Search form

Handelinge 28

Paulus op die eiland Malta

1Nadat ons veilig op die strand gekom het, het ons gehoor dat die naam van die eiland Malta is. 2Die mense op die eiland was baie vriendelik. Dit het gelyk of dit sal reën en dit was koud. Hulle het ’n vuur gemaak en hulle het ons na die vuur geneem. 3Paulus het ’n klomp droë hout opgetel en hy het dit op die vuur gegooi. Maar daar was ’n slang in die hout. Omdat die vuur warm was, het die slang uitgekom. Die slang het vir Paulus aan sy hand gebyt. 4Die mense wat op die eiland bly, het gesien die slang hang aan Paulus se hand. Hulle het vir mekaar gesê: “Hierdie man is ’n moordenaar, dit is seker. Die *gode wil hom straf en doodmaak omdat hy verkeerd gedoen het. Die gode het gesien dat hy nie in die see verdrink het nie, nou sal die slang hom doodmaak!”

5Maar Paulus het die slang afgeskud, en dit het in die vuur geval. En daar het niks sleg met Paulus gebeur nie. 6Die mense het gedink dat Paulus sal opswel of dat hy sal val en sterf. Hulle het lank gewag en toe het hulle gesien dat daar niks met hom gebeur nie. Toe het hulle iets anders begin dink. Hulle het gesê dat Paulus ’n god is.

7Naby daardie plek was die grond van die hoof van die eiland. Die hoof se naam was Publius. Hy was vriendelik en hy het vir ons plek gegee om te bly, drie dae lank. 8Publius se pa was siek. Hy het koors gehad en sy maag was baie deurmekaar en het gewerk. Paulus het na hom toe gegaan en hy het vir hom gebid. Paulus het sy hande op hom gesit en hy het hom gesond gemaak.

9Nadat dit gebeur het, het ander mense wat op die eiland gewoon het en wat siek was, ook na Paulus toe gekom, en hy het hulle gesond gemaak. 10Hulle het vir ons baie goed gegee wat gewys het dat hulle ons respekteer. Hulle het ook vir ons alles gegee wat ons moes hê toe ons weer weggeseil het met ’n skip.

Paulus gaan weg uit Malta en kom in Rome aan

11Drie maande het verbygegaan. Toe het ons met ’n ander skip weggeseil van die eiland Malta. Die skip het van die stad Aleksandrië gekom en dit het daar by die eiland gewag totdat die winter verby was. Die skip se naam was *Dioskuri. 12Ons het met die skip geseil tot by die stad Sirakuse. Ons het drie dae daar gebly.

13Toe het ons weggeseil van Sirakuse en ons by die stad Regium gekom. Ná een dag het ’n suidewind begin waai, en die volgende dag het ons geseil tot by die stad Puteoli. 14In Puteoli was daar ook *gelowiges. Hulle het vir ons gevra om sewe dae by hulle te bly. En toe het ons na Rome gegaan. 15Die gelowiges wat in Rome gewoon het, het gehoor dat ons kom. Hulle het ons kom groet. Party van hulle het ons kom groet by die *Mark van Appius, en party van hulle het ons kom groet by die Drie *Herberge. Toe Paulus die gelowiges sien wat van Rome kom, het hy gebid en vir God dankie gesê en hy het sterk gevoel.

Paulus in Rome

16Ons het in Rome gekom, en die Romeine het gesê dat Paulus nie in die tronk moet bly nie. Hulle het gesê dat Paulus in ’n huis mag gaan woon, saam met die soldaat wat hom moes oppas.

17Ná drie dae het Paulus gevra dat al die belangrike Jode na hom toe moet kom. Toe hulle almal bymekaar was, het Paulus vir hulle gesê: “Vriende, ek het niks verkeerd gedoen teen ons volk nie. Ek het net die dinge gedoen wat ons *voorvaders vir ons geleer het. Maar die Jode in Jerusalem het my gevang en hulle het my vir die Romeine gegee. 18Die Romeine het vir my vrae gevra om uit te vind of ek *skuldig is. Hulle wou my laat gaan, want ek het niks verkeerd gedoen waaroor hulle my moes straf en doodmaak nie. 19Ek het ook nooit my volk beskuldig nie, maar die Jode in Jerusalem wou nie hê dat die Romeine my moet laat gaan nie. Daarom kon ek niks anders doen nie, ek moes sê dat ek voor die *regterstoel van die *keiser wil kom staan. Die keiser moet my *oordeel. 20Dit is hoekom ek gevra het om julle te sien sodat ek met julle kan praat. Ek glo en hoop dieselfde dinge wat al die Israeliete glo en hoop. Dit is hoekom ek nou ’n *gevangene is, en dit is hoekom die soldate my vasgemaak het met kettings.”

21Die Jode in Rome het vir Paulus gesê: “Die Jode in Judea het nie vir ons briewe geskryf oor jou nie. En niemand van hulle het hier by ons aangekom en slegte dinge gesê van jou nie. 22Maar ons wil graag hoor wat jy dink, want ons weet hierdie groep mense glo in Jesus, maar die mense sê oral dat die groep verkeerde dinge glo.”

23Hulle het toe besluit op watter dag hulle weer na Paulus toe sal kom. Op daardie dag het baie Jode na Paulus se huis gekom. Hy het die hele dag met hulle gepraat. Hy het baie ernstig met hulle gepraat en hy het vir hulle gesê dat God Koning is. Hy het ook uit die *Wette van Moses en die boeke van die *profete gelees en hy het vir hulle gesê dat hulle in Jesus moet glo. 24Party van die Jode het geglo wat Paulus gesê het, maar party het nie geglo nie. 25En hulle het met mekaar gestry. Toe hulle uit Paulus se huis uitgaan, het hy nog hierdie een ding vir hulle gesê: “Die Heilige Gees het vir die profeet Jesaja iets gesê wat Jesaja vir julle voorvaders moes gaan sê. Wat die Heilige Gees gesê het, is waar. 26Hy het gesê:

*Jy moet na hierdie volk gaan en jy moet vir hulle sê:

“Julle sal hoor en hoor,

maar julle sal niks verstaan nie.

Julle sal kyk en kyk,

maar julle sal niks sien nie.

27Hierdie volk het

hardkoppig geword.

Hulle het opgehou luister

sodat hulle nie kan

verstaan nie.

Hulle het hulle oë toegehou

sodat hulle nie kan sien nie

en nie kan verstaan nie.

Ek wil hulle gesond maak,

maar hulle wil nie verander

en lewe soos Ek wil hê nie.

28“Daarom moet julle weet dat God sy boodskap na die *heidene toe gestuur het, die boodskap dat Hy mense wil red. En hulle sal die boodskap glo.”

29*30Paulus het twee jaar lank gewoon in die huis wat hy gehuur het. Almal wat hom wou besoek, het na hom toe gekom. 31Hy het vir hulle gepreek en hy het gesê dat God Koning is. Hy het ook vir hulle geleer van die Here Jesus Christus. Hy was nie bang om dit te doen nie, en niemand het hom gekeer nie.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index