Search form

Eksodus 18

Jetro kom na Moses toe

1*Jetro was *die priester van die land Midian en hy was Moses se skoonpa. Hy het alles gehoor wat God vir Moses en vir die Israeliete gedoen het toe Hy hulle uit Egipte gebring het. 2Moses het voorheen sy vrou Sippora teruggestuur na sy skoonpa Jetro toe. Jetro het nou vir Sippora 3en haar twee seuns teruggeneem na Moses toe. Die een seun se naam was *Gersom. Moses het gesê: “Ek was ’n *vreemdeling in ’n vreemde land.”

4Die ander seun se naam was *Eliëser. Moses het gesê: “Die God van my pa het my gehelp en Hy het my gered toe die *farao my wou doodmaak.”

5Jetro, Moses se skoonpa, het nou Moses se twee seuns en sy vrou na hom toe gebring. Moses het daar in die woestyn by die berg van God sy tente opgeslaan. 6Jetro het ’n boodskap vir Moses gestuur. Jetro het gesê: “Ek, jou skoonpa Jetro, kom na jou toe, en jou vrou en haar twee seuns kom ook saam.”

7Moses het sy skoonpa gaan ontmoet. Hy het voor hom gebuig en hom gesoen. Hulle het vir mekaar gevra hoe dit gaan en hulle het in Moses se tent ingegaan. 8Moses het vir sy skoonpa alles vertel wat die Here met die farao en die Egiptenaars gedoen het omdat die Here die Israeliete wou help. Hy het ook vertel van al die probleme wat die Israeliete gehad het voordat hulle by die berg van God gekom het, en hoe die Here hulle gered het. 9Jetro was bly oor al die goeie dinge wat die Here vir die Israeliete gedoen het toe Hy hulle gered het van die Egiptenaars. 10Jetro het gesê: “Ek prys die Here wat julle gered het van die Egiptenaars en van die farao. 11Nou weet ek dat die Here groter is as al die *gode. Hy het die Israeliete gered toe die Egiptenaars baie slegte dinge aan hulle gedoen het.”

12Jetro, Moses se skoonpa, het ’n *brand-offer en ander *offers vir God gebring. Aäron en al die leiers van die Israeliete het gekom om die *offer-ete saam met Moses se skoonpa te eet.

13Moses het die volgende dag begin om te luister na die mense wat probleme het met mekaar, en om te *oordeel wie is reg. Die mense het van die oggend tot die aand na Moses toe gekom. 14Sy skoonpa het alles gesien wat Moses vir die mense doen. Hy het gesê: “Wat doen jy alles vir die mense? Hoekom doen jy dit alleen en hoekom moet al die mense van die oggend tot die aand vir jou wag?”

15Moses sê toe vir sy skoonpa: “Die mense kom na my toe om te hoor wat God sê. 16Wanneer hulle probleme met mekaar het, dan kom hulle na my toe. Ek sê wie is reg en wie is verkeerd. So leer ek vir hulle wat God wil hê hulle moet doen.”

17Moses se skoonpa sê toe vir hom: “Jy maak ’n fout. 18Jy sal baie moeg word, jy en hierdie mense wat by jou is. Dit is te moeilik vir jou, jy kan dit nie alleen doen nie. 19Luister nou na wat ek vir jou sê. Ek sal vir jou sê wat jy moet doen, en God sal jou help. Jy moet met God praat oor die mense, en jy moet hulle probleme na God toe bring. 20Jy moet vir hulle leer wat God wil hê hulle moet doen. Jy moet vir hulle wys hoe om reg te lewe en wat hulle moet doen. 21Jy moet uit die hele volk manne kies wat weet wat om te doen en wat vir God *eer. Hulle moet eerlik wees en nie net vir hulleself sorg nie. Hulle moet dan die leiers wees, leiers van 1 000 mense, of van 100 mense of 50 mense of tien mense. 22Hulle kan dan na die mense se probleme luister. Die leiers kan al die groot probleme na jou toe bring en hulle kan self na al die klein probleme luister. Dan sal dit vir jou makliker wees, en so kan hulle jou help. 23As jy doen wat ek sê, en as God ook sê jy moet dit so doen, dan sal jy kan aanhou om die werk te doen. Al die mense sal ook tevrede huis toe gaan.”

24Moses het geluister na sy skoonpa. Hy het alles gedoen wat Jetro gesê het. 25Moses het uit al die *stamme van Israel manne gekies wat weet wat om te doen, en hy het hulle leiers gemaak oor die volk. Daar was leiers van 1 000 mense, van 100 mense, van 50 mense en van tien mense. 26Die leiers het geluister na die mense se probleme. Hulle het die groot probleme na Moses toe gebring. Hulle kon self besluit oor die klein probleme. 27Moses het toe sy skoonpa gegroet, en Jetro het teruggegaan na sy eie land.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index