Search form

2 Samuel 14

Die wyse vrou van Tekoa

1Joab seun van Seruja het geweet dat die koning na Absalom verlang. 2Joab stuur toe iemand na die stad Tekoa en hy laat haal ’n *wyse vrou wat daar gewoon het. Hy het vir haar gesê: “Jy moet asseblief huil en treur en *rouklere aantrek, jy moenie olyf-olie aan jou smeer nie, en jy moet wees soos ’n vrou wat aanhou treur oor iemand wat dood is. 3Dan moet jy na die koning toe gaan en jy moet vir hom sê wat ek vir jou sê.”

4Die vrou van Tekoa het toe met die koning gaan praat. Sy het gebuig met haar gesig teen die grond en sy het gesê: “Koning, jy moet my help.”

5Die koning het vir haar gevra wat haar probleem is, en sy sê toe: “Ag, ek is ’n weduwee, my man is dood. 6Ek het twee seuns, en hulle het in die veld met mekaar gestry. Niemand het hulle gekeer nie, en die een seun het die ander seun doodgeslaan. 7Die hele familie kom toe na my toe en hulle sê: ‘Gee vir ons die seun wat sy broer doodgeslaan het. Ons wil hom doodmaak omdat hy sy broer doodgemaak het. Hy is die seun wat sy pa se goed moet *erf, maar ons wil hom doodmaak.’ Ek het nog net hierdie seun, hy is die lig in my lewe, maar nou wil hulle hom ook doodmaak. As hy ook dood is, dan sal daar niemand op die aarde oorbly wat die naam van my man het nie.”

8Die koning het vir die vrou gesê: “Gaan huis toe, ek sal sê wat moet gebeur.”

9Maar toe sê die vrou van Tekoa vir die koning: “Meneer die koning, as iemand iets verkeerd gedoen het, dan is dit ek en my familie, jy is *onskuldig.”

10Toe sê die koning: “Wanneer iemand met jou praat oor hierdie ding, dan moet jy hom na my toe bring. Ek sal seker maak dat hy jou nie weer pla nie.”

11Maar die vrou het gesê: “Daar is iemand, hy is die *naaste familielid, hy wil my seun straf. Die koning moet asseblief belowe dat die naaste familielid nie my seun sal doodmaak nie. Jou God die Here moet die *getuie wees.”

Die koning het geantwoord: “So seker soos die Here lewe, niemand sal jou seun doodmaak nie, daar sal nie ’n haar van jou seun op die grond val nie.”

12Toe sê die vrou: “Mag ek vir Meneer die koning nog iets vra?”

Die koning sê toe: “Ja, vra.” 13Sy sê toe: “Maar hoekom wil jy so ’n verkeerde ding doen aan die volk van God? Jy het gesê wat moet gebeur in my saak, maar toe het jy gewys dat jy self verkeerd doen. Hoekom? Want jy laat nie jou seun terugkom nie, jou seun wat in ’n ander land moet bly. 14Ons moet almal sterf, ons is soos water wat op die grond val en wat niemand weer kan bymekaarmaak nie. Maar God wil nie graag iemand laat sterf nie, Hy wil graag hê dat iemand wat moes weggaan van Hom, weer moet terugkom. 15En nou, ek was bang vir die mense. Koning, daarom het ek gekom om met jou te praat oor my probleem. Ek het gedink ek moet met die koning kom praat, miskien doen jy iets en help my met my probleem, 16want die koning sal luister en my red van die persoon wat my en my seun altwee wil wegvat van die volk van God. 17Ek het gedink die koning sal iets sê wat my veilig sal laat voel, want die koning is soos ’n *engel van God wat luister en wat weet wat is reg en wat is verkeerd, en ek bid dat jou God die Here by jou sal wees.”

18Die koning het vir die vrou gesê: “Ek wil vir jou iets vra, jy moet asseblief alles vir my vertel.”

Sy sê toe: “Meneer die koning, vra asseblief wat jy wil vra.”

19En toe vra die koning: “Is dit Joab wat jou gestuur het om al hierdie dinge vir my te kom sê?”

Die vrou het geantwoord: “So seker soos jy lewe, Meneer die koning, niemand kan vir jou jok nie. Ja, dit is jou *offisier Joab, hy het my gestuur en hy het vir my al hierdie dinge gesê wat ek moet sê. 20Maar Joab het dit gedoen omdat hy die verkeerde ding wil regmaak, en Meneer het die *wysheid van ’n engel van God, jy weet alles wat in die land gebeur.”

Absalom kom terug

21Die koning het toe vir Joab gesê: “Kyk, jy het hierdie ding gedoen. Gaan nou en laat die jongman Absalom terugkom.”

22Joab het gebuig met sy gesig teen die grond en hy het die koning geprys en gesê: “Meneer die koning, vandag weet ek dat jy van my hou, want jy doen wat ek gevra het.”

23Joab het gereedgemaak. Hy het na die land Gesur gegaan en hy het vir Absalom teruggebring na Jerusalem. 24Die koning het vir Joab gesê: “Laat Absalom na sy huis gaan, ek wil hom nie sien nie.”

Absalom het huis toe gegaan en hy het nie die koning gesien nie.

Absalom sien die koning

25Absalom was baie mooi. In die hele land Israel was niemand so mooi soos hy nie. Almal het daaroor gepraat. Daar was niks verkeerd aan hom nie, van sy kop tot by sy tone. 26Hy het elke jaar sy hare laat afskeer omdat dit te swaar geword het vir hom, en die hare wat hy elke maal afgeskeer het, het 200 *sikkels geweeg op die *koningsmaat. 27Absalom het drie seuns en een dogter gehad. Die dogter se naam was Tamar, sy was ’n baie mooi vrou. 28Absalom was twee jaar lank terug in Jerusalem, maar hy het nog nie die koning gesien nie. 29Absalom het vir Joab laat weet dat hy vir Joab na die koning toe wil stuur, maar Joab wou nie na Absalom toe kom nie. Absalom het weer laat weet, maar Joab wou nie kom nie. 30Absalom sê toe vir sy *slawe: “Julle sien die land van Joab hier langs my grond. Joab het *gars wat daarop groei, gaan steek dit aan die brand.”

Die slawe van Absalom het toe die gars aan die brand gesteek. 31Toe kom Joab na Absalom se huis en hy vra vir Absalom: “Hoekom het jou slawe my gars aan die brand gesteek?”

32Absalom sê toe vir Joab: “Luister na my, ek het jou laat roep om hiernatoe te kom. Ek wil jou na die koning toe stuur. Ek wil hê jy moet vir hom vra hoekom hy gesê het ek moet terugkom uit Gesur. Dit sou vir my beter gewees het as ek daar gebly het. Daarom, ek wil nou die koning sien, en as ek *skuldig is, dan moet hy my doodmaak.”

33Joab het na die koning toe gegaan en hy het dit vir die koning vertel. Die koning het vir Absalom laat roep. Toe Absalom by die koning kom, het hy voor die koning gebuig met sy gesig teen die grond, en die koning het vir Absalom gesoen.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index