Search form

Eksodus 1

Die volk Israel word slawe in Egipte

1Hier is die name van Jakob se seuns wat saam met hom na Egipte gekom het. Elke seun se huisgesin het saam met hom gekom: 2Ruben, Simeon, Levi en Juda, 3Issaskar, Sebulon en Benjamin, 4Dan, Naftali, Gad en Aser.

5Jakob het 70 *afstammelinge gehad. Josef was al klaar in Egipte toe hulle daar gekom het. 6Later het Josef en al sy broers wat van Kanaän gekom het, gesterf. 7Die Israeliete was *vrugbaar, hulle het baie geword. Hulle het ’n baie groot volk geword, die land het vol Israeliete geword. 8Maar toe het ’n nuwe koning oor Egipte begin regeer. Hy het nie vir Josef geken nie. 9Hy het vir die mense van Egipte gesê: “Die Israeliete is nou meer en sterker as ons. 10Wanneer ons vyande oorlog maak teen ons, dan sal die Israeliete miskien saam met hulle veg teen ons en hulle sal ons land vat. Kom ons maak ’n plan, sodat hulle nie nog meer kan word nie.”

11Die *farao het die Israeliete toe soos *slawe laat werk en hy het mense aangestel om te kyk dat hulle hard werk. Die Israeliete moes vir die farao twee stede bou: Pitom en Rameses. Die farao het kos en ander goed in hierdie stede gebêre. 12Die Egiptenaars het die Israeliete verdruk, maar dit het nie gehelp nie. Die Israeliete het nog baie meer geword. Die Egiptenaars het die Israeliete gehaat 13en hulle nog harder laat werk. 14Hulle het die Israeliete baie swaar laat kry en hard laat werk. Die Israeliete moes stene maak van klei en hulle moes in die grond werk. Die Egiptenaars het hulle soos slawe laat werk. Hulle was nie jammer vir die Israeliete nie. 15Die koning van Egipte het ook met die *Hebreeuse vroedvroue gepraat. Die een vroedvrou se naam was Sifra, en die ander vroedvrou se naam was Pua. 16Die koning het vir hulle gesê: “Wanneer julle die *Hebreeuse vroue help wat kinders kry, en julle sien dit is ’n seun, dan moet julle hom doodmaak. Maar wanneer dit ’n dogter is, dan mag sy lewe.”

17Die vroedvroue was bang dat God hulle sal straf, en hulle het nie gedoen wat die koning van Egipte vir hulle gesê het nie. Hulle het die seuns laat lewe. 18Die koning van Egipte roep toe die vroedvroue en vra vir hulle: “Hoekom doen julle nie wat ek gesê het nie? Hoekom maak julle nie die seuns dood nie?”

19Die vroedvroue het vir die farao gesê: “Die Hebreeuse vroue is nie soos die Egiptiese vroue nie. Die Hebreeuse vroue is sterk. Wanneer die vroedvrou by hulle kom, dan is die kind al klaar gebore.”

20-21God was goed vir die twee vroedvroue. God het vir hulle kinders gegee omdat hulle gehoorsaam was aan Hom. Die Israeliete het baie geword, hulle het ’n sterk volk geword. 22Daarom het die farao vir al sy mense gesê: “Julle moet elke Hebreeuse seuntjie wat gebore word, in die Nyl-rivier gooi. Maar moenie die dogtertjies doodmaak nie.”

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index