Search form

Handelinge 27

Paulus gaan na Rome

1Die *amptenare het besluit dit is tyd dat Paulus en ons met ’n skip na die land Italië moet seil. Die soldate het toe vir Paulus en party ander *gevangenes vir Julius gegee. Julius was die *offisier van ’n groep soldate van die *keiser.

2Ons het op ’n skip geklim wat na die stad Adramittium sou seil, want ons wou gaan na plekke in die provinsie *Asië. Die skip het begin seil. Aristargus was ook saam met ons. Hy was ’n man van die stad Tessalonika in die provinsie Masedonië. 3Die volgende dag het die skip by die stad Sidon aangekom. Julius was vriendelik met Paulus. Julius het gesê Paulus mag na sy vriende in Sidon gaan sodat hulle vir hom kan sorg.

4Die volgende dag het ons weggeseil van Sidon. Ons het toe by die eiland Siprus verbygeseil. Die wind het sterk teen ons gewaai en daarom het ons langs Siprus verbygeseil, langs die kant waar die wind nie so sterk was nie. 5Ons het met die skip oor die see langs die lande Silisië en Pamfilië geseil. Ons het geseil tot by die stad Mira in die land Lisië. 6In Mira het die offisier ’n skip gekry wat van die stad Aleksandrië gekom het. Die skip sou na Italië seil. Die offisier het toe vir ons gesê ons moet op daardie skip klim.

7Ons het lank geseil, en nadat ons skip baie gesukkel het, het ons naby die stad Knidus gekom. Maar die wind het sterk teen ons gewaai, en daarom het ons langs die eiland Kreta verbygeseil, langs die kant waar die wind nie so sterk was nie. Ons was oorkant die stad Salmone. 8Ons het verby Salmone geseil, maar ons het baie gesukkel. Toe het ons by ’n plek gekom, die plek se naam was Mooi Hawens. Dit was naby die stad Lasea.

9Ons het lank geseil. Dit was ook laat in die jaar, die winter was naby, en dit was toe gevaarlik om met ’n skip te seil. Daarom het Paulus vir die offisier en sy manne gesê: 10“Vriende, ons moenie nou verder seil nie. Dit is baie gevaarlik en ons sal baie dinge verloor. Ons sal die goed op die skip verloor, en ook die skip én ons lewens.”

11Maar die offisier het geluister na wat die kaptein van die skip en die eienaar van die skip vir hom gesê het, hy wou nie na Paulus luister nie. 12’n Mens kon nie die hele winter by Mooi Hawens bly nie. Daarom het die meeste mense op die skip gesê ons moet verder seil en ons moet probeer om tot by Feniks te kom. Feniks was ’n hawe van die eiland Kreta. Dit was ’n veilige plek om te bly terwyl dit winter is, want die suidweste-kant en die noordweste-kant van die hawe was oop.

Die storm op die see

13Die suidewind het saggies gewaai. Toe dink hulle dat hulle plan kan slaag, die plan om tot by die hawestad Feniks te seil. Daarom het hulle die skip se *anker opgetrek en hulle het begin seil. Hulle het naby die eiland Kreta verbygeseil. 14Maar hulle het nie lank geseil nie, toe begin ’n baie sterk wind waai, die wind het van Kreta gekom. Dit was ’n noordooste-wind, die wind se naam was Eurakilon.

15Die wind het die skip saamgesleep. Ons kon nie die skip draai sodat dit teen die wind seil nie. Daarom het ons die skip gelos sodat dit gedryf het, saam met die wind. 16Ons het die skip verby ’n klein eiland gestuur, die eiland se naam was Kauda. Die wind was daar nie baie sterk nie. Toe het ons baie gesukkel om te keer sodat die *klein bootjie nie wegdryf van die skip nie. 17Die matrose het die klein bootjie opgetrek en hulle het dit bo-op die skip vasgemaak. Toe het hulle toue om die skip gebind en so het hulle probeer om die skip sterker te maak. Hulle was bang dat die wind die skip sal stoot tot by die *sandbanke van Sirtis, dan sou die skip stukkend breek. Daarom het hulle ’n seil aan ’n tou vasgemaak en hulle het die seil in die see gegooi om die skip stadiger te laat dryf. So het ons verder gedryf.

18Dit was ’n kwaai storm. Daarom het die matrose die volgende dag begin om die goed wat op die skip was, in die see te gooi. 19Op die derde dag het hulle self ook baie van die skip se seile en toue en pale in die see gegooi.

20Ons het baie dae lank nie die son gesien nie, ook nie die sterre nie, en die storm was baie kwaai. Daarom het ons opgehou om te hoop, ons het gedink dat ons sal sterf.

