Search form

Handelinge 15

Die vergadering in Jerusalem

1Daar het party mense van die land Judea gekom na die stad Antiogië in die provinsie Sirië. Hulle het vir die *gelowiges geleer en gesê: “As iemand julle nie *besny soos die *Wette van Moses sê nie, dan kan God julle nie red nie.”

2Maar Paulus en Barnabas het reguit gesê dat hierdie mense wat van Judea gekom het, verkeerd is, en hulle het met die mense gestry. Toe het die gemeente besluit dat Paulus en Barnabas en party ander mense van die gemeente na die *apostels en *ouderlinge in Jerusalem moet gaan om met hulle te praat oor hierdie dinge waaroor hulle so gestry het. 3Die gemeente in Antiogië het vir Paulus en Barnabas en die ander mense gestuur, en hulle het deur die land Fenisië en die provinsie Samaria gegaan. Hulle het vir die gelowiges vertel dat die *heidene verander het en dat hulle begin lewe het soos God wil hê, en so het Paulus en sy vriende al die gelowiges baie bly gemaak. 4In Jerusalem het die gemeente en die apostels en die ouderlinge vir Paulus, Barnabas en die ander vriende gesê dat hulle welkom is. Toe het Paulus, Barnabas en die ander vriende vir die mense vertel van alles wat God vir hulle laat doen het. 5Maar party van die gelowiges was *Fariseërs voordat hulle in Christus begin glo het. Hulle het opgestaan en gesê: “Daardie heidene wat nou in Christus glo, moet besny word. Julle moet ook vir hulle sê dat hulle moet doen wat die Wette van Moses sê.”

6Die apostels en die ouderlinge het toe vergadering gehou om hieroor te praat. 7Nadat hulle baie met mekaar hieroor gestry het, het Petrus opgestaan en vir hulle gesê: “Vriende, julle weet dat God lank gelede vir my gekies het om die goeie boodskap te bring sodat die heidene dit kan hoor en kan begin glo in die Here. 8God weet hoe ’n mens se hart regtig is. God het vir die heidene wat begin glo het, die Heilige Gees gegee, soos Hy voorheen die Heilige Gees ook vir ons gegee het. So het God vir die mense gewys dat dit Hý is wat werk. 9God het ook nie gedink dat die heidene anders is as ons wat Jode is nie, want Hy het vir die heidene *rein gemaak omdat hulle in Christus glo. 10Julle moenie nou vir God toets en kwaad maak nie, moenie ’n *juk sit op die nek van die gelowiges wat voorheen heidene was nie. Julle weet dat julle *voorouers nie so ’n juk kon dra nie, en ons kan ook nie. 11Nee, ons glo dat God ook vir ons red soos Hy die heidene red, omdat die Here Jesus *genadig is vir ons.”

12Al die mense het stilgebly en hulle het geluister na Barnabas en Paulus. Barnabas en Paulus het vir hulle vertel van die *tekens en *wonderwerke wat God hulle laat doen het tussen die heidene. 13Toe Barnabas en Paulus klaar gepraat het, het Jakobus gesê: “Vriende, luister na my. 14Simeon het vir ons vertel hoe God begin het om te wys dat Hy vir die heidene wil sorg. God het dit gewys toe Hy uit die heidene ’n volk geneem het om aan Hom te behoort. 15Die *profete sê ook soos Simeon. Daar is geskryf:

16“Die Here het gesê:

*Daar sal ’n tyd kom wanneer Ek

die *nageslag van koning Dawid

weer sal laat regeer.

Hulle is soos ’n huis

wat omgeval het,

soos ’n muur wat afgebreek is.

En dan sal Ek terugkom

en Ek sal die huis van Dawid

wat omgeval het,

weer bou,

en Ek sal sy mure

wat afgebreek is,

weer bou.

En die huis van Dawid sal weer

wees soos hy altyd was.

17Ek sal dit doen sodat

al die ander mense

na die Here toe sal kom

en sodat al die heidene

na die Here toe sal kom,

Ek het hulle gekies om aan

My te behoort.

*Die Here wat al hierdie dinge doen,

het dit gesê.

18Hy het dit lank gelede gesê.

