Search form

Handelinge 16

Timoteus gaan saam met Paulus en Silas

1Paulus het ook in die stede Derbe en Listre gekom. In Listre was daar ’n *gelowige, sy naam was Timoteus. Hy was die seun van ’n Joodse vrou wat ’n gelowige was, en sy pa was ’n Griek. 2Die gelowiges in die stede Listre en Ikonium het goeie dinge oor Timoteus gesê. 3Paulus wou hê dat Timoteus saam met hom moes gaan. Daarom het Paulus hom geneem en hy het hom *besny. Paulus het dit gedoen omdat al die Jode wat in daardie stede was, geweet het dat Timoteus se pa ’n Griek was. 4Toe Paulus en sy vriende deur die stede gegaan het, het hulle vir die gelowiges vertel wat die *apostels en die *ouderlinge in Jerusalem besluit het. Hulle het ook vir die gelowiges gesê dat hulle moet doen wat die apostels en die ouderlinge besluit het. 5Paulus en sy vriende het aangehou om die gelowiges in die gemeentes sterker te laat glo, en elke dag het meer en meer mense in Christus begin glo.

Die Here wys iets vir Paulus in Troas

6Die Heilige Gees het vir Paulus en sy vriende gekeer sodat hulle nie die boodskap in die provinsie *Asië kon bring nie. Daarom het hulle deur die lande Frigië en Galasië gegaan. 7En toe hulle oorkant die provinsie Misië kom, het hulle probeer om na die provinsie Bitinië te gaan, maar die Gees van Jesus het hulle gekeer om dit te doen. 8Hulle het toe deur Misië gegaan en hulle het na die hawestad Troas gegaan. 9In die nag het die Here vir Paulus iets gewys, dit was soos in ’n droom. ’n Man van die provinsie Masedonië het daar gestaan en hy het vir Paulus mooi gevra: “Kom asseblief oor die see na ons toe en kom help ons.”

10Nadat die Here dit vir Paulus gewys het, het ons dadelik probeer om met die skip na Masedonië te seil omdat ons geglo het dat God ons gekies het om die goeie boodskap vir daardie mense te bring.

Lidia begin om te lewe soos God wil hê sy moet lewe

11Ons het met die skip weggeseil van die hawestad Troas, en toe het ons reguit na die eiland Samotrake geseil. Die volgende dag het ons na die hawestad Neapolis geseil. 12Ons het van daardie stad na die stad Filippi geloop. Dit was ’n stad in die eerste deel van die provinsie Masedonië. Die stad was ook ’n *kolonie van Rome. Ons het ’n paar dae in daardie stad gebly. 13Op die *Sabbatdag het ons uitgegaan by die stad se *poort en ons het gegaan na ’n plek langs die rivier. Ons het geweet dat die Jode altyd daar kom bid. Ons het gaan sit en ons het begin praat met die vroue wat daar saam was. 14Daar was ’n vrou, haar naam was Lidia. Sy het ook na ons geluister. Sy het van die stad Tiatira gekom en sy was ’n *handelaar in pers materiaal. Sy was nie ’n Jood nie, maar sy het vir God gedien. Die Here het haar hart oopgemaak om baie goed te luister na wat Paulus gesê het. 15Hulle het toe vir haar en die mense in haar huis gedoop. Toe het sy ons genooi en gesê: “As julle dink dat ek regtig in die Here glo, dan moet julle na my huis kom en julle moet daar kom bly.”

En sy het aangehou om dit vir ons te sê totdat ons na haar huis gegaan het.

Paulus en Silas is in die tronk in Filippi

16Ons was eendag besig om na die plek te gaan waar die Jode gewoonlik gaan bid het. ’n *Slavin het na ons toe gekom. Sy het ’n *bose gees in haar gehad. Sy het altyd gesê wat in die toekoms sal gebeur, en so het sy baie geld gekry vir haar eienaars. 17Hierdie slavin het agter Paulus en ons geloop en sy het aangehou om te skree: “Hierdie manne is *dienaars van die *Hoogste God. Hulle vertel vir julle hoe God vir julle kan red.”

18En sy het ’n lang tyd aangehou om dit te doen. Toe het Paulus kwaad geword, hy het omgedraai en vir die bose gees gesê: “Jesus Christus het vir my gesê ek moet vir jou sê: Gaan uit haar uit!”

