Search form

Handelinge 21

Paulus gaan na Jerusalem

1Paulus en ons het totsiens gesê vir die *ouderlinge van die stad Efese, en toe het ons weggeseil met die skip. Ons het reguit geseil tot by die eiland Kos. Die volgende dag het ons tot by die eiland Rodos geseil en toe tot by die stad Patara. 2In Patara het ons ’n skip gekry wat na die land Fenisië sou seil. Ons het op die skip geklim en weggeseil. 3Ons het verder geseil en ons kon die eiland Siprus sien. Ons het nog verder geseil en ons het regs verby Siprus geseil tot by Sirië. Ons het by die stad Tirus afgeklim, want die mense moes daar die goed aflaai wat op die skip was. 4Ons het die *gelowiges in Tirus gaan soek en ons het sewe dae lank by hulle gebly. Hulle het vir Paulus gesê die Heilige Gees het gesê hy moenie na Jerusalem gaan nie. 5Toe die sewe dae verby was, het ons uit die stad gegaan om verder te gaan. Al die gelowiges, ook hulle vrouens en kinders, het saam met ons uit die stad gegaan. Ons het op die strand gekniel en gebid. 6Toe het ons mekaar gegroet en ons het op die skip geklim. Die gelowiges het teruggegaan huis toe.

7Ons het van Tirus verder met die skip geseil en ons het by die stad Ptolemaïs gekom. Ons het die gelowiges daar gegroet en ons het een dag lank by hulle gebly. 8Die volgende dag het ons verder gegaan en ons het by die stad Sesarea gekom. Daar het ons na die huis van Filippus gegaan en ons het by hom gebly. Hy was een van sewe leiers wat die goeie boodskap van God in Sesarea gebring het. 9Filippus het vier dogters gehad, hulle was nog nie getroud nie. Die vier dogters was *profete.

10Ons het ’n lang tyd daar gebly. Terwyl ons daar was, het ’n profeet van Judea daar aangekom. Sy naam was Agabus. 11Agabus het na ons toe gekom en hy het Paulus se belt gevat. Agabus het sy eie hande en voete met die belt vasgebind en gesê: “Die Heilige Gees sê die Jode in Jerusalem sal die man wat altyd hierdie belt dra, só vasbind. En hulle sal hom dan vir die *heidene gee.”

12Toe ons hoor wat Agabus sê, het ons en die gelowiges wat daar woon, vir Paulus ernstig gevra om nie na Jerusalem te gaan nie. 13Toe sê Paulus: “Wat doen julle nou? Julle huil en julle maak my hartseer! Ek is gereed om te gaan. Die mense kan my vang in Jerusalem, dit maak nie saak nie. Ja, ek is ook gereed om in Jerusalem te sterf vir die Naam van die Here Jesus.”

14Paulus wou nie luister na wat ons vir hom sê nie, en daarom het ons stilgebly. Ons het net gesê: “Ons bid dat die Here sal doen wat Hy wil doen.”

15Nadat hierdie tyd verby was, het ons gereedgemaak om na Jerusalem te gaan. 16Party van die gelowiges van Sesarea het saam met ons gegaan. Hulle het ons in Jerusalem gebring na die huis van Mnason. Mnason het voorheen op die eiland Siprus gewoon en hy het lank gelede ’n gelowige geword. Ons het by hom in Jerusalem gebly.

Paulus besoek vir Jakobus in Jerusalem

17Toe ons in Jerusalem aankom, was die *gelowiges daar baie bly om ons te sien.

18Die volgende dag het Paulus saam met ons na Jakobus se huis gegaan. Al die *ouderlinge was daar. 19Paulus het hulle gegroet en toe het hy alles vertel wat God gedoen het, en hoe hy God se werk by die *heidene gedoen het.

20Toe hulle hoor wat Paulus sê, het hulle God geprys. En hulle het vir Paulus gesê: “Vriend, jy weet daar is duisende Jode wat in Christus glo, en hulle is almal baie gehoorsaam aan die *wette. 21Party mense het vir hulle gesê dat jy vir al die Jode wat by die heidene woon, sê hulle moenie doen wat in Moses se wette geskryf is nie. Hulle sê dat jy sê daardie Jode moenie hulle kinders *besny nie en hulle moenie soos Jode lewe nie.

