Search form

Deuteronomium 3

Die Israeliete het vir koning Og oorwin en sy land gevat

1Moses het gesê: “Ons het verder gegaan, ons het op die pad na die land Basan gegaan. Koning Og van Basan en al sy manne het ons kom aanval. Die oorlog was by die stad Edreï. 2Die Here het vir my gesê: ‘Jy moenie bang wees vir koning Og nie, want Ek sal jou laat wen teen hom en al sy mense. Jy moet sy land vat, soos jy ook gedoen het met koning Sihon van die Amoriete wat in Gesbon gewoon het.’

3“Ons God die Here het ons laat wen teen koning Og van Basan en al sy mense. Ons het hulle oorwin en nie een van hulle het aangehou lewe nie. 4Ons het toe ál sy stede gevat, daar was nie één stad wat ons nie gevat het nie. Dit was 60 stede, die hele land Argob waaroor koning Og van Basan regeer het. 5Al daardie stede het sterk en hoë mure gehad, en daar was sterk deure en *sluitbalke in die *poorte. Ons het ook baie dorpies gevat. 6Ons het al die mense in die stede en dorpies doodgemaak, al die mans, vroue en kinders, soos ons ook gedoen het met die mense van koning Sihon van Gesbon. 7Maar ons het die beeste en die goed in die stede vir onsself gevat.”

Moses het vir party stamme grond gegee oos van die Jordaan-rivier

8“So het ons daardie tyd die land gevat van die twee Amoriete-konings anderkant die Jordaan-rivier, van die Arnon-vallei tot by Hermon-berg. 9Die Sidoniërs noem Hermon-berg ‘Sirjon-berg,’ en die Amoriete noem dit ‘Senir-berg.’ 10Ons het al die stede gevat wat op die Hoëveld was, en die hele land Gilead en die hele land Basan, tot by die stede Salka en Edreï. Dit was twee stede in die land Basan van koning Og. 11Koning Og van Basan was die enigste Refaïet wat nog gelewe het. ’n Mens kan sy bed nog sien in die stad Rabba van die Ammoniete. Dit is ’n ysterbed, dit is nege *el lank en *vier el breed.

12“Ek het ’n stuk van die land wat ons in daardie tyd gevat het, vir die *Ruben-stam en die *Gad-stam gegee. Dit was die stuk land tussen die stad Aroër langs die Arnon-vallei tot by die helfte van die Gilead-berge en die stede daarin. 13Die ander helfte van die Gilead-berge en die hele land Basan het ek gegee vir die halwe *Manasse-stam. Basan was voorheen die land van Og. Dit was die hele land Argob, die hele stuk land van Basan wat hulle altyd Refaïete-land genoem het. 14Jaïr seun van Manasse het die hele land Argob gevat tot by die grens van die lande Gesur en Maäka. Hy het die naam van die land Basan verander, hy het sy eie naam vir die land gegee, en hy het dit die Jaïr-kampe genoem. Dit is nou nog die naam. 15Ek het die land Gilead vir Makir gegee, 16en vir die Ruben-stam en die Gad-stam het ek die stuk land gegee van Gilead tot langs die middel van die Arnon-vallei, en ook die stuk land tot langs die Jabbok-vallei. Dit is die grens van die Ammoniete se land. 17Ek het ook die Jordaan-vallei vir hulle gegee, die Jordaan-rivier en die grond langs die rivier. Dit was van die Gennesaret-meer tot by die see in die Jordaan-vallei, die *Sout-see. Dit was onderkant die Pisga-berg langs die oostekant. 18Ek het daardie tyd vir die mense van die Ruben-stam, die Gad-stam en die halwe Manasse-stam gesê: ‘Julle God die Here het hierdie land vir julle gegee om daar te gaan woon, maar al julle manne wat oorlog kan maak, moet deur die Jordaan-rivier gaan voor die ander Israeliete. 19Net julle vroue en kinders en diere mag hier in die stede bly wat ek vir julle gegee het, ek weet dat julle baie diere het. 20Julle manne moet saam gaan veg totdat die Here ook die ander Israeliete laat wen het teen al hulle vyande. Dan kan hulle die land vat wat julle God die Here vir hulle gee, dit is die land wes van die Jordaan-rivier. Daarna kan julle terugkom na die grond wat ek vir julle gegee het, elkeen kan na sy eie grond kom.’

21“En ek het toe vir Josua gesê: ‘Jy het nou self alles gesien wat die Here gedoen het met daardie twee konings. Jy gaan nou deur die Jordaan-rivier na ander konings toe. Die Here sal dieselfde doen met daardie konings. 22Julle moenie bang wees vir hulle nie, want julle God die Here self sal oorlog maak vir julle, Hy sal julle help.’ ”

Die Here het gesê Moses mag nie deur die Jordaan-rivier gaan nie

23“Ek het daardie tyd vir die Here gesoebat en gevra: 24‘Here, my Here, U het begin om my te laat sien hoe groot en sterk U is. Daar is nie ’n ander God in die hemel of op die aarde wat die groot dinge kan doen wat U doen nie. 25U moet my asseblief ook deur die Jordaan-rivier laat gaan sodat ek die goeie land anderkant die Jordaan-rivier kan sien, hierdie mooi bergland en die Libanon-berg.’

26“Maar omdat die Here kwaad geword het vir julle, was Hy ook kwaad vir my. Hy het nie vir my gegee wat ek gevra het nie. Hy het vir my gesê: ‘Dit is nou genoeg, jy moenie weer met My hieroor praat nie. 27Jy mag op Pisga-berg gaan staan en jy mag kyk na die weste en die noorde en die suide en die ooste, maar jy sal nie deur hierdie Jordaan-rivier gaan nie. 28Jy moet vir Josua sê wat hy moet doen en jy moet hom dapper maak, want dit is hý wat voor die volk deur die Jordaan-rivier sal gaan, hý sal hierdie land vir julle gee om in te woon, hierdie land wat jy sien.’

29“Ons het toe daar in die vallei oorkant die stad Bet-Peor gebly.”

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index