19“Daarom dink ek dat ons dit nie moeilik moet maak vir die heidene wat verander en wat begin lewe soos God wil hê hulle moet lewe nie. 20Nee, ons moet vir hulle skryf om nie *afgod-offervleis te eet nie. Hulle moet ook nie *onsedelik lewe nie, hulle moenie iets eet wat verwurg is nie, en hulle moet ook nie bloed eet nie. 21Want van lank gelede af was daar in elke stad mense wat vir ander mense vertel het van die Wette van Moses. Daarom het hulle elke *Sabbatdag in die *sinagoges vir mense uit die Wette van Moses gelees.”

Die vergadering in Jerusalem stuur ’n brief na gelowiges wat voorheen heidene was

22Toe het die *apostels en die *ouderlinge en die hele gemeente in Jerusalem besluit om mans te kies en om hulle saam met Paulus en Barnabas na die stad Antiogië te stuur. Die mans wat hulle gekies het, was leiers van die *gelowiges. Hulle was Judas en Silas. Judas se ander naam was Barsabbas. 23Die apostels en ouderlinge het ’n brief geskryf wat hulle saam met Judas en Silas gestuur het. In die brief was geskryf: “Ons, die apostels en ouderlinge, julle broers, skryf vir die gelowiges wat voorheen heidene was in die stad Antiogië en in die provinsies Sirië en Silisië. Ons stuur groete vir julle. 24Ons het gehoor dat party mense hier van Jerusalem na julle toe gegaan het en dat hulle vir julle deurmekaar gemaak en ontstel het. Ons het hulle nie na julle toe gestuur nie. 25Daarom het ons met mekaar gepraat en ons almal het besluit om mans te kies en om hulle saam met Barnabas en Paulus na julle toe te stuur. Ons is lief vir Barnabas en Paulus, 26en hulle is mense wat amper gesterf het toe mense hulle wou doodmaak omdat hulle in die Here Jesus Christus geglo het. 27Daarom het ons vir Judas en Silas gestuur sodat hulle vir julle dieselfde dinge kan vertel wat ons geskryf het. 28Want die Heilige Gees en ons het besluit om dit nie vir julle moeiliker te maak nie, maar dit is belangrik dat julle net hierdie dinge moet doen: 29Julle moenie *afgod-offervleis en bloed eet nie, julle moenie iets eet wat verwurg is nie, en julle moenie onsedelik lewe nie. As julle nie hierdie dinge doen nie, dan sal julle reg doen. Groete.”

30Nadat die mense in Jerusalem vir Judas, Silas, Barnabas en Paulus laat gaan het, het hulle na die stad Antiogië in die provinsie Sirië gegaan. Daar het hulle al die gelowiges geroep om bymekaar te kom en hulle het die brief vir hulle gegee. 31Toe die gelowiges die brief gelees het, was hulle baie bly oor die boodskap, dit het vir hulle *bemoedig. 32Judas en Silas was self ook *profete en hulle het lank met die gelowiges gepraat om hulle te bemoedig en om hulle geloof sterker te maak. 33Nadat Judas en Silas ’n tyd lank daar gebly het, het die gelowiges hulle laat gaan, en hulle het groete gestuur vir die mense in Jerusalem wat vir Judas en Silas na Antiogië gestuur het. 34* 35Maar Paulus en Barnabas het ’n tyd lank in Antiogië gebly. Daar het hulle saam met baie ander gelowiges vir die mense geleer en hulle het die goeie boodskap van die Here gebring.

Paulus se tweede reis: Paulus en Barnabas gaan weg van mekaar

36Ná ’n tyd het Paulus vir Barnabas gesê: “Kom ons gaan terug om te kyk hoe dit met die *gelowiges gaan in elke stad waar ons die boodskap van die Here gebring het.” 37Barnabas wou toe vir Johannes ook saamneem. Johannes se ander naam was Markus. 38Maar Paulus het nie gedink dat dit reg is om Johannes saam met hulle te neem nie, want hy het weggegaan van hulle toe hulle in die provinsie Pamfilië was en hy het nie verder saam met hulle gegaan om die werk te doen nie. 39Paulus en Barnabas het toe begin stry en hulle het toe weggegaan van mekaar. Barnabas het vir Markus saamgeneem en hulle het met ’n skip na die eiland Siprus geseil. 40Maar Paulus het vir Silas gekies om saam met hom te gaan. Nadat die gelowiges tot die Here gebid het om vir Paulus en Silas *genadig te wees, het Paulus en Silas weggegaan. 41Hulle het deur die provinsies Sirië en Silisië gegaan en hulle het die gemeentes *bemoedig.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index