Search form

Handelinge 22

Paulus praat met die Jode

1Paulus het gesê: “Vriende, julle moet luister na wat ek wil sê, ek wil vir julle verduidelik dat ek niks verkeerd gedoen het nie.”

2Toe die Jode hoor dat Paulus in *Hebreeus met hulle praat, het hulle nog stiller geword. Hy het vir hulle gesê:

3“Ek is ’n Jood en ek is gebore in die stad Tarsus in Silisië, maar ek het grootgeword hier in Jerusalem. Ek was ’n student van Gamaliël en ek het al die streng *wette van ons *voorouers geleer. Ek was baie gehoorsaam aan God, soos julle almal wat vandag hier is, ook gehoorsaam is aan Hom. 4Ek het slegte dinge gedoen aan ‘*Die Pad,’ ek het probeer om hulle dood te maak. Ek het mans en vroue laat vang en laat vasbind en ek het hulle in die tronk laat sit. 5Die *hoëpriester en die hele *Joodse Raad sal kan sê ek praat die waarheid. Hulle het ook vir my briewe gegee wat ek na die Jode in Damaskus geneem het. Ek het na Damaskus gegaan om die *gelowiges te vang en hulle terug te bring na Jerusalem sodat die Joodse Raad hulle kan straf.

6“Ek was besig om na Damaskus te gaan en ek was naby Damaskus. Toe dit omtrent middag was, het daar skielik ’n groot lig uit die hemel op my geskyn. 7Ek het op die grond geval. Toe hoor ek Iemand vra vir my: ‘Saul, Saul, hoekom doen jy slegte dinge aan My?’ 8Ek het gevra: ‘Wie is U, Here?’ En Hy het vir my gesê: ‘Ek is Jesus van Nasaret. Jy doen slegte dinge aan My.’

9“Die mense wat saam met my was, het die lig gesien, maar hulle het nie die Persoon gehoor wat met my gepraat het nie. 10Ek het gevra: ‘Wat moet ek doen, Here?’ En die Here het vir my gesê: ‘Jy moet opstaan en jy moet na Damaskus gaan. Daar sal iemand vir jou alles sê wat Ek wil hê jy moet doen.’

11“Die lig was so skerp dat ek nie kon sien nie. Daarom het die mense wat saam met my gegaan het, my hand geneem en hulle het my gelei tot in Damaskus.

12“Ananias het in Damaskus gewoon. Hy was lief vir die Here, hy het die Here gedien soos die Here wil hê. Ananias het alles gedoen wat die wette sê, en al die Jode wat in Damaskus woon, het geweet dat hy ’n goeie man is. 13Ananias het na my toe gekom en hy het by my kom staan. Hy het vir my gesê: ‘Saul, vriend, jy moet weer sien!’ Dadelik kon ek weer sien en ek het na hom gekyk. 14Ananias het vir my gesê: ‘Die God van ons voorouers het jou gekies om te weet wat Hy wil doen. Hy het jou ook gekies om die *Regverdige te sien en sy eie stem te hoor. 15Ja, God het jou gekies, want jy moet vir al die mense gaan vertel van die dinge wat jy gesien en gehoor het. 16Jy moenie langer wag nie. Jy moet nou opstaan. Jy moet jou laat doop en jy moet bid tot Christus. Dan sal Hy jou sondes wegneem.’

17“Toe het ek teruggegaan na Jerusalem. Ek was besig om in die *tempel te bid, toe het ek iets gesien, dit was soos in ’n droom. 18Ek het vir Christus gesien. Hy het vir my gesê: ‘Jy moet gou maak en jy moet vinnig weggaan uit Jerusalem, want die mense van Jerusalem sal nie glo wat jy vir hulle wil vertel van My nie.’ 19En ek het vir Hom gesê: ‘Here, hulle weet self dat ek na al die *sinagoges gegaan het, hulle weet dat ek die mense gevang het en geslaan het, die mense wat in U geglo het. 20En Stefanus was u *getuie. Toe die mense vir Stefanus doodgemaak het, het ek self daar gestaan en ek het gesê hulle doen reg. Ek het ook die klere opgepas van die mense wat hom doodgemaak het.’

21“En Christus het vir my gesê: ‘Jy moet nou gaan, want Ek sal jou ver wegstuur na die *heidene toe.’ ”

Paulus praat met die Romeinse hoof-offisier

22Die Jode het tot hier geluister na wat Paulus sê. Toe het hulle hard begin skree en hulle het gesê: “Julle moet hom wegvat en doodmaak! Iemand soos hy mag nie lewe nie!”

23Hulle het niks gehou van wat Paulus gesê het nie, hulle het geskree en hulle het party van hulle klere uitgetrek en stof in die lug gegooi. 24Die *hoof-offisier het vir die soldate gesê hulle moet vir Paulus na die soldate-kamp neem en hulle moet hom met ’n *sweep slaan totdat hy sê wat hy verkeerd gedoen het. Die hoof-offisier wou weet hoekom die Jode so geskree en geraas het teen Paulus. 25Die soldate het begin om Paulus met toue vas te maak. Die *offisier het by hulle gestaan, en Paulus het vir hom gesê: “Ek is ’n *Romeinse burger. Julle mag my nie met ’n sweep slaan nie, want ’n *regter het my nog nie *ge-oordeel nie.”

26Toe die offisier hoor wat Paulus sê, het hy vir die hoof-offisier gaan sê: “Wat gaan jy nou doen? Hierdie man is ’n Romeinse burger.”

27Die hoof-offisier het vir Paulus kom vra: “Is jy ’n Romeinse burger?”

Paulus het geantwoord: “Ja.”

28Die hoof-offisier het vir Paulus gesê: “Ek moes baie geld betaal om ’n Romeinse burger te word.”

Maar Paulus het gesê: “Ek is ’n Romeinse burger vandat ek gebore is.”

29Die soldate wat Paulus met ’n sweep wou slaan, het dadelik teruggestaan, en die hoof-offisier was ook bang, want die hoof-offisier het besef dat Paulus ’n Romeinse burger is en dat hy vir Paulus laat vasbind het.

Paulus praat voor die Joodse Raad

30Die *hoof-offisier wou weet hoekom die Jode vir Paulus beskuldig het. Daarom het hy die volgende dag vir Paulus uit die tronk laat kom. Toe het die hoof-offisier gesê die *hoëpriester en die hele *Joodse Raad moet ’n vergadering hou. Hy het vir Paulus na die Joodse Raad geneem en hy het vir Paulus voor hulle laat staan.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index