Search form

Eksodus 16

Die Here gee manna en kwartels in die Sin-woestyn

1Nadat die Israeliete weggegaan het van Elim, het hulle in die Sin-woestyn gekom. Dit was tussen Elim en Sinai. Dit was die 15de dag van die tweede maand nadat hulle weggegaan het uit Egipte. 2Die Israeliete het daar in die woestyn begin om vir Moses en Aäron te beskuldig. 3Die Israeliete het vir hulle gesê: “Ons wens die Here het ons in Egipte laat sterf. Daar het ons baie vleis en genoeg kos gehad om te eet. Nou het julle ons na hierdie woestyn gebring, en ons sal almal hier van honger sterf.”

4Die Here het vir Moses gesê: “Ek sal nou vir julle brood uit die hemel laat reën. Die mense moet gaan en hulle moet genoeg optel vir elke dag. So sal Ek kan sien of hulle wil doen wat Ek sê. 5As hulle op die sesde dag die kos regmaak wat hulle opgetel het, dan sal daar twee maal meer kos wees as op die ander dae.”

6Moses en Aäron het vir al die Israeliete gesê: “Vanaand sal julle weet dat dit die Here is wat julle laat weggaan het uit Egipte. 7En môre sal julle die lig sien wat om die Here, die Koning, is wanneer Hy *verskyn. Hy het gehoor wat julle van Hom praat. Hoekom beskuldig julle vir my en Aäron? Ons is nie belangrik nie.”

8Moses het gesê: “Die Here sal vanaand vir julle vleis gee en môre-oggend brood, meer as genoeg kos. Hy sal dit doen omdat Hy gehoor het julle praat van Hom. Julle het nie vir óns beskuldig nie, julle het vir die Here beskuldig.”

9Moses het vir Aäron gesê hy moet vir al die Israeliete sê: “Kom almal bymekaar, want die Here het gehoor wat julle van Hom gepraat het.”

10Nadat Aäron met al die Israeliete gepraat het, het hulle omgedraai en na die woestyn gekyk. Hulle het in ’n wolk die lig gesien wat om die Here, die Koning, is wanneer Hy verskyn. 11Die Here het vir Moses gesê: 12“Ek het gehoor wat die Israeliete praat. Sê vir hulle: ‘Vanaand sal julle vleis eet en môre-oggend sal julle baie kos hê, meer as genoeg. Dan sal julle weet dat Ek julle God die Here is.’ ”

13Daardie aand het daar *kwartels gekom en hulle het oral in die kamp gaan sit. Toe was daar vleis om te eet.

Die volgende oggend was daar *dou rondom die kamp. 14Toe die dou weggaan, was daar iets soos stof op die grond in die woestyn. Dit was korrels en dit het gelyk soos *ryp op die grond. 15Toe die Israeliete dit sien, sê hulle vir mekaar: “*Manna, wat is dit?”

Hulle het nie geweet wat dit is nie. 16Moses het vir hulle gesê: “Dit is die brood wat die Here vir julle gee om te eet. Die Here het gesê julle moet dit optel, elkeen moet genoeg optel om te eet, hy moenie méér optel nie. Julle moet vir elkeen in julle huisgesin ’n *omer manna optel.”

17Die Israeliete het dit gedoen. Party het baie opgetel, en party het min opgetel. 18Maar toe hulle dit met die *kruik gemeet het, was dit genoeg. Elkeen wat baie opgetel het, het nie te veel vir sy huisgesin gehad nie, en elkeen wat min opgetel het, het nie te min vir sy huisgesin gehad nie. Elkeen het genoeg opgetel vir sy huisgesin, hy het nie méér opgetel nie. 19Moses het vir hulle gesê: “Niemand moet van die kos los tot die volgende oggend nie.”

20Maar die Israeliete het nie geluister na Moses nie. Hulle het van die kos gelos tot die volgende oggend. Daar het toe wurms in die kos gekom, en die kos het sleg geword. Moses was baie kwaad vir hulle. 21Die Israeliete het elke oggend die manna opgetel, elkeen het genoeg opgetel om te eet, hy het nie méér opgetel nie. Wanneer dit later warm geword het, dan het die manna gesmelt wat hulle nie opgetel het nie. 22Op die sesde dag het hulle twee maal meer manna opgetel, twee omer vir elkeen. Al die leiers van die volk het dit vir Moses kom vertel. 23Moses het vir hulle gesê die Here het gesê: “Môre is ’n rusdag, ’n *gewyde Sabbatdag vir die Here. Julle mag vandag alles bak wat julle wil bak en alles kook wat julle wil kook. Alles wat oor is, moet julle bêre tot môre-oggend.”

24Die Israeliete het gedoen wat Moses gesê het. Hulle het die kos gebêre tot die volgende oggend. Dit het nie sleg geword nie en daar het nie wurms in die kos gekom nie. 25Moses het gesê: “Julle moet dit vandag eet, want vandag is die Sabbatdag vir die Here. Julle sal nie vandag kos in die veld kry nie. 26Julle moet ses dae lank elke dag manna optel, maar die sewende dag is die Sabbatdag. Dan sal daar nie manna wees nie.”

27Op die sewende dag het party van die mense gegaan om manna op te tel, maar hulle het niks gekry nie. 28Die Here het vir Moses gesê: “Hoe lank sal julle nog ongehoorsaam wees en nie doen wat Ek sê nie? 29Onthou, Ek het vir julle die Sabbatdag gegee. Daarom gee Ek vir julle op die sesde dag genoeg kos vir twee dae. Elkeen moet op die sewende dag bly waar hy is. Niemand mag dan weggaan van sy woonplek nie.”

30Die Israeliete het toe op die sewende dag niks gedoen nie.

31Die Israeliete het die kos “manna” genoem. Die manna was wit en dit het gelyk soos koljander-saad. Dit het gesmaak soos heuningkoek. 32Moses het ook vir hulle gesê wat die Here nog gesê het: “Julle moet ’n omer manna bêre vir julle *nageslag sodat hulle die kos kan sien wat Ek vir julle in die woestyn gegee het toe Ek julle uit Egipte gebring het.”

33Moses het toe vir Aäron gesê: “Neem ’n kruik en sit ’n omer manna daarin. Sit dit dan neer voor die Here en bêre dit vir julle nageslag.”

34Aäron het dit neergesit voor die *kis waarin die tien *gebooie moet kom. Hy het dit gebêre soos die Here vir Moses gesê het. 35Die Israeliete het 40 jaar lank manna geëet, totdat hulle by die land gekom het waar hulle kon woon. Hulle het manna geëet totdat hulle by Kanaän gekom het. 36’n Omer is een tiende van ’n *efa.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index