Search form

Handelinge 19

Paulus in Efese

1Terwyl Apollos in die stad Korinte was, het Paulus deur ander plekke in die provinsie *Asië gegaan en hy het in die stad Efese gekom. Daar het hy ’n paar *gelowiges gekry 2en hy het vir hulle gevra: “Het die Heilige Gees in julle gekom toe julle in Jesus begin glo het?”

Hulle antwoord toe vir Paulus: “Nee, ons het nie die Heilige Gees gekry nie en ons het ook nog nie gehoor dat daar ’n Heilige Gees is nie.”

3Paulus vra toe vir hulle: “Met watter doop is julle gedoop?”

Hulle het vir Paulus gesê: “Ons is gedoop met die doop van Johannes die Doper.”

4Maar Paulus het gesê: “Johannes het mense gedoop sodat hulle sal verander en sal lewe soos God wil hê. Johannes het ook vir die volk gesê dat hulle in die Een moet glo wat later sal kom. Daardie Persoon is Jesus.”

5En toe hulle dit hoor, is hulle gedoop *in die Naam van die Here Jesus. 6Paulus het sy *hande op hulle gesit, en toe het die Heilige Gees in hulle gekom. Hulle het begin om *in tale te praat en om die boodskap van God te bring. 7Hulle almal saam was omtrent twaalf mans.

8Paulus het toe na die *sinagoge gegaan en hy het drie maande lank elke dag met die Jode gepraat. Hy was nie bang nie, hy het vir hulle gesê dat God Koning is oor almal. Hy het hard probeer dat hulle dit ook moet glo, soos hy. 9Maar party van die Jode het hardkoppig gebly en hulle het *ongelowiges gebly. Hulle het aangehou om sleg te praat van “*Die Pad,” hulle het dit gedoen waar al die mense dit kon hoor. Paulus het toe weggegaan van die Jode en hy het die gelowiges weggeneem saam met hom. Hy het toe elke dag met hulle gepraat in die skool van Tirannus. 10Paulus het dit twee jaar lank gedoen. So het al die mense wat in die provinsie Asië woon, al die Jode en die Grieke, die boodskap oor die Here gehoor.

Die seuns van Skeva probeer bose geeste uit mense jaag

11God het vir Paulus *wonderwerke laat doen, en die mense was verbaas daaroor. 12Daarom het party mense lappe en klere wat Paulus gedra het, op siek mense gesit. Dan het die mense gesond geword en die *bose geeste het uit hulle uitgegaan. 13Daar was ook Jode wat na verskillende stede gegaan het om bose geeste uit mense te jaag. Wanneer hulle dit probeer doen het, dan het hulle die Here Jesus se Naam gesê. Hulle het gesê: “Julle moet uitgaan uit hierdie persoon, ons sê dit vir julle. Jesus het gesê ons mag dit sê. Dit is dieselfde Jesus oor wie Paulus preek.”

14Daar was ’n Joodse *priesterleier, Skeva. Hy het sewe seuns gehad. Hulle het ook só probeer om die bose geeste uit mense te jaag. 15Maar die bose gees het hulle geantwoord en gesê: “Jesus, ja ek ken Hom, en ek weet van Paulus, maar júlle, ek ken julle nie.” 16En die man wat die bose gees in hom gehad het, spring toe op hulle. Hy het hulle almal aangeval en hy het hulle baie geslaan. Hulle het uit daardie huis gevlug en hulle was kaal en vol seerplekke. 17Al die Jode en die Grieke wat in die stad Efese gewoon het, het gehoor wat gebeur het. Toe het hulle almal bang geword, en hulle het die Naam van die Here Jesus geprys. 18Baie van die mense het *gelowiges geword. Hulle het gekom en hulle het *bely dat hulle verkeerde dinge gedoen het. Hulle het vir almal vertel wat hulle alles gedoen het. 19Baie van die mense wat voorheen *getoor het, het hulle *boekrolle gebring en hulle het dit verbrand waar al die mense dit kon sien. Die mense het getel hoeveel al die boeke gekos het, en dit was 50 000 *silwer geldstukke. 20Omdat hierdie dinge gebeur het, het meer en meer mense die boodskap van die Here gehoor en dit geglo.