21Hulle het ’n lang tyd niks geëet nie. Paulus het toe opgestaan en hy het tussen hulle gaan staan en gesê: “Vriende, ek het gesê ons moenie wegseil van Kreta nie. Hoekom het julle nie na my geluister nie? Dan het julle nie nou hierdie groot probleme gehad nie, en dan het julle ook nie julle goed verloor nie. 22Maar nou wil ek vir julle sê wat julle moet doen. Julle moet sterk wees. Nie een van julle sal sterf nie, maar die skip sal stukkend breek en sink. 23Want gisternag het daar ’n *engel by my kom staan. Dit was ’n engel van God, ek behoort aan daardie God, Hy is die God wat ek dien. 24Die engel het vir my gesê: ‘Paulus, jy moenie bang wees nie. Jy moet voor die *regterstoel van die *keiser in Rome gaan staan. God sal ook goed wees vir almal wat saam met jou op die boot is. Hy sal hulle red omdat Hy jou wil red.’ 25Vriende, daarom moet julle nie moedeloos wees nie! Ek glo dat God dit sal doen, ek glo dit sal gebeur soos die engel vir my gesê het. 26Maar die skip sal stukkend breek by een van die eilande.”

27Dit was 14 dae nadat die storm begin het. Dit was nag, en die skip het rondgedryf in die Adriatiese See. Dit was in die middel van die nag. Die matrose het gedink die skip kom naby die land. 28Hulle het gemeet hoe diep dit is. Dit was 20 *vaam. Die skip het verder gedryf. Hulle het weer gemeet hoe diep dit is en dit was toe *15 vaam. 29Hulle was bang dat die skip stukkend sal breek op die rotse. Daarom het hulle vier ankers vasgemaak aan toue en hulle het die ankers afgegooi by die agterkant van die skip. Hulle het gebid dat dit dag moet word. 30Party van die matrose wou wegkom van die skip. Hulle het gemaak of hulle ook ankers by die voorkant van die skip wil afgooi. Maar hulle het die klein bootjie geneem en hulle wou dit in die see laat sak en probeer om met die bootjie weg te kom van die skip. 31Toe sê Paulus vir die *offisier en vir die soldate: “Daardie matrose moet op die skip bly. As hulle nie op die skip bly nie, dan sal God nie vir julle red nie.”

32Toe het die soldate die toue van die klein bootjie afgekap en hulle het die bootjie in die see laat val.

33Net voor dit dag geword het, het Paulus almal *bemoedig en hy het gesê hulle moet iets eet. Hy het gesê: “Julle is bang vir wat sal gebeur, en julle het 14 dae lank nie geëet nie. 34Daarom vra ek nou mooi vir julle dat julle moet eet, want dit sal help dat julle aanhou lewe. Want julle moet weet dat daar nie een haar van iemand se kop sal afval nie, God sal julle beskerm.”

35Nadat Paulus dit gesê het, het hy brood geneem en gebid en hy het vir God dankie gesê. Almal het gesien hoe hy dit doen. Toe het hy die brood gebreek en hy het begin om dit te eet. 36Paulus het hulle almal bemoedig en hulle het ook begin eet. 37Ons was 276 mense op die skip. 38Nadat almal genoeg geëet het, het hulle die koring wat op die skip was, in die see gegooi. Hulle het dit gedoen om die skip ligter te maak.

Die skip breek heeltemal stukkend

39Dit het dag geword. Hulle het land gesien, maar hulle het nie geweet watter plek dit is nie. Hulle het ’n strand gesien, daar was nie rotse nie. Toe het hulle gedink hulle sal probeer om die skip op die strand te laat stop. 40Hulle het die *ankers se toue afgesny en hulle het die ankers in die see gelos. Hulle het ook die toue om die roeispane losgemaak. En hulle het die seil wat voor op die skip was, oopgemaak sodat die wind die skip vorentoe kon waai. Hulle het probeer om die skip na die strand te stuur. 41Maar die skip het teen ’n sandbank vasgeseil en die voorste deel van die skip het vasgesit. Dit kon nie beweeg nie. Toe het die sterk branders die agterste deel van die skip stukkend geslaan. 42En die soldate het besluit om die *gevangenes dood te maak sodat hulle nie na die land kon swem en dan kon weghardloop nie. 43Maar die *offisier wou vir Paulus red en hy het die soldate gekeer. Die soldate kon nie doen wat hulle wou doen nie. Toe het die offisier gesê dat almal wat kan swem, eerste in die see moet spring en hulle moet na die land swem. 44Daarna moes almal wat nie kon swem nie, probeer om by die land te kom. Party mense het op planke na die land gegaan en party mense het op stukke van die skip gegaan. So het almal veilig by die land uitgekom.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index