Search form

Handelinge 7

Stefanus praat met die Joodse Raad

1Die *hoëpriester vra toe vir Stefanus: “Is dit waar wat hierdie mense sê?”

2En Stefanus sê: “My vriende, julle moet goed luister. God wat koning is, het *verskyn aan ons *voorvader Abraham toe hy in Mesopotamië gewoon het. Dit was voordat Abraham in Haran gewoon het. 3God het vir Abraham gesê: ‘*Jy moet weggaan uit jou land en van jou familie, en dan moet jy gaan na die land wat Ek vir jou sal wys.’ 4Toe het Abraham weggegaan uit die land van die Galdeërs en hy het gaan woon in die land Haran. Toe Abraham se pa sterf, het God vir Abraham laat wegtrek van die land Haran tot by hierdie land waar julle nou woon. 5God het nie vir Abraham grond gegee in die land nie, glad nie, nie ’n klein stukkie grond nie. In daardie tyd het Abraham nog nie ’n kind gehad nie. Maar God het belowe dat Hy later die land vir Abraham en sy kinders ná hom sal gee. 6God het gesê: ‘*Abraham se *nageslag sal *vreemdelinge wees in ’n vreemde land. Die mense van daardie land sal Abraham se nageslag *slawe laat word, en die mense sal slegte dinge doen aan hulle, 400 jaar lank. 7Maar Ek sal die mense straf wat Abraham se nageslag slawe laat word het.’ God het ook gesê: ‘*En nadat dit gebeur het, sal Abraham se nageslag wegtrek en hulle sal My dien in hierdie land.’ 8Toe het God ’n *verbond gemaak met Abraham, dit was die *besnydenis. Daarom, toe Abraham die pa geword het van Isak, het hy vir Isak besny toe Isak ag dae oud was. En Isak het ook vir Jakob besny, en Jakob het dieselfde gedoen met die *voorvaders van die twaalf *stamme.

9“En die voorvaders was jaloers op Josef. Daarom het hulle hom verkoop aan mense van Egipte. Maar God was by Josef. 10God het vir Josef gered toe hy swaargekry het. Hy het vir Josef só baie *wysheid gegee dat die *farao, die koning van Egipte, baie van Josef gehou het. Die farao het vir Josef die *regeerder gemaak oor Egipte en oor die farao se hele paleis. 11Toe het dit baie droog geword in die hele Egipte en Kanaän. Die mense het baie swaar gekry, en ons voorvaders kon ook nie kos kry nie. 12Jakob het gehoor dat daar kos is in Egipte. Hy stuur toe ons voorvaders die eerste maal daarnatoe. 13Toe hulle die tweede maal in Egipte kom, het Josef vir sy broers gesê wie hy is. Toe het die farao ook gehoor van Josef se familie. 14Josef het toe ’n boodskap gestuur en hy het gesê sy pa Jakob en die hele familie moet na Egipte kom. Hulle was 75 mense. 15Jakob het toe afgegaan na Egipte. Hy en ons voorvaders het later daar gesterf. 16Die Israeliete het die liggaam van Jakob en die liggame van die voorvaders teruggeneem na die stad Sigem, en hulle het die liggame begrawe in die *graf wat Abraham gekoop het by die nageslag van Hemor in Sigem.

17“Die tyd het gekom dat God sou doen wat Hy vir Abraham belowe het. Die Israeliete het toe al klaar ’n groot volk geword in Egipte, hulle was baie mense. 18’n Ander man het later koning geword in Egipte. Hy het nie vir Josef geken nie. 19Hierdie koning het ’n skelm plan gemaak teen ons volk. Hy het slegte dinge gedoen aan ons voorvaders. Hy het gesê hulle moet hulle babas buite neersit sodat die babas kan sterf. 20In hierdie tyd is Moses gebore. Hy was baie mooi. Sy ouers het drie maande lank goed vir hom gesorg. 21Toe het hulle hom buite neergesit. Die farao se dogter het hom gekry en sy het hom aangeneem en grootgemaak soos haar eie seun. 22Moses het al die wysheid van die Egiptenaars geleer, hy het geleer om die regte dinge te sê en te doen.

