Search form

Deuteronomium 1

In hierdie boek is die dinge geskryf wat Moses gesê het

1Moses het gepraat met die hele volk Israel. Dit was in die woestyn, oorkant die Jordaan-rivier, in die Jordaan-vallei, oorkant die stad Suf. Die stad Paran was langs die een kant, en die stede Tofel, Laban, Gaserot en Di-Sahab was langs die ander kant. Die dinge wat Moses gesê het, is in hierdie boek geskryf.

2’n Mens loop elf dae lank op die pad van Horeb-berg na die Seïr-berge, en dan kom jy by die stad Kades-Barnea.

3Moses het vir die Israeliete alles gesê wat die Here gesê het hy moet vir hulle sê. Dit was in die 40ste jaar nadat hulle uit Egipte gekom het, op die eerste dag van die elfde maand. 4Dit was nadat Moses vir koning Sihon van die Amoriete en vir koning Og van Basan oorwin het. Sihon het in die stad Gesbon gewoon en Og het in die stad Astarot gewoon.

5Moses het oorkant die Jordaan-rivier, in die land Moab, begin om vir die Israeliete te verduidelik wat die Here wil hê.

Die Here het gesê die Israeliete moet die land vat

6Moses het vir hulle gesê: “Ons God die Here het self by Horeb-berg vir ons gesê: Julle het lank genoeg by hierdie berg gebly. 7Julle moet nou weggaan. Julle moet verder gaan na die Bergland van die Amoriete en na die ander lande daar naby, na die Jordaan-vallei, die Bergland, die Laeveld, die Suid-land en die Seekus, die land van die Kanaäniete en die Libanon-berg. Julle moet gaan tot by die groot rivier, die Eufraat-rivier. 8Ek gee nou die land vir julle, gaan vat dit vir julle. Die Here het vir julle *voorvaders Abraham, Isak en Jakob belowe dat Hy die land vir hulle en hulle *nageslag sal gee.”

Moses het leiers gekies en aangestel

9Moses het vir hulle gesê: “Ek het in daardie tyd vir julle gesê dat ek alleen nie julle leier kan wees nie. 10Julle God die Here het julle ’n groot volk gemaak, julle is nou so baie soos die sterre in die lug. 11Ek bid dat die Here, die God van julle *voorvaders, julle nog meer sal maak, 1 000 maal meer, en dat Hy julle sal *seën soos Hy belowe het. 12Maar ek alleen kan nie *oordeel wanneer julle probleme het en twis nie. 13Julle moet ’n paar *wyse en verstandige manne kies uit elke *stam, manne wat sal weet wat om te doen. Dan sal ek hulle aanstel om julle leiers te wees.

14“Julle het vir my gesê: ‘Dit is goed, ons sal doen wat jy gesê het.’

15“Julle *stamhoofde was wyse manne wat geweet het wat om te doen. Ek het hulle aangestel om julle leiers te wees. Party moes leiers wees van 1 000 mense, party was leiers van 100 mense en party was leiers van tien mense. Party moes voormanne wees in die stamme.”

Die regters

16“Ek het in daardie tyd vir julle *regters gesê: ‘Julle moet goed luister na wat almal sê en julle moet reg *oordeel wanneer party Israeliete mekaar beskuldig of wanneer ’n Israeliet en ’n *vreemdeling mekaar beskuldig. 17Julle moenie téén party mense wees en vír ander mense wees nie, julle moet luister na belangrike én na onbelangrike mense. Julle moet vir niemand bang wees nie, want dit is God wat sal sê hoe julle moet oordeel. En as iets te moeilik is vir julle, dan moet julle dit vir my kom sê, dan sal ek luister na wat die mense sê.’

18“Ek het toe vir julle gesê wat julle alles moet doen.”

Die Israeliete was opstandig teen die Here

19“Ons het weggegaan van Horeb-berg en ons het deur daardie groot woestyn gegaan, julle weet hoe bang ons daar was. Ons het op die pad geloop na die Bergland van die Amoriete en ons het by die stad Kades-Barnea gekom. 20Ek het toe vir julle gesê: ‘Julle het gekom by die Bergland van die Amoriete, die land wat julle God die Here vir julle gee. 21Julle God die Here gee hierdie land vir julle, gaan vat dit vir julle. Die Here, die God van julle *voorvaders, het gesê julle moet dit doen. Julle moenie bang wees nie.’

