Search form

Handelinge 9

Saulus begin om in Christus te glo

1Terwyl hierdie dinge gebeur het, het Saulus aangehou om te probeer om die mense dood te maak wat in die Here glo. Hy het daarom na die *hoëpriester toe gegaan, 2en vir hom gevra om briewe te skryf wat hy, Saulus, kon saamneem na die leiers van die *sinagoges in die stad Damaskus. Die briewe moes sê dat as Saulus mense kry wat behoort aan “*Die Pad,” mans en vroue, dan mag hy hulle vang en na Jerusalem neem. 3Terwyl Saulus op die pad was naby Damaskus, het daar skielik ’n lig rondom hom geskyn uit die lug. 4Toe hy op die grond val, het hy gehoor dat Iemand sê: “Saul, Saul, hoekom doen jy hierdie slegte dinge aan My?”

5Saulus vra toe: “Meneer, wie is jy?”

Die Persoon het gesê: “Ek is Jesus, jy doen slegte dinge aan My. 6Maar jy moet opstaan en jy moet in die stad ingaan, dan sal iemand vir jou sê wat jy moet doen.” 7Die mans wat saam met Saulus geloop het, was so bang en verbaas dat hulle stil gaan staan het, want hulle het die stem gehoor van die Persoon wat gepraat het, maar hulle het niemand gesien nie. 8Toe Saulus opstaan van die grond, het hy sy oë oopgemaak, maar hy kon niks sien nie. Die mense wat saam met hom was, het toe sy hand geneem en hulle het hom in Damaskus ingebring. 9Saulus kon drie dae lank nie sien nie, en het hy niks geëet en ook niks gedrink nie.

10Daar was ’n *gelowige in Damaskus. Sy naam was Ananias. Die Here het na Ananias gekom en Hy het vir hom gesê: “Ananias!”

Ananias antwoord toe: “Hier is ek, Here, ek luister.”

11Die Here sê toe vir Ananias: “Staan op en gaan na Reguitstraat. Jy moet in die huis van Judas soek na Saulus wat van die stad Tarsus kom. Jy sal sien hy is besig om te bid. 12Terwyl Saulus gebid het, het Ek vir hom gewys dat ’n man na hom toe kom en dat hierdie man sy *hande op hom sit sodat hy weer kan sien. Die man se naam is Ananias.”

13Maar Ananias het vir die Here gesê: “Here, baie mense het vir my vertel dat hierdie man baie slegte dinge in Jerusalem gedoen het aan die mense wat in U glo. 14En nou is Saulus hier, en die hoëpriester het gesê dat hy die mense mag vang wat vir U aanbid en dien.”

15Die Here sê toe vir Ananias: “Jy moet na Saulus toe gaan, want Ek het hom gekies en aangestel om vir My te werk en om vir die volke en hulle konings en ook vir die Israeliete te vertel van My. 16Ek sal self vir hom wys hoe baie hy moet swaarkry omdat Hy vir mense van My vertel.”

17Ananias het toe gegaan en hy het in die huis ingegaan. Hy het sy hande op Saulus gesit en gesê: “Saulus, my vriend, jy het die Here Jesus gesien op die pad hiernatoe, en dit is Hý wat my gestuur het na jou toe sodat jy weer kan sien en sodat die Heilige Gees in jou kan wees.”

18Dadelik het daar iets afgeval van Saulus se oë. Dit het gelyk soos *skubbe. Toe kon hy weer sien. Hy het opgestaan, en Ananias het hom gedoop. 19Saulus het toe geëet en hy het beter gevoel.

Saulus preek in Damaskus

Saulus het ’n paar dae by die *gelowiges in die stad Damaskus gebly, 20en hy het dadelik in die *sinagoges begin preek oor Jesus. Hy het gesê: “Hierdie Jesus is die Seun van God.” 21Al die mense wat vir Saulus gehoor praat het, was baie verbaas en hulle het gesê: “Is Saulus die man wat in Jerusalem probeer het om die mense dood te maak wat vir Jesus aanbid? Is hý die man wat hiernatoe gekom het om vir die mense wat vir Jesus aanbid, te vang en na die *priesterleiers toe te neem?” 22Maar Saulus het beter en beter gepreek vir die Jode wat in die stad Damaskus woon en hy het só goed verduidelik dat Jesus *die Christus is, dat hulle nie vir hom kon antwoord nie.