Die mense van die stad Efese word kwaad

21Nadat al hierdie dinge gebeur het, het die Heilige Gees vir Paulus laat besluit om deur die provinsies Masedonië en Agaje te gaan tot in Jerusalem. Paulus het gesê: “Nadat ek in Jerusalem was, moet ek ook na die stad Rome gaan.”

22Hy het toe twee van sy helpers, Timoteus en Erastus, na Masedonië gestuur. Maar Paulus het self nog ’n tyd lank in die provinsie *Asië gebly.

23In daardie tyd was die mense in die stad Efese baie kwaad en ontsteld oor “*Die Pad.” 24Daar was ’n *silwersmid in Efese. Sy naam was Demetrius. Hy het klein huisies van silwer gemaak, die huisies het gelyk soos die *tempel van *Artemis. So het Demetrius gesorg dat die *ambagsmanne altyd baie werk gekry het. 25Hy het toe al hierdie ambagsmanne en ander mense wat ook dieselfde werk gedoen het, geroep om bymekaar te kom, en hy het vir hulle gesê: “Mense, julle weet dat hierdie werk wat ons doen, vir ons ryk maak. 26Julle sien en hoor ook wat hierdie Paulus in Efese en in die hele provinsie Asië gedoen het. Hy het baie mense verkeerde dinge laat begin glo. Hy het vir hulle gesê: ‘Mense maak hierdie *gode met hulle hande, maar die gode lewe nie regtig nie.’ 27Daar sal nou ’n groot probleem kom. Ons is bekommerd dat die mense sleg sal praat van ons werk, en ook dat die mense sal dink die tempel van die groot *godin Artemis beteken niks. Al die mense van Asië en die mense van die hele wêreld, almal wat vir Artemis respekteer, sal nie meer dink dat sy so groot en belangrik is nie.”

28Toe die manne dit hoor, het hulle baie kwaad geword en geskree: “Artemis van die Efesiërs is baie belangrik!”

29Al die mense in die stad het *opstandig geword. Hulle hardloop toe almal saam na die *teater. Hulle het ook vir Gaius en Aristargus gegryp en saamgeneem. Gaius en Aristargus het van die provinsie Masedonië gekom en hulle het oral saam met Paulus gegaan. 30Paulus wou na die vergadering van die volk gaan om met die mense te praat, maar die *gelowiges het gesê hy mag nie gaan nie. 31Party van die belangrike leiers van die provinsie Asië was ook Paulus se vriende. Hulle het vir Paulus ’n boodskap gestuur en hulle het vir hom mooi gevra om nie na die teater te gaan nie. 32Party mense het iets geskree, en ander mense het iets anders geskree. Al die mense in die vergadering was deurmekaar, en baie mense het nie geweet hoekom hulle daar bymekaargekom het nie. 33Die Jode het vir Aleksander vorentoe gestoot, en party van die mense het toe vir hom gesê wat hy moet sê. Hy wys toe met sy hand dat hy vir die vergadering van die volk wou sê wat gebeur het. 34Toe hulle uitvind dat Aleksander ’n Jood is, het hulle almal saam omtrent twee uur lank aangehou skree en gesê: “Artemis van die Efesiërs is baie belangrik!”

35Die *hoof-amptenaar het die mense stilgemaak, en toe het hy vir hulle gesê: “Efesiërs, al die mense weet dat die stad van die Efesiërs die tempel van die groot Artemis beskerm, en die stad beskerm ook Artemis se *beeld wat uit die hemel geval het. 36Dit is die waarheid, niemand kan oor hierdie dinge stry nie. Julle moet nou kalm en rustig wees en julle moenie haastig wees om iets verkeerd te doen nie. 37Want julle het hierdie mans hiernatoe gebring, maar hulle is nie mense wat dinge uit tempels steel nie én hulle is ook nie mense wat slegte dinge van ons godin sê nie. 38Daar is *goewerneurs en die hof is oop. As Demetrius en die ambagsmanne saam met hom iemand wil beskuldig, dan moet hulle hom na die hof vat. 39Maar as julle ook oor iets anders wil praat, dan moet die *volksvergadering daaroor besluit. 40Want mense sal miskien vir ons beskuldig en sê dat ons vandag geskree en geraas het, maar ons weet nie hoekom nie. Ons sal ook nie kan sê hoekom ons kwaad geword het nie.”

En nadat die hoof-amptenaar hierdie dinge gesê het, het hy gesê die vergadering is verby.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index