die Arameërs vlug, het hulle ook weggevlug van Abisai en hulle het ingegaan in hulle eie stad. Joab het toe opgehou oorlog maak teen die Ammoniete en hy het na Jerusalem gegaan.

15Toe die Arameërs besef dat die Israeliete hulle oorwin het, het hulle almal bymekaargekom. 16Hadad-Eser het ook die Arameërs laat kom wat oorkant die Eufraat-rivier was. Hulle het bymekaargekom by die stad Gelam, en *Sobak, die *hoof van Hadad-Eser se leër, het hulle gelei. 17Dawid het dit gehoor, en hy het al die Israeliete laat bymekaarkom. Hy het oor die Jordaan-rivier gegaan en hy het by Gelam gekom. Die Arameërs het gereedgemaak en hulle het begin oorlog maak teen Dawid. 18Maar die Arameërs het weggevlug van die Israeliete. Dawid het die manne op 700 *oorlogkarre doodgemaak, en ook 40 000 manne op perde. Sobek, die hoof van die leër, het ook gesterf. 19Hadad-Eser het regeer oor ’n paar konings, en toe hulle sien dat die Israeliete hulle gewen het in die oorlog, het hulle vrede gemaak met die Israeliete, en die Israeliete het oor die Arameërs regeer. Die Arameërs was bang om weer vir die Ammoniete te help.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index