Search form

Handelinge 23

1Paulus het reguit na die Joodse Raad gekyk en hy het vir hulle gesê: “Vriende, ek praat die waarheid, ek weet dat ek tot vandag toe heeltemal reg gelewe het, ek het gelewe soos God wil hê ’n mens moet lewe.”

2Daar het manne naby Paulus gestaan, en Ananias, die hoëpriester, het vir hulle gesê hulle moet vir Paulus op sy mond slaan. 3Toe het Paulus vir hom gesê: “God sal vir jóú slaan, jy is so *skynheilig soos ’n muur wat vuil is, maar iemand het wit verf daaroor gesmeer. Jy sit hier om na die *wette te luister en om my te *oordeel, maar jy doen self nie wat die wette sê nie, jy sê hulle moet my slaan.”

4Die manne wat naby Paulus gestaan het, het vir hom gesê: “Jy *beledig nou God se hoëpriester!”

5Paulus het geantwoord: “Vriende, ek het nie geweet dat hy die hoëpriester is nie. Ek weet in die Ou Testament is daar geskryf:

*Jy mag nie slegte dinge sê

van ’n leier van jou volk nie.”

6Paulus het gesien dat party van die lede van die Joodse Raad *Sadduseërs is en dat party van hulle *Fariseërs is. Daarom het hy hard voor die Joodse Raad gepraat en hy het gesê: “Vriende, ek is ’n Fariseër en my pa was ook ’n Fariseër. Ek glo en ek weet dat God mense wat gesterf het, weer sal laat lewe, dit is seker. Dit is hoekom ek vandag hier is en hoekom julle my moet oordeel.”

7Toe Paulus dit sê, het die Fariseërs en die Sadduseërs met mekaar begin stry, en al die mense wat daar was, het in twee groepe verdeel. 8Hulle het gestry, want die Sadduseërs glo nie dat God die mense wat gesterf het, weer sal laat lewe nie. Hulle glo ook nie dat daar *engele of geeste is nie. Maar die Fariseërs glo dit alles. 9Almal het baie geraas en geskree. Party van die *skrifgeleerdes wat ook Fariseërs was, het opgestaan en hulle het baie gestry en gesê: “Ons dink nie hierdie man, Paulus, het iets verkeerd gedoen nie! Miskien het ’n engel of ’n gees met hom gepraat.”

10Toe het almal nog meer gestry en geraas. Die hoof-offisier het bang geword dat hulle vir Paulus stukkend sou skeur. Daarom het die hoof-offisier vir die soldate gesê hulle moet hardloop en hulle moet vir Paulus gaan gryp en hom terugneem na die soldate-kamp.

11Daardie nag het die Here by Paulus kom staan en Hy het vir Paulus gesê: “Jy moenie moedeloos word nie! Jy het nou vir die mense in Jerusalem van My vertel. So moet jy ook vir die mense in Rome van My gaan vertel.”

Die Jode maak ’n geheime plan om Paulus dood te maak

12Daardie oggend het die Jode ’n geheime plan gemaak om vir Paulus dood te maak. Hulle het gesê: “God is ons *getuie en Hy moet ons straf as ons iets eet of drink voordat ons vir Paulus doodgemaak het!”

13Dit was meer as 40 mense wat daardie geheime plan gemaak het. 14Hulle het na die *priesterleiers en die *ouderlinge gegaan en vir hulle gesê: “Ons het gesê God moet ons getuie wees en Hy moet ons straf as ons iets eet of drink voordat ons vir Paulus doodgemaak het. 15Daarom moet julle en die *Joodse Raad vir die *hoof-offisier ’n boodskap stuur en sê hy moet vir Paulus na julle toe bring. Julle moet lieg en sê dat julle vir Paulus nog baie meer vrae wil vra om seker te maak of hy verkeerd gedoen het. Ons is gereed, ons sal vir Paulus doodmaak voordat hy by julle is.”

16Maar die seun van Paulus se suster het gehoor dat die mans langs die pad wil wegkruip en dat hulle dan vir Paulus wil doodmaak. Daarom het hy na die soldate-kamp gegaan, en hy het vir Paulus gaan sê wat die mans wil doen. 17Toe het Paulus een van die *offisiere geroep en hy het vir die offisier gesê: “Jy moet hierdie jongman na die hoof-offisier neem, want hy wil iets vir die hoof-offisier vertel.”