22“Ons weet nou nie wat om te doen nie. Die Jode wat in Christus glo, sal hoor dat jy na Jerusalem gekom het. Dit is seker! 23Jy moet nou maak soos ons vir jou sê. Hier is vier mans by ons, hulle het ’n *gelofte gemaak. 24Wanneer hulle vir hulle laat *reinig, dan moet jy ook vir jou laat reinig. En jy moet betaal sodat hulle al hulle *hare kan laat afskeer. Dan sal almal weet die dinge is nie waar wat mense oor jou sê nie. Hulle sal weet dat jy self ook reg lewe en doen wat die wette sê. 25Maar ons het ’n brief geskryf vir die heidene wat in Christus glo. Ons het vir hulle geskryf dat ons besluit het dat hulle nie *afgod-offervleis moet eet nie, hulle moet ook nie bloed eet of iets eet wat verwurg is nie, en hulle moenie *onsedelik lewe nie.”

26Paulus het toe gesê die mans moet saam met hom gaan. Die volgende dag het hy homself laat reinig saam met hulle. Toe het hy ingegaan in die *tempel. Hy het daar vir almal gesê hoe lank hy en die vier mans hulle sal laat reinig. Hy het ook gesê op watter dag dit verby sal wees en wanneer elkeen van hulle ’n *offer sal bring.

Die Jode vang vir Paulus in die tempel

27Die *sewe dae wat Paulus en die vier mans hulle laat *reinig het, was amper verby. Toe het Jode wat van die provinsie *Asië gekom het, vir Paulus in die *tempel gesien. Hulle het so geskree dat almal in die tempel kwaad geword het vir Paulus en hulle het vir Paulus gevang. 28Hulle het hard geskree en gesê: “Israeliete, julle moet kom help! Hier is die man wat oral vir almal dinge leer wat teen ons volk is, en wat ook teen ons *wette en teen die tempel is. Hy het ook Grieke ingebring in die tempel en so het hy hierdie *gewyde plek *onrein gemaak.”

29Die Jode uit Asië het so gesê, want hulle het voorheen gesien dat Trofimus saam met Paulus in Jerusalem is. Trofimus was ’n Griek van die stad Efese. Daarom het hulle gedink Paulus het vir Trofimus saamgebring na die tempel.

30Almal in die stad het kwaad geword en die mense het na die tempel gehardloop. Hulle het vir Paulus gegryp en hulle het hom uit die tempel gesleep. Die mense by die tempel het die tempel se deure dadelik toegemaak. 31Die Jode het probeer om vir Paulus dood te maak. Maar iemand het vir die *hoof-offisier van die Romeinse soldate gaan sê dat al die mense van Jerusalem kwaad is en dat hulle baie raas. 32Die hoof-offisier het dadelik vir sy soldate en *offisiere gesê hulle moet saam met hom kom, en hulle almal het na die tempel gehardloop. Toe die Jode die hoof-offisier en die soldate sien, het hulle opgehou om vir Paulus te slaan. 33Die hoof-offisier het nader geloop en hy het vir sy soldate gesê hulle moet vir Paulus ’n *gevangene maak. Hy het ook vir Paulus laat vasbind met twee kettings. Die hoof-offisier het vir die Jode gevra wie Paulus is en wat hy verkeerd gedoen het.

34Party Jode het iets geskree en party Jode het iets anders geskree. Hulle het so baie geraas dat die hoof-offisier nie kon uitvind wat regtig gebeur het nie. Daarom het hy vir sy soldate gesê hulle moet vir Paulus neem na die plek waar die soldate woon. 35Hulle het gekom tot by die trappe. Die mense was baie kwaad vir Paulus en hulle het so baie aan hom gestamp dat die soldate vir Paulus moes dra. 36Die mense wat saamgegaan het, het die hele tyd geskree en gesê: “Maak hom dood!”

Paulus sê dat hy niks verkeerd gedoen het nie

37Die Romeinse soldate het vir Paulus na die soldate-kamp geneem. Toe hulle daar aankom, vra Paulus vir die *hoof-offisier: “Mag ek iets sê?”

Die hoof-offisier het gesê: “Ek hoor jy kan Grieks praat. 38Ek weet nou jy is nie die Egiptenaar wat ’n tyd gelede ’n klomp mense *opstandig gemaak het en toe 4 000 manne na die woestyn geneem het nie, die manne wat teen die Romeine wou veg.”

39Paulus het vir hom gesê: “Nee, ek is ’n Jood. Ek kom van die stad Tarsus in die provinsie Silisië. Ek woon in Tarsus, dit is ’n belangrike stad! Ek vra mooi vir jou: Mag ek asseblief met die mense praat?”

40Die hoof-offisier het gesê Paulus mag met die mense praat. Toe het Paulus op die trappe gaan staan en hy het met sy hand vir die mense gewys hulle moet stilbly. Dit het baie stil geword en Paulus het in *Hebreeus met hulle gepraat.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index