Search form

2 Samuel 12

Die Here straf vir Dawid

1Die Here het vir Natan na Dawid toe gestuur. Natan het by Dawid gekom en hy het vir Dawid gesê: “Daar was twee mans in ’n stad, die een man was ryk en die ander man was arm. 2Die ryk man het groot troppe skape en bokke en beeste gehad. 3Die arm man het niks gehad nie, hy het net een klein skaap-ooitjie gehad wat hy gekoop het. Hy het die ooitjie grootgemaak, en sy het by hom grootgeword saam met sy kinders. Die ooitjie het geëet van sy bietjie kos en sy het uit sy beker gedrink en teen sy bors geslaap. Sy was vir hom soos ’n dogter. 4Daar kom toe ’n besoeker by die ryk man, en die ryk man was te suinig om van sy eie skape of bokke of beeste te slag om vir die besoeker kos te gee. Die ryk man vat toe die ooitjie van die arm man en hy slag haar en gee die vleis vir die man wat by hom gekom het.”

5Dawid het baie kwaad geword vir die ryk man. Hy het vir Natan gesê: “So seker soos die Here lewe, die man wat dit gedoen het, moet sterf. 6Hy het een ooitjie van die arm man gevat, maar hy moet vier ooitjies teruggee omdat hy hierdie verkeerde ding gedoen het, en omdat hy nie jammer was vir die arm man nie.”

7Toe sê Natan vir Dawid: “Jý is die ryk man. Die Here die God van Israel sê: Ek het jou *gesalf om koning te wees van Israel en Ek het jou gered van Saul. 8Ek het jou koning laat word ná Saul en Ek het sy vroue vir jou gegee. Ek het jou koning laat word van *Israel en *Juda. En as dit te min was, dan sou Ek nog baie meer vir jou gegee het. 9Hoekom was jy ongehoorsaam aan My? Hoekom het jy iets gedoen waarvan Ek nie hou nie? Jy het vir Urija die Hetiet vermoor, jy het sy vrou vir jouself gevat en jy het hom laat doodmaak met die wapens van die Ammoniete. 10Daarom, daar sal altyd oorlog wees in jou familie, want jy het gewys dat jy dink Ek is nie belangrik nie. Jy het die vrou van Urija die Hetiet vir jouself gevat.

11“Die Here sê: Ek sal nou iemand uit jou eie familie laat kom, hy sal jou laat swaarkry. Ek sal jou vroue vat en Ek sal hulle vir ’n ander persoon gee. Jy sal dit sien. Hy sal in die dag by jou vroue slaap, almal sal dit sien. 12Want jy het hierdie verkeerde ding gedoen waar niemand dit gesien het nie, maar Ek sal hierdie ding doen in die dag waar al die Israeliete dit kan sien.”

13Dawid het vir Natan gesê: “Ek het sonde gedoen teen die Here.”

Natan sê toe vir Dawid: “Die Here het jou sonde vergewe omdat jy dit gesê het. Jy sal nie sterf nie. 14Maar jy het dieselfde gedoen wat die vyande van die Here doen, jy het gewys dat jy dink die Here is nie belangrik nie. Daarom sal die seun sterf wat vir jou gebore is. Dit is seker.”

15Natan het huis toe gegaan. Die Here het die kind siek laat word wat die vrou van Urija vir Dawid gekry het. 16Dawid het tot God gebid vir die kind en hy het *gevas en in sy kamer ingegaan. Hy het die hele nag op die grond gelê. 17Die *amptenare in sy paleis het probeer om hom te laat opstaan van die grond, maar hy wou nie en hy wou ook nie saam met hulle eet nie. 18Die kind het op die sewende dag gesterf. Dawid se amptenare was bang om vir hom te sê dat die kind dood is. Hulle het gesê: “Toe die kind nog gelewe het, het ons met die koning gepraat, maar hy het nie na ons geluister nie. Ons kan nie nou vir hom sê dat die kind dood is nie. Hy sal miskien ’n verkeerde ding doen.”

19Dawid het gesien dat sy amptenare fluister en hy het besef dat die kind dood is. Hy vra toe vir sy amptenare of die kind dood is, en hulle het gesê: “Ja, hy is dood.”

20Toe staan Dawid op en hy was en hy smeer lekkerruik-olie aan homself. Hy het ander klere aangetrek en hy het na die *tempel-tent gegaan en gebid. Daarna het hy huis toe gegaan en kos gevra. Hulle het vir hom kos gegee en hy het geëet. 21Sy amptenare vra toe vir hom: “Hoekom doen jy dit? Toe die kind gelewe het, het jy gevas en gehuil. Maar nou is die kind dood, en nou staan jy op en jy eet.”

22Dawid het gesê: “Toe die kind nog gelewe het, het ek gevas en gehuil, want ek het gedink die Here sal miskien goed wees vir my en Hy sal die kind laat lewe. 23Maar nou is die kind dood. Hoekom moet ek nou vas? Kan ek hom weer laat lewe? Nee. Ek sal na hom toe gaan, maar hy kan nie terugkom na my toe nie.”

Salomo word gebore

24Dawid het sy vrou Batseba getroos. Hy het na haar toe gegaan en by haar geslaap. Sy het ’n seun gekry, en Dawid het hom Salomo genoem. Die Here was lief vir die kind. 25Die Here het vir Natan gestuur om te sê sy naam moet Jedidja wees, want die Here is lief vir hom.

Dawid oorwin die stad Rabba

(Kyk ook 1 Kron 20:1-3)

26Joab het nog oorlog gemaak teen die stad Rabba van die Ammoniete. Hy het die deel van die stad oorwin waar die koning gewoon het. 27Toe stuur Joab vir Dawid ’n boodskap. Hy het gesê: “Ek het oorlog gemaak teen Rabba en ek het die deel van die stad oorwin waar die water is. 28Jy moet nou die manne wat oor is, bymekaarmaak en julle moet hier by die stad julle tente kom opslaan. Jy moet die stad oorwin, want as ek die stad oorwin, dan sal die stad aan my behoort.”

29Dawid het al die manne laat bymekaarkom en hulle het na Rabba gegaan. Hy het teen die stad geveg en hy het dit oorwin. 30Dawid het die *kroon afgehaal van hulle koning se kop. Die kroon was gemaak van een *talent goud en daar was ’n mooi *edelsteen op die kroon. Dawid het die kroon op sy eie kop gesit. Hy het baie goed in die stad gevat en saamgebring. 31Hy het ook die manne van die stad saamgeneem en hy het hulle laat werk, elkeen met ’n saag of ’n pik of ’n byl. Hy het party manne stene laat maak. Hy het dieselfde gedoen met die manne in al die Ammoniete se stede. Toe het hy en al sy manne teruggegaan na Jerusalem.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index