Search form

Ester 9

Die Judeërs oorwin hulle vyande

1Dit was in die twaalfde maand, die maand *Adar, op die 13de dag van die maand. Die mense het gehoor wat die koning besluit het. Die vyande van die Judeërs het gehoop dat hulle op daardie dag die Judeërs sal oorwin, maar dit het nie gebeur nie, die Judeërs het toe die mense aangeval, hulle het die mense oorwin wat vir hulle gehaat het. 2Die Judeërs het bymekaargekom in al hulle stede in die provinsies van koning Ahasveros. Hulle het die mense aangeval wat wou hê dat dit sleg moet gaan met die Judeërs, en niemand kon hulle keer nie, want al die mense was bang vir hulle. 3Al die *amptenare in die provinsies en die *hoof-amptenare en die *goewerneurs, almal wat vir die koning gewerk het, het vir die Judeërs gehelp, want hulle was bang vir Mordegai. 4Dit was omdat Mordegai die belangrikste amptenaar in die paleis geword het. Die mense in al die provinsies het geweet van hom. Mordegai het meer en meer belangrik geword. 5Die Jode het hulle vyande aangeval en hulle het almal doodgemaak, hulle het gedoen wat hulle wil met die mense wat vir hulle gehaat het. 6Die Judeërs het 500 mense in die stad Susan doodgemaak. 7-10Hulle het ook die tien seuns van Haman doodgemaak. Die seuns was Parsandata, Dalfon, Aspata, Porata, Adalja, Aridata, Parmasta, Arisai, Aridai en Wajesata. Haman was die seun van Hammedata, hy was die vyand van die Judeërs. Maar die Judeërs het nie hulle vyande se goed vir hulleself gevat nie. 11Toe die koning daardie dag hoor hoeveel mense in Susan dood is, 12het hy vir koningin Ester gesê: “Die Judeërs het hier in die stad Susan 500 persone doodgemaak, en ook die tien seuns van Haman. Ek wonder hoeveel mense hulle in die ander provinsies doodgemaak het. Wat wil jy nog vir my vra? Ek sal dit vir jou gee. Jy moet sê wat jy nog wil hê, en ek sal dit doen.”

13Ester het geantwoord: “As die koning dink dit is reg, dan moet jy vir die Judeërs in Susan sê dat hulle môre dieselfde mag doen wat hulle vandag gedoen het. En jy moet die tien seuns van Haman laat ophang aan die paal.”

14Die koning het gesê dit is goed, en die mense in Susan het gehoor wat hy besluit het. Hulle het die tien seuns van Haman opgehang. 15Die Judeërs in Susan het ook op die 14de dag van die maand Adar bymekaargekom en hulle het nog 300 mense in Susan doodgemaak. Maar hulle het nie hulle vyande se goed vir hulleself gevat nie.

16Die Judeërs in die ander provinsies van die koning het ook bymekaargekom om hulleself te verdedig. Hulle het gewen teen al hulle vyande en hulle het 75 000 mense doodgemaak wat vir hulle gehaat het. Maar hulle het nie hulle vyande se goed vir hulleself gevat nie. 17Dit was op die 13de dag van die maand Adar. Op die 14de dag het hulle gerus, en hulle het besluit dat daardie dag ’n feesdag moet wees. Hulle was vrolik op daardie dag. 18Maar die Judeërs in die stad Susan het op die 13de én op die 14de dag bymekaargekom en hulle het op die 15de dag gerus. Daarom het hulle besluit dat die 15de dag ’n feesdag moet wees. Hulle was vrolik op daardie dag. 19Daarom het die Judeërs wat woon in die stede wat nie mure het nie, die 14de dag ’n feesdag gemaak. Dit is ’n vakansiedag en hulle stuur dan kospakkies vir mekaar.

20Mordegai het al hierdie dinge opgeskryf, en hy het briewe geskryf vir die Jode in al die provinsies van koning Ahasveros. Hy het geskryf vir die Jode wat naby was en ook vir die Jode wat ver was. 21Mordegai het gesê hulle moet elke jaar op die 14de en die 15de dag van die maand Adar *feesvier. 22Die Judeërs moet op daardie dae onthou dat hulle al hulle vyande oorwin het. Hulle moet ook onthou dat dit die maand is wanneer hulle hartseer sou gewees het en sou *gerou het, maar dit het só verander dat hulle bly kon wees en kon feesvier. Dit was nou dae wanneer hulle vir mekaar kospakkies stuur en vir arm mense presente gee. 23Die Judeërs het aangehou om te doen wat hulle begin doen het, soos Mordegai vir hulle geskryf het.

24Haman seun van Hammedata, van die *nageslag van Agag, was die vyand van die Judeërs. Hy wou die Judeërs almal doodmaak. Hy het die “pur” gegooi, dit beteken hy het lootjies getrek om te weet op watter dag hy hulle almal moet laat doodmaak. 25Maar toe het Ester by die koning gekom, en die koning het anders besluit. Hy het gesê hulle moet skryf dat die slegte plan wat Haman teen die Judeërs gemaak het, met homself moet gebeur. Hulle het toe vir Haman en sy seuns aan die paal opgehang. 26Daarom noem hulle hierdie feesdae Purim, want hulle het die “pur” gegooi, dit beteken hulle het lootjies getrek. Die Judeërs vier fees op hierdie dae omdat Mordegai dit so geskryf het in sy brief en omdat dit alles so met hulle gebeur het. 27Die Judeërs het besluit dat hulle en hulle nageslag en almal wat Judeërs word, hierdie twee dae altyd sal vier op die regte tyd. 28Elke *geslag, elke familie, elke provinsie, elke stad, sal op hierdie dae altyd feesvier. Die Judeërs en hulle nageslag sal hierdie dae van Purim nie vergeet nie. 29Koningin Ester, dogter van Abigajil, en die Judeër Mordegai het geskryf en gesê dat die Judeërs alles moet doen wat in hierdie tweede brief oor die Purimfees geskryf is. 30Mordegai het die briewe gestuur na al die Judeërs in die 127 provinsies van koning Ahasveros. Hy het geskryf dat hy wil hê hulle moet veilig wees en vrede hê. 31Hy het ook gesê dat die Judeërs hierdie twee dae van die Purimfees op die regte tyd moet vier soos hy en koningin Ester besluit het en soos die Judeërs self besluit het. Hy het gesê dat hulle nageslag dit ook moet doen. Mordegai het ook geskryf hoe die Judeërs moet *vas en rou. 32Ester het besluit hoe hulle die Purimfees moet vier, en hulle het dit geskryf in ’n boek.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index