22“Maar toe het julle almal na my toe gekom en gesê: ‘Kom ons stuur eers manne wat oral in die land kan gaan kyk en wat vir ons kan kom sê op watter pad ons moet gaan en hoe die stede is waar ons sal kom.’

23“Ek het gedink dit is goed en ek het twaalf manne gekies, een man uit elke *stam. 24Die manne het weggegaan en hulle het deur die Bergland gegaan. Hulle het tot by die Druiwe-vallei gegaan en hulle het gekyk hoe die land is. 25Hulle het van die vrugte van die land saamgebring en vir ons kom sê: ‘Dit is ’n goeie land wat ons God die Here vir ons gee.’

26“Maar julle wou nie gaan nie, julle was *opstandig teen julle God die Here. 27Julle het in julle tente gesit en kla. Julle het gesê: ‘Die Here haat ons, daarom het Hy ons uit die land Egipte gebring om ons vir die Amoriete te gee sodat hulle ons kan doodmaak. 28Ons kan nie nou in die land ingaan nie. Die manne wat gaan kyk het hoe die land is, het ons moedeloos laat word, want hulle het gesê daardie mense is groter en sterker as ons, en die sterk mure van hulle stede is so hoog soos die hemel. Hulle het daar ook *Enak-mense gesien.’

29“Ek het vir julle gesê: ‘Nee, julle moenie skrik vir hierdie mense nie, julle moenie bang wees nie. 30Julle God die Here loop voor julle, Hý sal julle help en Hy sal die oorlog vir julle veg, julle het gesien hoe Hy dit gedoen het in die land Egipte 31en in die woestyn. Kan julle onthou hoe julle God die Here vir julle gedra het? Hy het julle gedra soos ’n man sy kind dra. Die Here het dit gedoen op die hele pad waarop julle geloop het, tot hier.’

32“Ek het dit vir julle gesê, maar julle het nog nie geglo dat die Here julle sal lei nie, 33die Here wat vir julle op die pad gelei het en wat gekyk het waar julle die tente kan opslaan, die Here wat vir julle gewys het waar die pad is. In die nag het Hy dit met ’n vuur gewys en in die dag met ’n wolk. 34Toe die Here hoor wat julle sê, het Hy kwaad geword. Hy het gesê: 35‘Nie een van hierdie manne sal die goeie land sien wat Ek vir hulle *voorvaders belowe het nie, niemand van hierdie slegte *geslag nie. Dit is seker, so seker soos Ek lewe. 36Net Kaleb seun van Jefunne sal die land sien. Ek sal vir hom en sy kinders die land gee waar hy geloop het, want hy het aangehou om in die Here te glo.’

37“Die Here het vir my ook kwaad geword oor julle. Hy het vir my gesê: ‘Jy sal ook nie in die land kom nie. 38Josua seun van Nun, die man wat vir jou werk, hý sal in die land kom. Jy moet hom sterk maak en vir hom leer om die werk te kan doen wat hy moet doen, want hy sal die Israeliete lei om die land vir hulleself te vat. 39Julle kinders sal ook in die land ingaan. Julle het gesê die Amoriete sal julle kinders vang en wegvat, maar julle kinders sal in die land ingaan, julle kinders wat nou nie weet wat reg is en wat verkeerd is nie. Ek sal die land vir hulle gee, en hulle sal dit vir hulleself vat. 40Maar julle, julle moet weggaan en na die woestyn gaan op die pad na die Riet-see.’

41“Julle het toe vir my gesê: ‘Ons het verkeerd gedoen teen die Here, ons sal self oorlog gaan maak, ons sal doen wat die Here vir ons gesê het.’

“En toe het julle al julle wapens geneem, julle het gedink julle sal maklik in die Bergland kan ingaan. 42Maar die Here het vir my gesê: ‘Jy moet vir hulle sê: Julle moenie oorlog gaan maak nie, want Ek sal nie by julle wees nie, en julle sal verloor teen julle vyande.’

43“Ek het dit vir julle gesê, maar julle het nie geluister nie. Julle was opstandig teen die Here, julle was hoogmoedig en julle het in die Bergland ingegaan. 44En toe het die Amoriete wat in daardie Bergland woon, gekom en hulle het vir julle aangeval. Hulle het julle gevolg en gejaag soos ’n swerm bye van die land Seïr tot by die stad Gorma. 45Julle het teruggekom en by die Here gekla en gehuil. Maar Hy het nie na julle geluister nie. 46Julle het toe lank by die stad Kades gebly, so lank soos voorheen.”

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index