Search form

2 Timoteus 3

Daar sal tye kom wanneer mense sal swaarkry

1Maar jy moet weet dat dit sleg sal gaan in hierdie laaste dae van die wêreld. 2Mense sal selfsugtig wees en hulle sal baie lief wees vir geld. Hulle sal lief wees om te spog en hulle sal hoogmoedig wees. Hulle sal slegte dinge sê van ander mense, hulle sal ongehoorsaam wees aan hulle ouers en hulle sal ondankbaar wees. Hulle sal nie vir God wil dien nie, 3hulle sal vir niemand lief wees nie en hulle sal met niemand vrede wil maak nie. Hulle sal slegte dinge sê van ander mense, hulle sal doen wat hulle wil doen, hulle sal wild wees, hulle sal niks wil doen wat goed is nie. 4Hulle sal *verraaiers wees, hulle sal nie dink voordat hulle iets doen nie, hulle sal dink hulle is wonderlike mense, hulle sal lief wees om te doen wat vir hulle lekker is, hulle sal nie lief wees vir God nie. 5Dit sal miskien lyk of hierdie mense vir God dien, maar hulle sal nie lewe soos mense wat vir God dien nie. Jy moet wegbly van daardie mense. 6Want dit is daardie soort mense wat vals is wanneer hulle in huise inkom en wat dan die vroue alles laat glo wat hulle vir hulle leer, die vroue wat graag enige iets glo. Dit is vroue wat baie sonde gedoen het en wat altyd graag baie meer dinge wil hê. 7Hierdie vroue wil altyd meer leer, maar hulle weet nooit wat die waarheid van God is nie. 8Die mense wat vir die vroue leer, probeer keer dat hulle die waarheid hoor, soos *Jannes en Jambres vir Moses probeer keer het. Hulle is mense wat nie meer reg kan dink nie, hulle geloof beteken niks. 9Maar hulle is *dwase en hulle sal nie kan doen wat hulle wil doen nie. Almal sal kan sien dat hulle dwaas is, soos almal ook gesien het dat Jannes en Jambres dwaas is.

Paulus is ’n voorbeeld vir Timoteus

10Maar jy het begin om te doen wat ek doen, want jy leer vir die mense en jy lewe soos ek, jy maak dieselfde planne wat ek maak, jy glo soos ek, jy is geduldig, jy is lief vir mense en jy hou aan om te doen wat jy moet doen. 11Jy doen dit ook wanneer mense jou verdruk en jou laat swaarkry. Dieselfde het met my gebeur in die stede Antiogië, Ikonium en Listra. Ek het op baie maniere swaargekry, en die Here het my uit al my probleme gered. 12Al die mense wat aan Christus Jesus behoort en wat wil lewe soos God wil hê, sal swaarkry, 13en mense wat sleg is en wat ander mense *bedrieg, sal nog slegter word. Hulle sal ander mense *verlei, en ander mense sal húlle verlei.

14Maar jy, Timoteus, jy moet aanhou om die dinge te glo wat jy geleer het, dinge wat jy weet is waar, want jy weet wie dit vir jou geleer het. 15Jy ken die Ou Testament vandat jy ’n kind was en jy het daaruit geleer dat die Here ’n mens red as hy in Christus Jesus glo. 16Die hele Ou Testament kom van God, en ’n mens kan dit gebruik om vir mense te leer, om hulle te waarsku, om vir hulle te sê dat hulle verkeerd doen en dat hulle reg moet lewe. 17As jy dit doen, dan sal iemand wat aan God behoort, baie goed weet om elke goeie ding te kan doen.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index