Saulus vlug uit Damaskus

23Ná ’n lang tyd het die Jode planne gemaak om vir Saulus dood te maak, 24maar hy het gehoor van hulle planne. Hulle het elke dag en elke nag die stad se *poorte dopgehou om vir Saulus te vang en dood te maak. 25Maar mense wat ook *gelowiges was, soos Saulus, het in die nag vir Saulus geneem en hulle het hom in ’n groot mandjie laat afsak deur ’n venster in die stad se muur.

Saulus gaan terug na Jerusalem

26Toe Saulus in Jerusalem kom, het hy aangehou om te probeer vriende maak met die *gelowiges. Maar hulle het nie geglo dat hy ’n gelowige is nie, en daarom was hulle almal bang vir Saulus. 27Maar Barnabas het vir Saulus gehelp. Hy het vir Saulus na die *apostels toe geneem en hy het vir hulle vertel dat Saulus op die pad na Damaskus die Here gesien het en dat die Here toe met Saulus gepraat het. Barnabas het ook vir hulle vertel dat Saulus nie bang was om vir die mense in Damaskus van Jesus te vertel nie. 28En Saulus het oral in Jerusalem saam met hulle gegaan en hy was nie bang om vir die mense te vertel van die Here nie. 29Hy het ook gepraat met die Jode wat Grieks gepraat het, en hy het met hulle gestry, maar hulle het probeer om hom dood te maak. 30Toe die gelowiges dit uitvind, het hulle vir Saulus na die hawestad Sesarea geneem en van Sesarea het hulle hom na die stad Tarsus gestuur.

31Die kerk in die provinsies Judea, Galilea en Samaria het ’n tyd lank in vrede gelewe. God het hulle gehelp om aan te hou glo, hulle het die Here gedien en hulle was gehoorsaam aan Hom. Die Heilige Gees het die kerk sterk gemaak en meer en meer mense het in die Here begin glo.

Petrus maak Eneas gesond

32Petrus het van die een plek na die ander plek gegaan. Hy het ook gekom by mense wat in die stad Lidda woon en wat in die Here glo. 33Petrus sien toe daar ’n man, sy naam was Eneas. Hy het ag jaar lank op sy slaapmat gelê omdat hy lam was. 34Petrus sê toe vir hom: “Eneas, Jesus Christus maak jou gesond. Jy moet opstaan en jy moet jou slaapmat opvou!”

Eneas het toe dadelik opgestaan. 35Al die mense van Lidda en die *Saron-vlakte het Eneas gesien, en hulle het verander en begin lewe soos die Here wil hê.

Petrus laat Tabita weer lewe

36In die stad Joppe was daar ’n *gelowige vrou. In die *Aramese taal was haar naam Tabita. In die Griekse taal was haar naam Dorkas. Hierdie vrou het baie goeie dinge gedoen en sy het altyd arm mense gehelp. 37Sy het in daardie tyd siek geword en gesterf. Nadat mense haar liggaam gewas het, het hulle dit in die bo-kamer neergesit. 38Die stad Lidda was naby Joppe, en die *gelowiges het gehoor dat Petrus daar in Lidda was. Daarom het hulle twee mans na Petrus toe gestuur om mooi vir hom te vra: “Kom asseblief gou na ons toe!” 39Petrus staan toe op en gaan saam met hulle. Toe hy daar kom, het hulle hom na die bo-kamer geneem. Al die weduwees het by hom gestaan en huil, en hulle het vir Petrus die klere gewys wat Dorkas altyd gemaak het toe sy nog gelewe het. 40Petrus het almal uitgestuur en toe het hy gekniel en gebid. Toe het hy na die liggaam gedraai en gesê: “Tabita, staan op!”

Tabita het haar oë oopgemaak, en toe sy vir Petrus sien, het sy regop gesit. 41Petrus het toe Dorkas se hand geneem en hy het vir haar gehelp om op te staan. Toe het Petrus die weduwees en die ander gelowiges geroep, en hy het die vrou wat weer begin lewe het, voor hulle laat staan. 42Al die mense in die stad Joppe het gehoor wat Petrus gedoen het, en baie mense het in die Here begin glo. 43Petrus het ’n lang tyd in Joppe gebly by ’n *leerlooier. Die man se naam was Simon.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index