Search form

Eksodus 35

Die Sabbatdag

1Moses het al die Israeliete bymekaargeroep en hy het vir hulle gesê: “Dit is wat die Here gesê het julle moet doen: 2Julle moet ses dae lank werk, maar die sewende dag moet vir julle ’n *gewyde rusdag wees, ’n *Sabbatdag vir die Here. As iemand op hierdie dag werk, dan moet julle hom doodmaak. 3Julle moenie by julle huise vuur maak op die Sabbatdag nie.”

Die Israeliete bring meer as wat nodig is vir die werk

4Moses het vir al die Israeliete gesê: “Die Here het gesê 5julle moet van julle goed neem en vir Hom ’n present gee. Elkeen wat graag iets wil gee, moet ’n present vir die Here bring: goud of silwer of *brons, 6of blou en pers en rooi wol-materiaal, of linne-materiaal of bokhaar-materiaal, 7of skaapvelle wat julle rooi gekleur het, of velle wat julle sag gemaak het, of doringhout, 8of olyf-olie vir die *lampe, of *balsem vir die *salf-olie en vir die *wierook. Ek hou daarvan. 9Of hulle moet *oniks en ander *edelstene bring om vas te sit op *die priester se *skouer-kleed en *borssak.

10“Al die *ambagsmanne moet kom en hulle moet alles maak wat die Here gesê het: 11die *tempel-tent en die seil wat bo-oor kom, sy hakies en sy rame, sy dwarspale, sy pale en sy voetstukke, 12die *kis, sy dra-pale, die deksel en die *gordyn waaragter die kis staan, 13die tafel en sy dra-pale en alles wat by hom moet wees, die *offer-brood, 14die lampstaander en alles wat by hom moet wees, sy lampe en die olyf-olie vir die lampe, 15die *wierook-altaar en sy dra-pale, die salf-olie, die wierook en die gordyn in die ingang waar die mense by die tempel-tent ingaan, 16die *brandoffer-altaar en die brons tralies wat rondom die altaar is, sy dra-pale en alles wat by hom moet wees, die was-skottel en sy voetstuk, 17die gordyne om die *oop stuk grond, hulle pale en hulle voetstukke, en die gordyn in die ingang na die oop stuk grond, 18die penne vir die tempel-tent, die penne vir die oop stuk grond en hulle toue, 19die klere wat die priesters aantrek wanneer hulle in die tempel werk, die *gewyde klere vir die priester Aäron, en sy seuns se klere wanneer hulle die priesters se werk moet doen.”

20Al die Israeliete het weggegaan van Moses, 21en elkeen wat graag iets wou gee, het ’n present vir die Here gebring. Dit was goed wat hulle kon gebruik om die tent en die gewyde klere te maak. 22Die mans en vroue wat graag iets wou gee, het borsspelde gebring, ook oor-ringe, armbande en nekringe, en baie soorte goue goed. Elkeen wat ’n *beweeg-offer van goud vir die Here wou gee, het dit gebring. 23En elkeen wat blou, pers en rooi wol-materiaal en linne-materiaal en bokhaar-materiaal gehad het, het dit gebring, ook skaapvelle wat hulle rooi gekleur het en velle wat hulle sag gemaak het. 24Elkeen wat ’n present van silwer of brons wou gee, het dit vir die Here gebring, en elkeen wat doringhout by hom gehad het vir al die werk, het dit gebring.

25Elke vrou wat netjies kon *weef, het geweef, en sy het die goed gebring wat sy geweef het: blou, pers en rooi wol-materiaal, en linne-materiaal. 26Al die vroue wat dit graag wou doen, het baie mooi bokhaar-materiaal geweef. 27Die leiers het oniks en ander edelstene gebring om vas te sit op die priester se skouer-kleed en borssak. 28Hulle het *speserye gebring en ook olyf-olie vir die lampe en vir die salf-olie, en speserye vir die wierook. 29Elke man en vrou wat graag iets wou bring vir die werk, het dit gebring. Dit was vir al die werk wat die Here vir Moses gesê het om te doen. Die Israeliete het die presente gebring omdat hulle dit graag wou gee.

Besaleël en Oholiab

30Moses het vir die Israeliete gesê: “Die Here het vir Besaleël gekies om die werk te doen. Besaleël is die seun van Uri, en Uri is die seun van Gur. Besaleël is van die *Juda-stam. 31God het vir Besaleël *wysheid en ’n goeie verstand gegee. Hy kan al die werk goed doen. 32Hy kan planne teken en dinge maak van goud, silwer en *brons. 33Hy kan juwele maak van *edelstene en hy kan houtwerk doen. Hy kan al die werk doen. 34Die Here het vir hom en vir Oholiab gehelp om vir ander *ambagsmanne te leer. Oholiab is die seun van Agisamak van die *Dan-stam. 35Die Here het hulle *vaardig gemaak om al die soorte werk te kan doen: Hulle kan planne teken, *borduur op blou, pers en rooi wol-materiaal en linne-materiaal, en hulle kan weef. Hierdie twee manne kan al die werk doen en planne teken.”

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index