Search form

Handelinge 13

Paulus se eerste reis: Die gemeente stuur vir Barnabas en Paulus

1Daar was *profete en *leermeesters in die gemeente in die stad Antiogië. Hulle was Barnabas en Simeon, Simeon se naam was ook Niger. Daar was ook Lucius van Sirene, Manaen wat grootgeword het saam met *Herodes Antipas, wat oor ’n deel van Palestina regeer het, en ook Saulus. 2Terwyl hulle besig was om die Here te dien en te *vas, het die Heilige Gees vir hulle gesê: “Ek het vir Barnabas en Saulus gekies om werk vir My te doen, julle moet nou vir hulle aanstel om die werk te gaan doen.”

3Nadat die gemeente gevas en gebid het en hulle *hande op Barnabas en Saulus gesit het, het die gemeente hulle gestuur om die werk te gaan doen.

Barnabas en Saulus preek in Siprus

4Toe die Heilige Gees vir Barnabas en Saulus gestuur het om te gaan preek, het hulle na die hawestad Seleukië gegaan en van daar het hulle met ’n skip na die eiland Siprus geseil. 5Toe hulle in die stad Salamis kom, het hulle aangehou om vir die mense die boodskap van God te bring in die *sinagoges van die Jode. Johannes was ook by Barnabas en Saulus om hulle te help. 6Hulle het deur die hele eiland gegaan tot by die stad Pafos. Daar het hulle ’n man ontmoet, sy naam was Barjesus. Hy was ’n Joodse *towenaar en ’n *vals profeet. 7Barjesus was daar by die *goewerneur, Sergius Paulus. Sergius Paulus was ’n *verstandige man. Die goewerneur het toe vir Barnabas en Saulus laat roep omdat hy baie graag die boodskap oor God wou hoor. 8In die Griekse taal was die towenaar se naam Elimas. Hy het vir Barnabas en Saulus probeer keer omdat hy nie wou hê dat die goewerneur in Jesus moet glo nie. 9Maar die Heilige Gees was in Saulus, Saulus se ander naam was Paulus. Hy het reguit na Elimas gekyk. 10Paulus het vir hom gesê: “Jy is ’n kind van *die duiwel. Jy *bedrieg mense en jy doen net verkeerde dinge. Jy is ’n vyand van alles wat reg is, jy moet ophou om die reguit paaie van die Here krom te maak. 11Die Here sal nou teen jou wees en jy sal blind wees en jy sal ’n tyd lank nie die son kan sien nie.”

Elimas het toe dadelik gedink dat dit donker geword het, soos onder ’n wolk, en hy het aangehou soek na mense wat sy hand kan neem om hom te lei. 12Toe die goewerneur sien wat gebeur het, het hy in Jesus geglo, en hy was baie verbaas oor wat die mense oor die Here geleer het.

Paulus en Barnabas in die stad Antiogië in die provinsie Pisidië

13Paulus en sy vriende het met ’n skip weggeseil van die hawe van Pafos en hulle het aangekom by die stad Perge in die provinsie Pamfilië. Johannes het daar weggegaan van hulle en hy het teruggegaan na Jerusalem. 14Maar Paulus en die ander vriende het van Perge verder gegaan na die stad Antiogië in die provinsie Pisidië. Op die *Sabbatdag het hulle in die *sinagoge ingegaan en gaan sit. 15Nadat iemand ’n deel uit die *Wette van Moses en ’n deel uit die boeke van die *profete gelees het, het die leiers van die sinagoge iemand na Paulus en sy vriende toe gestuur om vir hulle te sê: “Vriende, as iemand van julle iets wil sê om die volk te *bemoedig, dan moet julle nou praat.”

16Paulus het toe opgestaan en hy het met sy hand gewys dat hulle moet stilbly. Hy het gesê:

“Israeliete, en julle ander wat vir God respekteer, julle moet luister na wat ek sê. 17Die God van hierdie volk Israel het ons *voorouers gekies, en toe hulle *vreemdelinge in die land Egipte was, het Hy die volk baie meer laat word. Hy het gewys hoe sterk Hy is en Hy het die volk Israel uitgelei uit Egipte. 18God was omtrent 40 jaar lank baie geduldig met hulle in die woestyn. 19Toe het God sewe volke in die land Kanaän *verwoes en Hy het die land vir die Israeliete gegee om hulle land te wees, 20omtrent 450 jaar lank. En toe het God leiers gegee om oor hulle te regeer totdat Samuel, die profeet gekom het. 21En toe het die Israeliete ’n koning gevra, en God het Saul gegee om hulle koning te wees. Saul was die seun van Kis, ’n man uit die *Benjamin-stam. Saul was 40 jaar lank koning. 22En nadat God vir Saul laat ophou het om koning te wees, het Hy vir Dawid gekies en aangestel om koning te wees oor die Israeliete. God het gesê: ‘*Ek het gesien dat Dawid, die seun van Isai, ’n man is wat lewe soos Ek wil hê. Hy sal alles doen wat Ek wil hê.’ 23God het vir Israel die *Redder Jesus laat kom uit hierdie man se *nageslag. Dit is wat God belowe het om te doen. 24Voordat Jesus met sy werk begin het, het Johannes vir die hele volk Israel gepreek. Johannes het gesê die mense moet verander en hulle moet lewe soos God wil hê en hulle moet hulle laat doop. 25En toe Johannes aan die einde van sy werk gekom het, het hy baie maal gesê: ‘Wie dink julle is ek? Julle dink ek is die Een wat sal kom, soos God belowe het, maar ek is nie. Later sal daar Iemand kom, en ek is nie belangrik genoeg om sy sandale los te maak nie.’

