Search form

Eksodus 33

Die Here wil nie verder saam met die Israeliete gaan nie

1Die Here het vir Moses gesê: “Gaan nou hier weg, jy en die volk wat jy uit Egipte gebring het. Gaan na die land wat Ek vir Abraham, vir Isak en vir Jakob belowe het toe Ek gesê het: ‘Ek sal dit vir julle *nageslag gee.’

2“Ek sal ’n *engel voor julle stuur en Ek sal die Kanaäniete, die Amoriete, die Hetiete, die Feresiete, die Hewiete en die *Jebusiete wegjaag uit die land. 3Julle moet gaan na daardie *land waar daar baie melk en heuning is. Maar Ek sal nie saam met julle gaan nie, want julle is hardkoppig. Miskien sal Ek julle dan doodmaak voordat julle daar kom.”

4Toe die Israeliete hoor wat die Here sê, was hulle hartseer en hulle het nie meer hulle juwele gedra nie. 5Die Here het vir Moses gesê: “Sê vir die Israeliete: ‘Julle is ’n hardkoppige volk. As Ek saam met julle gaan, dan sal Ek julle dadelik doodmaak. Haal af al julle juwele. Ek sal besluit wat Ek met julle sal doen.’ ”

6Die Israeliete het van toe af nie meer hulle juwele gedra nie. Dit was toe hulle weggegaan het van Sinai-berg.

Moses praat met die Here

7Moses het ’n tent geneem en hy het dit opgeslaan buite die kamp, ver van die kamp. Hy het dit genoem “die tent waar die Here aan die Israeliete *verskyn,” want dit is waar die Here altyd aan hulle verskyn het. Wanneer iemand wou weet wat die Here sê, dan het hy gegaan na die tent waar die Here aan hulle verskyn het, die tent wat buite die kamp was. 8Wanneer Moses na die tent gegaan het, dan het al die mense opgestaan. Elkeen het by die ingang van sy tent gaan staan en na Moses gekyk totdat hy in die tent ingegaan het. 9Wanneer Moses by die tent gekom het, dan het ’n wolk afgekom en by die ingang van die tent gebly. Dan het die Here met Moses gepraat. 10En wanneer al die mense die wolk by die ingang van die tent gesien het, dan het hulle almal opgestaan en elkeen het by die ingang van sy tent gebuig. 11Die Here het met Moses gepraat soos ’n man met sy vriend praat. Daarna het Moses teruggegaan na die kamp, maar sy helper, die jongman Josua, het nie weggegaan van die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn nie. Josua was die seun van Nun.

Moses vra hy wil die Here sien

12Moses het vir die Here gesê: “U sê vir my ek moet die volk wegneem, maar U sê nie vir my wie U saam met my sal stuur nie. U het gesê: ‘Ek ken jou, Ek is tevrede met jou.’ 13Daarom vra ek nou, as U regtig tevrede is met my, sê vir my wat U wil doen, sodat ek U ook kan ken, en kan weet U is tevrede met my. Onthou, hierdie volk is u eie volk.”

14Die Here het gevra: “Moet Ek self saamgaan en jou na die land bring?”

15Moses het vir Hom gesê: “As U nie self met ons saamgaan nie, dan moet U ons nie laat weggaan van hier nie. 16Hoe sal ons weet dat U tevrede is met ons, met my en met u volk, as U nie met ons saamgaan nie? Ek en u volk sal weet ons is anders as al die volke op die aarde as U self saam met ons gaan.”

17Die Here het vir Moses gesê: “Ook dít wat jy nou gevra het, sal Ek doen, want Ek is tevrede met jou en Ek ken jou.”

18Toe sê Moses: “Ek wil U asseblief sien wanneer U, die Koning, verskyn.”

19Maar die Here het gesê: “Dit sal blink as Ek voor jou verbygaan en Ek sal my Naam ‘die Here’ hard sê sodat jy dit hoor. Ek besluit self vir wie Ek *genadig en goed wil wees. 20Maar jy mag nie my gesig sien nie, want as iemand My sien, dan sal hy sterf.”

21Die Here het ook gesê: “Hier is ’n plek by My waar jy op ’n rots kan staan. 22Wanneer die lig verbykom, die lig wat om My, die Koning, is wanneer Ek *verskyn, dan sal Ek jou in ’n skeur in die rots sit en jou met my hand toemaak totdat Ek verby is. 23Dan sal Ek my hand wegneem, en jy sal my rug sien, maar nie my gesig nie. Niemand mag my gesig sien nie.”

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index