Search form

Eksodus 9

Die Egiptenaars se diere vrek

1Die Here het vir Moses gesê: “Gaan na die *farao toe en sê vir hom die Here, die God van die *Hebreërs, sê hy moet die Israeliete laat gaan sodat hulle Hom kan dien. 2As hy die Israeliete nie laat gaan nie en as hy weer sê hulle moet hier bly, 3dan sal Ek hom swaar straf. Ek sal sy diere wat in die veld is, baie siek maak en laat vrek: die perde, die donkies, die kamele, die beeste, die skape en die bokke. 4Maar Ek sal nie dieselfde doen met die Israeliete se diere nie. Nie een van hulle diere sal vrek nie.”

5Die Here het besluit wanneer dit moet gebeur en Hy het gesê Hy sal dit die volgende dag doen. 6Die Here het dit die volgende dag laat gebeur. Al die Egiptenaars se diere het gevrek, maar nie een van die Israeliete se diere het gevrek nie. 7Die farao het mense gestuur om te gaan kyk. Hulle het gesien dat nie een van die Israeliete se diere gevrek het nie. Maar die farao het hardkoppig gebly. Hy het nie die Israeliete laat gaan nie.

Die mense en diere kry sere

8Die Here het vir Moses en Aäron gesê: “Julle moet *as uit ’n oond neem. Moses moet dit dan op in die lug gooi terwyl die *farao kyk. 9Die as sal fyn stof word en dit sal oor die hele Egipte waai. Dan sal daar op die mense en diere sere kom wat sal aanhou swel en oopgaan.”

10Moses en Aäron het toe as uit ’n oond geneem en hulle het voor die farao gaan staan. Moses het die as in die lug gegooi. Die as het op die mense en diere gewaai en hulle het sere gekry. 11Die *towenaars kon nie dieselfde doen wat Moses gedoen het nie, want hulle was ook vol sere. Daar was sere op die towenaars en op al die Egiptenaars. 12Maar die Here het die farao hardkoppig gemaak. Die farao het nie na Moses en Aäron geluister nie. Dit was soos die Here vir Moses gesê het.

Hael

13Die Here het vir Moses gesê hy moet die volgende oggend vroeg na die *farao toe gaan en vir hom sê dat die Here, die God van die Hebreërs, sê: “Jy moet my volk, die Israeliete, laat gaan sodat hulle My kan dien. 14As jy nie die Israeliete laat gaan nie, dan sal Ek nou jou en jou *amptenare en jou volk nog baie swaarder straf. Dan sal jy weet daar is niemand op die hele aarde wat soos Ek is nie. 15Ek kan jou en jou volk nou so siek maak dat julle almal sal sterf. 16Maar Ek laat jou nog lewe. Ek doen dit sodat jy kan sien hoe sterk Ek is, en sodat almal op die aarde my Naam kan *eer. 17Jy dink jy regeer oor my volk en jy wil hulle nie laat gaan nie. 18Ek sal môre baie hael stuur. Dit het nog nooit in Egipte so baie gehael nie, van die begin af tot vandag toe. 19Jy moet nou jou bokke en jou ander diere na ’n veilige plek neem, ook al jou goed wat buite in die veld is. Die hael sal val op al die mense en diere in die veld, op almal wat nie onder ’n dak is nie. Die hael sal hulle doodslaan.”

20Die farao se amptenare wat geluister het na wat die Here gesê het, het hulle *slawe en diere na die huise en die stalle gebring. 21Maar ander amptenare het nie gedoen wat die Here gesê het nie. Hulle het hulle slawe en hulle diere buite laat bly. 22Die Here sê toe vir Moses: “Steek jou hand op in die lug, dan sal daar hael val oor die hele Egipte, oor al die mense en diere, oor al die plante in Egipte.”

23Moses het sy kierie opgesteek in die lug. Die Here het donderweer en hael gestuur, en die weerlig het op die aarde geslaan. Die Here het baie hael laat val op Egipte. 24Dit het baie gehael, en die weerlig het na al die kante toe geslaan. Daar was nog nooit so baie weerlig en hael in die hele Egipte nie, vandat daar mense woon. 25Die hael het alles in Egipte plat geslaan, alles wat in die veld was, ook al die mense en diere. Die hael het al die plante in die veld plat geslaan, en dit het al die bome in die veld stukkend geslaan. 26Maar in die land Gosen waar die Israeliete gewoon het, het dit nie gehael nie. 27Die farao het vir Moses en Aäron laat roep en hy het vir hulle gesê: “Ek besef nou ek het ’n fout gemaak. Die Here was reg, en ek en my volk is verkeerd. 28Julle moet tot die Here bid. Die vreeslike donderweer en die hael laat ons baie swaar kry. Julle mag nou weggaan. Ek sal julle nie langer hier hou nie.”

29Moses het vir die farao gesê: “Wanneer ek uit die stad gaan, dan sal ek my hande uitsteek na die Here toe en ek sal bid. Die donderweer sal ophou en daar sal nie meer hael wees nie. Dan sal jy weet dat die aarde aan die Here behoort. 30Maar ek weet jy en jou amptenare is nog nie bang vir die Here God nie.”

31Daar was nie meer *vlas en *gars oor ná die hael nie.

Die gars was amper ryp, en die vlas het al klaar knoppe gemaak. 32Maar daar was nog koring en *spelt, want dit word later ryp. 33Moses het weggegaan van die farao. Hy het uit die stad gegaan en hy het sy hande na die Here toe opgesteek en gebid. Die donderweer en die hael het opgehou, en die reën het nie meer op die aarde geval nie. 34Toe die farao sien dat die reën en die hael en die donderweer opgehou het, het hy weer verkeerd gedoen. Hy het nie geluister nie, hy en sy amptenare saam met hom. 35Die farao was hardkoppig. Hy het nie die Israeliete laat gaan nie. Dit het gebeur soos die Here vir Moses gesê het.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index