18Die offisier het toe die jongman geneem en hy het hom na die hoof-offisier gebring. En die offisier het vir die hoof-offisier gesê: “Paulus, die *gevangene, het my geroep en hy het vir my gevra om hierdie jongman na jou toe te bring, want die jongman wil iets vir jou vertel.”

19Die hoof-offisier het die jongman se hand geneem en hy het hom ’n entjie verder weggeneem sodat hulle alleen kon wees. Hy het toe vir die jongman gevra: “Wat is dit wat jy vir my wil vertel?”

20Die jongman het geantwoord: “Die Jode het bymekaargekom en hulle het ’n geheime plan gemaak. Hulle sal vir jou vra om vir Paulus môre na die Joodse Raad te neem. Hulle sal lieg en sê hulle wil vir Paulus nog meer vrae vra om seker te maak of hy verkeerd gedoen het. 21Maar jy moenie doen wat hulle vra nie. Meer as 40 manne lê en wag om vir Paulus dood te maak. Hulle het gesê God moet hulle getuie wees en Hy moet hulle straf as hulle iets eet of drink voordat hulle vir Paulus doodgemaak het. Daardie mans is nou gereed om dit te doen, hulle wag nou dat jy vir Paulus na die Joodse Raad laat gaan.”

22Die hoof-offisier het vir die jongman gesê dat hy mag teruggaan huis toe. Hy het ook vir hom gesê: “Jy moenie vir iemand sê dat jy al hierdie dinge vir my vertel het nie!”

Die hoof-offisier stuur vir Paulus na Feliks

23Toe roep die *hoof-offisier twee *offisiere en hy sê vir hulle: “Julle moet vir 200 soldate sê hulle moet gereedmaak sodat julle vanaand nege-uur na die stad Sesarea kan gaan. Daar moet ook 70 soldate saamgaan wat op perde ry en 200 soldate wat met spiese veg. 24Julle moet ook perde saamneem sodat Paulus op hulle kan ry en julle moet hom veilig neem tot by *goewerneur Feliks.”

25En die hoof-offisier het ’n brief vir Feliks geskryf. Hy het geskryf:

26Ek, Claudius Lisias, skryf hierdie brief vir jou, geagte goewerneur Feliks. Ek stuur groete! 27Die Jode het hierdie man gevang en hulle wou hom doodmaak. Maar ek het gehoor dat hy ’n *Romeinse burger is, en daarom het ek met soldate gegaan en ons het hom gaan red. 28Ek wou uitvind hoekom die Jode hom beskuldig het. Daarom het ek hom na die *Joodse Raad gestuur. 29Ek het uitgevind hulle beskuldig hom dat hy nie doen wat die Joodse *wette sê nie. Dit is dinge waaroor die Jode baie stry. Maar hy het niks gedoen waaroor ’n mens hom moet doodmaak of in die tronk moet gooi nie. 30Iemand het vir my kom sê dat die Jode ’n geheime plan gemaak het teen hom. Daarom het ek hom dadelik na jou toe gestuur. En ek het vir die Jode wat hom beskuldig, gesê hulle moet na jou toe gaan en hulle moet sê wat hy verkeerd gedoen het.

31Die soldate het toe gedoen wat die hoof-offisier vir hulle gesê het. Toe dit nag was, het hulle vir Paulus na die stad Antipatris geneem. 32Die volgende dag het hulle die soldate wat op perde gery het, verder saam met Paulus laat gaan, en die ander soldate het teruggegaan na Jerusalem, na die soldate-kamp toe. 33Toe die soldate wat op perde gery het, in Sesarea kom, het hulle die brief vir die goewerneur gegee en hulle het vir Paulus voor die goewerneur laat staan. 34Die goewerneur het die brief gelees en hy het vir Paulus gevra van watter provinsie hy kom. Toe die goewerneur hoor dat Paulus van die provinsie Silisië kom, 35het hy vir Paulus gesê: “Ek sal wag totdat die Jode kom wat jou beskuldig, dan sal ek luister na wat hulle sê en wat jy sê, en dan sal ek besluit of jy verkeerd gedoen het.”

En hy het vir die soldate gesê hulle moet vir Paulus toesluit in die paleis wat *Herodes gebou het.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index