23“Toe Moses 40 jaar oud was, het hy besluit om te gaan kyk hoe dit gaan met sy mense, die Israeliete. 24Hy sien toe ’n Egiptenaar wat besig was om slegte dinge te doen aan ’n Israeliet. Moses het die Israeliet gehelp, hy het die Egiptenaar gestraf en hy het hom doodgeslaan. 25Moses het gedink dat die Israeliete sal verstaan dat God hom wil gebruik om hulle te red. Maar hulle het dit nie verstaan nie. 26Die volgende dag het Moses gekom by twee Israeliete wat baklei. Hy wou hulle help om vrede te maak. Hy sê toe: ‘Vriende, julle altwee is Israeliete. Hoekom baklei julle met mekaar?’ 27Maar die een wat die probleem begin het, het vir Moses weggestamp en gesê: ‘*Wie het jou gekies en aangestel om regeerder en *regter oor ons te wees? 28Nou wil jy vir my ook doodmaak soos jy gister die Egiptenaar doodgemaak het.’ 29Toe Moses dit hoor, het hy gevlug. Hy het ’n vreemdeling geword in die land Midian. Daar het hy die pa geword van twee seuns.

30“Daar het 40 jaar verbygegaan. Toe het ’n *engel aan Moses verskyn in die woestyn by Sinai-berg. Die engel was in die vlamme van ’n bos wat gebrand het. 31Moses was verbaas oor wat hy gesien het. Hy het nader gegaan om te kyk wat dit is, en toe hoor hy die stem van die Here wat sê: 32*Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, Isak en Jakob.’ Moses het begin bewe en hy was te bang om na die bos te kyk. 33Toe sê die Here vir hom: ‘*Trek jou sandale uit, want die plek waarop jy staan, is *gewyde grond. 34Ek het gesien my volk kry baie swaar in Egipte. Ek het gehoor hoe kla hulle. Daarom het Ek afgekom om hulle te red. Kom hier, Ek wil jou na Egipte stuur.’

35“Julle moet onthou, die Israeliete wou nie hê dat Moses hulle leier moes wees nie. Hulle het gesê: ‘Wie het jou gekies en aangestel om regeerder en regter oor ons te wees?’ Maar God het vir hóm, vir Móses, gestuur om regeerder en *redder te wees. God het dit gedoen toe die engel aan Moses verskyn het in die bos. 36Dit was Móses wat die Israeliete uitgelei het uit Egipte. Hy het 40 jaar lank *wonderwerke en *tekens gedoen in die land Egipte en in die woestyn. 37Dit was hý, Móses wat vir die Israeliete gesê het: ‘*God sal ’n *profeet vir julle stuur. Hierdie profeet sal een van julle eie mense wees. Hy sal ’n profeet wees, soos ek.’ 38Dit is hý, Móses, wat by ons voorvaders was in die woestyn. Hy het met hulle gepraat wanneer hulle bymekaargekom het. Moses was ook op Sinai-berg by die engel. Daar het die engel met Moses gepraat, en daar het Moses die boodskap gekry wat vir ons die ware lewe gee. 39Maar ons voorvaders wou nie luister na Moses nie. Hulle wou nie hoor wat hy sê nie, en hulle het verlang na Egipte. 40Hulle het vir Aäron gesê: ‘*Maak vir ons *gode wat vir ons verder kan lei. Want ons weet nie wat met Moses gebeur het nie, Moses wat ons uitgelei het uit Egipte.’ 41Toe het hulle ’n *beeld van ’n kalf gemaak, en hulle het *offers gebring vir die *afgod. Hulle was baie bly oor die beeld wat hulle met hulle hande gemaak het en hulle het *feesgevier. 42Maar God het hulle gelos, Hy het hulle nie meer gekeer wanneer hulle die sterre wou aanbid nie. Dit is wat geskryf is in die boek van die profete:

*Mense van Israel,

het julle vir My *brand-offers

en ander offers gebring

toe julle 40 jaar lank

in die woestyn was?