26“Vriende, julle wat die *nageslag van Abraham is, en julle ander wat vir God respekteer, God het vir ons hierdie boodskap gestuur dat Hy ons red. 27Want die mense wat in Jerusalem woon en hulle leiers wou nie glo dat Jesus die Redder is nie. Toe hulle vir Jesus *ge-oordeel het, het hulle die woorde waar laat word wat die profete gesê het. Die Jode lees dit elke Sabbatdag in die boeke van die profete. 28Hierdie mense van Jerusalem en hulle leiers wou vir Jesus laat doodmaak, maar hulle kon nie sê hoekom hulle dit wou doen nie. Hulle het toe vir Pilatus gevra om te sê dat die soldate vir Jesus moet doodmaak. 29En nadat die Jode en hulle leiers alles gedoen het wat daar in die Ou Testament geskryf is oor Jesus, het vriende van Jesus Hom afgehaal van die *kruis en hulle het Hom begrawe. 30Maar God het vir Jesus wat gesterf het, weer laat lewe. 31Jesus het in ’n lang tyd verskillende male *verskyn aan die mense wat saam met Hom van Galilea na Jerusalem gegaan het. Hierdie mense is nou Jesus se *getuies by die volk. 32En óns bring vir julle die goeie boodskap oor die dinge wat God vir ons *voorouers belowe het. 33God het nou gedoen wat Hy belowe het, Hy het dit gedoen vir ons wat die *nageslag van ons voorouers is. Hy het dit gedoen toe Hy vir Jesus wat gesterf het, weer laat lewe het, soos daar in die tweede Psalm geskryf is:

*Jy is my Seun,

Ek is van vandag af jou Vader.

34“Ons wil ook vir julle die goeie boodskap bring dat God vir Jesus wat gesterf het, weer laat lewe het en dat Jesus nie weer sal sterf nie. God het dit so in die Ou Testament gesê:

*Ek sal vir julle die dinge gee

wat Ek vir Dawid belowe het,

en julle moet weet dat die dinge

wat Ek belowe het, waar is.

35“Daarom sê Dawid ook in ’n ander Psalm:

*Ek is aan U *gewy,

U sal my nie laat sterf nie.

36“Dawid het sy mense gedien soos God besluit het, en toe het hy gesterf. Hulle het vir Dawid begrawe by sy *voorvaders en daar het niks van hom oorgebly nie, sy liggaam het stof geword. 37Maar God het vir Jesus wat gesterf het, weer laat lewe, en sy liggaam het nie stof geword nie. 38Vriende, Jesus het dit alles gedoen, en daarom moet julle weet dat ons vir julle kan preek dat God sondes vergewe. Die *Wette van Moses kon julle nie *vryspreek nie, maar God vergewe ook al hierdie sondes. 39En God spreek elkeen vry wat in Jesus glo. 40Julle moet nou oppas dat die dinge wat die profete gesê het, nie met julle gebeur nie. Hulle het gesê:

41*Julle wat dink dat die Here

nie belangrik is nie,

julle moet kyk na wat

sal gebeur,

julle moet verbaas wees

en verdwyn

want Ék sal nou iets doen,

iets wat julle nie sal glo

wanneer iemand dit vir julle

vertel nie.”

42Terwyl Paulus en Barnabas uit die sinagoge gegaan het, het die mense hulle gevra om op die volgende Sabbatdag weer oor hierdie dinge te praat. 43En toe die vergadering in die sinagoge klaar was, het baie van die Jode en die ander mense saam met Paulus en Barnabas gegaan. Die ander mense het vir God gerespekteer omdat hulle die Jode se godsdiens aanvaar het. En Paulus en Barnabas het met hulle gepraat en vir hulle gesê hulle moet aanhou om te glo in die boodskap van God se *genade.

44Die volgende Sabbatdag het amper al die mense in die stad saamgekom om te luister na die boodskap van die Here. 45Toe die Jode die baie mense sien, was hulle baie jaloers. Hulle het sleg gepraat van Paulus en hulle het elke maal met hom gestry oor die dinge wat hy gesê het. 46Maar Paulus en Barnabas was nie bang nie en hulle het gesê: “Dit was reg dat ons eers vir júlle die boodskap van God moes bring. Maar omdat julle dit nie glo nie, wys julle dat julle nie goed genoeg is om die *ewige lewe te kry nie. Daarom gaan ons nou na die *heidene. 47Want die Here het hierdie woorde vir ons gesê:

*Ek het jou gekies en aangestel

om ’n lig te wees

vir die ander volke,

en jy moet vir hulle vertel

dat Ek al die mense

op die aarde wil red.”

48Toe die heidene hoor wat Paulus en Barnabas gesê het, was hulle baie bly en hulle het die Here geprys oor sy boodskap vir hulle. Die Here het mense gekies om die ewige lewe te kry, en al daardie mense het begin glo. 49Meer en meer mense rondom die stad Antiogië in Pisidië het die boodskap van die Here gehoor. 50Maar die Jode het gepraat met die belangrike vroue wat vir God respekteer, en met die belangrike mans in die stad. Die Jode het vir hulle gesê hulle moet téén Paulus en Barnabas wees. Ja, die Jode het begin om vir Paulus en Barnabas baie swaar te laat kry, en die Jode het hulle weggejaag van daardie plek. 51Paulus en Barnabas het die *stof van hulle voete afgeskud om ’n *teken te wees teen die Jode, en toe het hulle na die stad Ikonium gegaan. 52Die *gelowiges het aangehou om bly te wees, en die Heilige Gees was in hulle.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index