Die bose gees het dadelik uit haar uitgegaan. 19Die eienaars van die slavin het besef dat hulle haar nie meer kan gebruik om vir hulle geld te verdien nie. Hulle het vir Paulus en Silas gegryp en na die *mark gesleep. Die leiers van die stad was daar. 20Toe die eienaars van die slavin vir Paulus en Silas voor die Romeinse *regeerders gebring het, het die eienaars gesê: “Hierdie mense is Jode en hulle maak die mense in ons stad *opstandig. 21Hulle vertel vir ons om dinge te doen, maar ons dink nie dit is reg nie, en ons mag dit nie doen nie, want ons is Romeine.”

22Baie mense het toe saam met die eienaars van die slavin vir Paulus en Silas aangeval. Die Romeinse regeerders het Paulus en Silas se klere van hulle laat afskeur en hulle het gesê dat die soldate hulle met stokke moet slaan. 23Nadat die soldate hulle baie geslaan het, het hulle vir Paulus en Silas in die tronk gegooi en die soldate het vir die *wag gesê dat hy hulle baie goed moet oppas. 24Die wag het toe vir Paulus en Silas in die binneste deel van die tronk gegooi en hy het hulle voete in ’n *blok gesit.

25In die middel van die nag was Paulus en Silas besig om te bid en om liedere te sing om God te prys. Die ander *gevangenes het na hulle geluister. 26Skielik was daar ’n groot aardbewing en die *fondamente van die tronk het gebewe. Dadelik het al die deure van die tronk oopgegaan en almal se kettings het afgeval. 27Toe die wag wakker word en sien dat die deure van die tronk oop is, het hy sy swaard uitgetrek. Hy wou homself doodmaak omdat hy gedink het dat die gevangenes almal weggevlug het. 28Maar Paulus het baie hard vir hom geskree: “Moenie jouself doodmaak nie, ons is nog almal hier.”

29Toe het die wag gevra dat iemand ’n lig moet bring en hy het in die binneste deel van die tronk ingehardloop. Hy het gebewe en hy het voor Paulus en Silas se voete op die grond geval. 30Nadat hy hulle buitetoe geneem het, het hy gesê: “Menere, wat moet ek doen sodat God my kan red?”

31Hulle sê toe vir hom: “Jy moet glo in die Here Jesus en dan sal God jou red, vir jou en jou huisgesin.”

32En Paulus en Silas het vir die wag en al die mense in sy huisgesin vertel van die boodskap van die Here. 33Die wag het toe vir hulle laat in die nag saamgeneem en hy het hulle seerplekke gewas. En Paulus het hom en al die mense in sy huisgesin dadelik gedoop. 34Die wag het hulle toe na sy huis gebring en hy het vir hulle kos gegee om te eet. Hy en almal in sy huisgesin was baie bly omdat hulle nou in God begin glo het.

35Die volgende oggend het die Romeinse regeerders die polisie na die wag toe gestuur om vir hom te sê: “Jy moet daardie manne vry laat weggaan uit die tronk.”

36Die wag het toe vir Paulus vertel wat die polisie gesê het. Hy het gesê: “Die Romeinse regeerders het vir my ’n boodskap gestuur dat ek julle vry moet laat weggaan. Kom nou uit en gaan weg met vrede in julle harte.”

37Maar Paulus het vir die polisie gesê: “Ons is *Romeinse burgers, en niemand het ons in ’n hof *ge-oordeel nie. Maar die Romeinse regeerders het ons laat slaan waar almal dit kon sien, en hulle het ons in die tronk laat gooi. En nou wil hulle vir ons laat uitgaan uit die tronk en hulle wil hê niemand moet dit weet nie. Dit sal glad nie gebeur nie! Daardie Romeinse regeerders moet kom en hulle moet self vir ons uit die tronk lei.”

38Die polisie het hierdie dinge vir die Romeinse regeerders gaan vertel. Toe hulle hoor dat Paulus en Silas Romeinse burgers is, het hulle bang geword. 39Hulle het toe gegaan en hulle het mooi met Paulus en Silas gepraat en gesê dat hulle jammer is oor wat hulle gedoen het. Die Romeinse regeerders het hulle uit die tronk geneem en vir hulle gevra om weg te gaan van die stad. 40Nadat Paulus en Silas uit die tronk gegaan het, het hulle na Lidia se huis gegaan. Daar het hulle die *gelowiges gesien en hulle het die gelowiges *bemoedig. Toe het Paulus en Silas weggegaan van Filippi.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index