Search form

Prediker 8

1Wie het so baie wysheid dat hy kan sê wat alles beteken? Niemand. Wanneer ’n mens wysheid het, dan is hy vriendelik, wysheid laat hom sag word.

As jy doen wat die koning sê, dan sal dit nie sleg gaan met jou nie

2Ek sê vir jou: Jy moet doen wat die koning sê, want jy het vir God belowe om gehoorsaam te wees aan die koning. 3Jy moenie haastig wees en sê ’n verkeerde ding is reg nie, dit is beter dat jy weggaan van die koning, want die koning doen altyd wat hy wil. 4Die koning is die hoof, almal moet doen wat hy sê. Niemand kan vir hom vra hoekom hy iets doen nie. 5As jy doen wat die koning sê, dan sal dit nie sleg gaan met jou nie. As jy *wysheid het, dan sal jy weet wat is reg en jy sal weet wanneer jy iets mag doen. 6Ja, daar is ’n regte tyd om elke ding te doen en daar is ’n regte manier om dit te doen. Die slegte dinge wat met ’n mens gebeur, pla hom die meeste, 7want niemand weet wat later sal gebeur nie, daar is niemand wat vir ’n mens kan sê hoe dit later sal wees nie. 8Niemand kan die wind laat ophou waai nie, niemand kan besluit wanneer hy moet sterf nie en niemand kan vry wegkom uit ’n oorlog nie. As iemand verkeerd doen, dan sal dít wat hy doen, ook nie vir hom red nie. 9Ek het dit alles gesien en ek het alles probeer verstaan wat mense in hierdie wêreld doen, in hierdie tyd wanneer mense oor ander mense regeer en hulle laat swaarkry.

Dit sal goed gaan met die mense wat vir God respekteer en Hom dien

10Ek het ook gesien dat mense wat verkeerd doen, sterf en begrawe word, hulle is weg vir altyd, mense vergeet dat hulle daar was. Maar die mense van ’n stad dink ook nie meer aan iemand wat van die *tempel kom en reg gedoen het nie. Ook dít is nie soos dit moet wees nie. 11Wanneer mense verkeerd gedoen het, en jy straf hulle nie dadelik nie, dan sal hulle aanhou om verkeerd te doen, 12want ’n sondaar kan 100 maal verkeerd doen en nog lank lewe. Maar dít weet ek ook: Dit sal goed gaan met die mense wat vir God respekteer en Hom dien, 13en dit sal nie goed gaan met ’n mens wat verkeerd doen en wat nie vir God respekteer en dien nie. Hy sal nie lank lewe nie. Hy sal soos ’n skaduwee gou verdwyn. 14Daar is iets wat op die aarde gebeur wat nie is soos dit moet wees nie: Daar is mense wat reg lewe, maar dan gebeur daar met hulle dinge wat moet gebeur met mense wat verkeerd doen. En daar is mense wat verkeerd doen, maar dan gebeur daar met hulle dinge wat moet gebeur met mense wat reg lewe. Ek sê dit is ook nie soos dit moet wees nie. 15Ek het gesê dit is die beste om die lewe te geniet. Die beste wat ’n mens in hierdie wêreld kan doen, is om te eet en te drink en dinge te geniet. ’n Mens kan dit doen terwyl hy hard werk in die lewe wat God vir hom in hierdie wêreld gee.

Mense kan nie verstaan wat gebeur nie

16Ek het hard probeer verstaan wat *wysheid is en ek het probeer sien wat mense op die aarde doen, want hulle is baie besig en slaap amper nooit, nie in die dag of in die nag nie. 17En toe het ek gesien hoe God alles gemaak het, en ek het gesien dat mense hard probeer verstaan wat alles in hierdie wêreld gebeur, maar hulle kan dit nie verstaan nie. En ook wanneer ’n *wyse mens sê dat hy dit verstaan, dan kan hy dit nie verstaan nie.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index