Search form

Handelinge 25

Paulus vra dat die keiser hom moet oordeel

1Festus het die nuwe *goewerneur geword en hy het na daardie provinsie gekom. Ná drie dae het hy van die stad Sesarea na Jerusalem gegaan. 2Daar in Jerusalem het die *priesterleiers en die belangrike Jode vir Paulus by Festus beskuldig. Hulle het baie mooi vir Festus gevra 3dat hy iets goed moet doen vir hulle. Hulle het gevra dat Festus vir Paulus moet laat haal in Sesarea en dat hy vir Paulus na Jerusalem moet bring. Maar die priesterleiers en die Jode het ’n geheime plan gemaak, hulle wou mense stuur wat langs die pad moet wegkruip en wat dan vir Paulus moet doodmaak. 4Maar Festus het gesê dat Paulus in Sesarea in die tronk moet bly. Festus het ook gesê dat hy gou na Sesarea sal teruggaan. 5Hy het gesê: “Dan kan julle leiers saam met my na Sesarea gaan, en as Paulus iets verkeerd gedoen het, dan kan julle hom beskuldig.”

6Festus het nog omtrent ag of tien dae in Jerusalem gebly en toe het hy teruggegaan na Sesarea. Die volgende dag het hy op die *regterstoel gaan sit en vir die soldate gesê hulle moet vir Paulus gaan haal. 7Die soldate het vir Paulus gebring en toe het die Jode wat van Jerusalem gekom het, rondom hom gaan staan. Hulle het vir Paulus beskuldig en hulle het baie slegte dinge teen hom gesê, maar hulle kon dit nie bewys nie. 8En Paulus het gesê dat hy *onskuldig is. Hy het gesê: “Ek het niks gedoen teen die wette van die Jode nie, ook nie teen die *tempel in Jerusalem nie, en ook nie teen die *keiser nie.”

9Maar Festus wou iets goed doen vir die Jode en hy het vir Paulus gevra: “Wil jy na Jerusalem gaan sodat ek jou daar kan *oordeel oor hierdie sake?”

10Maar Paulus het geantwoord: “Nee, ek wil voor die regterstoel van die keiser in Rome gaan staan, die keiser moet my oordeel. Ek het niks verkeerd gedoen aan die Jode nie. Jy weet dit baie goed. 11As ek iets verkeerd gedoen het sodat ek moet sterf, dan moet die keiser my straf en hy moet my laat doodmaak. Maar as die Jode my beskuldig het en ek is onskuldig, dan mag niemand my vir die Jode gee sodat hulle met my kan doen wat hulle wil nie. Nee, ek wil voor die regterstoel van die keiser gaan staan, die keiser moet my oordeel!”

12Festus het eers met sy *raadgewers hieroor gepraat. Toe het hy vir Paulus gesê: “Jy het gevra om voor die regterstoel van die keiser te staan. Jy sal na die keiser toe gaan en jy sal voor sy regterstoel staan.”

Festus vra vir koning Agrippa wat hy met Paulus moet doen

13Ná ’n paar dae het koning *Agrippa en sy vrou Bernice in die stad Sesarea aangekom om vir Festus te groet en welkom te sê. 14Koning Agrippa en Bernice was lank daar, en Festus het vir die koning vertel wat met Paulus gebeur het. Hy het gesê: “Toe Feliks weggegaan het, het hy hier ’n man in die tronk gelos. 15Toe ek in Jerusalem was, het die *priesterleiers en die *ouderlinge vir my vertel van die man, en hulle het gevra dat ek hom moet *oordeel en moet sê hy is *skuldig. 16Maar ek het vir hulle gesê die Romeine doen dit nooit nie. Die Romeine maak eers seker dat iemand skuldig is en dan gee hulle hom vir die mense sodat hulle hom kan oordeel. Wanneer mense sê iemand is skuldig, dan moet daardie man hulle kan sien en kan hoor wat hulle sê, en dán moet hy sê hoekom hy nie skuldig is nie. 17Toe het die Jode hier in Sesarea na my toe gekom. Ek het dadelik die volgende dag op die *regterstoel gaan sit en vir die soldate gesê hulle moet vir Paulus gaan haal. 18Die Jode het opgestaan en hulle het hom beskuldig. Ek het gedink hulle sal vertel van die slegte dinge wat hy gedoen het, maar hulle het niks slegte dinge teen hom gesê nie. 19Hulle het met hom gestry oor dinge van hulle eie godsdiens, en oor iemand wat dood is, sy naam is Jesus, maar Paulus het gesê Jesus lewe weer. 20Ek het nie geweet hoe om vrae oor daardie dinge te vra nie. Daarom het ek vir Paulus gevra of hy na Jerusalem wil gaan sodat ek hom daar kan oordeel oor hierdie sake. 21Maar Paulus het gesê hy wil in die tronk bly en hy wil na die *keiser toe gaan sodat die keiser kan besluit of hy skuldig is. Daarom het ek gesê hy moet in die tronk bly totdat ek hom na die keiser toe kan stuur.”

22Agrippa het vir Festus gesê: “Ek wil graag self luister na wat hierdie man sê.”

Festus het gesê: “Jy kan môre met hom praat en luister na wat hy sê.”

23Die volgende dag het Agrippa en Bernice in die saal ingekom. Hulle het baie duur klere aangehad en hulle het baie belangrik gelyk. Die *hoof-offisiere en die belangrike manne van die stad het saam met hulle ingekom. Toe het Festus vir die soldate gesê hulle moet vir Paulus gaan haal. 24En Festus het gesê: “Koning Agrippa en al die mense wat hier is, julle moet kyk hoe lyk hierdie man! Toe ek in Jerusalem was en ook hier in Sesarea, het al die Jode gekla oor hom. Hulle het geskree en gesê hy mag nie meer lewe nie. 25Maar ek het uitgevind dat hy niks verkeerd gedoen het nie, dit is nie reg dat ons hom moet straf en doodmaak nie. Maar hy het gesê hy wil na die keiser toe gaan sodat die keiser kan besluit of hy skuldig is. Toe het ek besluit dat ek hom na die keiser toe sal stuur. 26Maar ek het niks wat ek oor hom in ’n brief vir die keiser kan skryf nie. Daarom het ek hom gebring na julle almal, en spesiaal na jou, koning Agrippa. Nadat ons vir hom vrae gevra het, sal ek miskien iets hê om vir die keiser te skryf. 27Want ek dink nie dit is reg om ’n *gevangene na die keiser toe te stuur en dan nie vir die keiser te sê hoekom mense die gevangene beskuldig het nie.”

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index