Search form

Eksodus 14

1Die Here het vir Moses gesê: 2“Sê vir die Israeliete hulle moet omdraai en hulle moet hulle tente opslaan by Pi-Hagirot, tussen Migdol en die see. Hulle moet by Baäl-Sefon hulle tente opslaan by die see. 3Dan sal die farao dink die Israeliete het in die woestyn verdwaal. 4Ek sal die farao hardkoppig maak en hy sal die Israeliete volg en jaag. Ek sal die farao en al sy soldate oorwin en doodmaak. Dan sal die Egiptenaars weet dat Ek die Here is.”

Die Israeliete het toe gedoen soos Moses vir hulle gesê het.

Die farao volg en jaag die Israeliete

5Die koning van Egipte, die *farao, het gehoor dat die Israeliete gevlug het. Hy en sy *amptenare het toe gesê: “Ons het ’n fout gemaak. Ons het die Israeliete laat gaan, en nou is hulle nie meer ons *slawe nie.”

6Die farao het toe die perde voor sy *oorlogkar ingespan en hy het sy soldate saam met hom geneem. 7Hy het 600 goeie oorlogkarre geneem, al die oorlogkarre van Egipte. Daar was drie manne op elke oorlogkar. 8Die Here het die farao, die koning van Egipte, hardkoppig gemaak. Hy het die Israeliete gevolg en gejaag, maar die Here het die Israeliete beskerm toe hulle weggegaan het. 9Die Egiptenaars het die Israeliete gevolg en gejaag. Die manne op die farao se oorlogkarre en sy soldate het tot by die Israeliete gekom. Die Israeliete se kamp was by die see, by Pi-Hagirot naby Baäl-Sefon.

Die Here red die Israeliete by die Riet-see

10Toe die *farao nader kom, het die Israeliete gesien dat die Egiptenaars hulle volg en jaag, en hulle het baie bang geword. Hulle het tot die Here gebid en hulle het Hom gevra om hulle te help. 11Maar vir Móses het hulle gesê: “Daar was baie plek in Egipte waar die mense ons kon begrawe. Hoekom het jy ons daar weggevat om in die woestyn dood te gaan? Wat het jy aan ons gedoen? Hoekom het jy ons uit Egipte gebring? 12Ons het vir jou in Egipte gesê jy moet ons los sodat ons die Egiptenaars se *slawe kan wees. Dit is vir ons beter om hulle slawe te wees, beter as om in die woestyn dood te gaan.”

13Maar Moses het vir die Israeliete gesê: “Moenie bang wees nie. Bly waar julle is. Julle sal vandag sien dat die Here julle sal red. Julle sien vandag die Egiptenaars, maar julle sal hulle nooit weer sien nie. 14Die Here sal self oorlog maak en Hy sal vir julle veg teen die Egiptenaars. Julle moet stil wees.”

15Die Here het vir Moses gesê: “Hoekom bid jy tot My en vra dat Ek julle moet help? Sê vir die Israeliete hulle moet aanhou loop. 16En jy, tel jou kierie op en hou jou hand oor die see. Dan sal daar ’n pad deur die see wees sodat die Israeliete op die grond deur die see kan gaan. 17Ek sal die Egiptenaars hardkoppig maak. Hulle sal julle deur die see volg. Dan sal Ek wys dat Ek die God is wat kan doen wat Ek wil doen met die farao en al sy soldate en met sy *oorlogkarre en die manne daarop. 18Wanneer Ek dit doen, dan sal die Egiptenaars weet dat Ek die Here is.”

19Die *Engel van die Here was altyd voor die Israeliete, maar Hy het nou agter hulle gaan staan. 20Die wolk was toe tussen die Egiptenaars en die Israeliete. Die wolk was donker by die Egiptenaars maar by die Israeliete het die wolk in die nag lig gegee. Die Egiptenaars en die Israeliete kon daardie nag nie naby mekaar kom nie. 21Moses het sy hand oor die see gehou, en die Here het ’n sterk *oostewind gestuur. Die wind het die hele nag gewaai en die water weggestoot. Daar was ’n pad deur die see. 22Die Israeliete het op die grond deur die see gegaan. Die water was vir hulle soos ’n muur langs hulle regter-kant en langs hulle linker-kant. 23Die Egiptenaars het die Israeliete gevolg tot binne-in die see. Al die farao se perde en sy oorlogkarre en die manne daarop het in die see ingegaan. 24Vroeg die volgende oggend het die Here uit die vuur en die wolk afgekyk na die Egiptenaars se soldate. Hy het die soldate baie bang laat word. 25Hy het die oorlogkarre se wiele laat uitval sodat die karre nie vorentoe kon beweeg nie. Toe sê die Egiptenaars: “Ons moet wegvlug van die Israeliete, want die Here veg vir hulle teen ons.”

26Die Here sê toe vir Moses: “Hou jou hand weer oor die see. Dan sal die water terugkom oor die Egiptenaars, oor hulle oorlogkarre en oor die manne daarop.”

27Moses het sy hand na die see toe gehou, en toe dit die volgende oggend begin lig word, het die see teruggespoel soos dit voorheen was. Die Egiptenaars wou weghardloop, maar die water het oor hulle gespoel. So het die Here die Egiptenaars in die see laat verdrink. 28Die water het teruggekom, en die see het die oorlogkarre toegemaak, dit het ook die manne daarop en al die soldate van die farao toegemaak, almal wat die Israeliete gevolg het in die see in. Nie een van hulle het oorgebly nie. 29Die Israeliete het op die grond deur die see gegaan. Die water was vir hulle soos ’n muur langs hulle regter-kant en langs hulle linker-kant. 30Die Here het die Israeliete daardie dag gered van die Egiptenaars. Die Israeliete het gesien dat die Egiptenaars dood lê langs die see. 31Die Israeliete het gesien dat die Here kan doen wat Hy wil doen. Hy het die Egiptenaars doodgemaak. Die Israeliete het bang geword vir die Here en hulle het Hom gerespekteer. Hulle het geglo in die Here en in sy *dienaar Moses.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index