43Nee, julle het nie!

Julle het die tent

van *Molek saamgeneem

en die ster van julle god Refan.

Julle het hierdie beelde gemaak

om te aanbid.

Daarom sal Ek julle wegstuur

tot anderkant Babilon.

44“Ons voorvaders het die tent en die tien *gebooie wat daarin was, by hulle in die woestyn gehad. God het vir Moses gesê om die tent te maak. Dit moes dieselfde lyk soos die tent wat God vir Moses gewys het. 45Ons voorvaders het hierdie tent gekry en hulle het dit in hierdie land ingebring. Dit het gebeur toe Josua die land oorwin en gevat het. God het die volke wat daar woon, weggejaag sodat ons voorvaders daar kon woon. Die tent het in die land gebly tot in die tyd toe Dawid gelewe het. 46God was goed vir Dawid, en Dawid het vir God gevra of hy vir Hom ’n woonplek kan bou sodat *Jakob se nageslag daar vir God kan dien. 47Maar dit was Dawid se seun Sálomo wat ’n *tempel gebou het vir God. 48Maar God wat in die hoogste hemel woon, woon nie in tempels nie, want dit is mense wat tempels bou. Dit is wat die profeet sê:

49“Die Here sê: *Die hemel

is my *troon,

die aarde is die plek waarop

Ek my voete sit.

Dink julle dat julle vir Mý

’n huis kan bou

waar Ek kan woon?

Dit sê die Here.

Dink julle dat daar ’n plek is

waar Ek moet rus?

50Ek het alles gemaak

met my eie hande.

51“Julle is hardkoppig! Julle dink in julle hart soos die *heidene dink, en julle wil nie luister nie. Julle stry altyd teen die Heilige Gees. Julle doen dieselfde wat julle voorvaders gedoen het. 52Julle voorvaders het slegte dinge gedoen aan al die profete. Julle voorvaders het die mense doodgemaak wat gesê het dat die *Regverdige sal kom. En nou het júlle Hom *verraai en vermoor. 53Julle is die mense wat die wette van God gekry het. God het die engele gebruik om dit vir julle te gee. Maar julle was nie gehoorsaam aan God se wette nie.”

Die Joodse Raad gooi vir Stefanus dood met klippe

54Toe die *Joodse Raad hierdie dinge hoor, het hulle baie kwaad geword, hulle was woedend. Hulle het op hulle tande gebyt, want hulle was baie kwaad vir Stefanus. 55Maar die Heilige Gees was in Stefanus. Stefanus het reguit opgekyk na die hemel, en hy het gesien dat God Koning is. Hy het ook vir Jesus gesien wat staan op die belangrikste plek langs God.

56Toe sê Stefanus: “Kyk, ek sien dat die hemel oop is en ek sien die *Seun van die mens wat staan op die belangrikste plek langs God.”

57Maar die Joodse Raad het hard geskree en hulle het hulle ore toegedruk, want hulle wou nie hoor nie. Hulle het almal saam na Stefanus toe gehardloop 58en hulle het hom uitgejaag tot buite die stad. Toe het hulle begin om hom met klippe te gooi. En die *getuies het hulle *bo-klere neergesit by die voete van ’n jongman, sy naam was Saulus. 59En terwyl die Joodse Raad vir Stefanus met klippe gooi, het Stefanus gebid en gesê: “Here Jesus, neem my gees.”

60Toe het hy op sy knieë geval en hy het hard geskree: “Here, die mense maak my dood, maar U moenie vir hulle straf oor hierdie sonde nie, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”

En nadat hy dit gesê het, het hy gesterf.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index