Search form

Esegiël 2

Die Here stuur vir Esegiël

1Die Persoon het vir my gesê: “Mens, staan regop, Ek wil met jou praat.”

2Terwyl Hy praat, het *die Gees in my gekom en my regop laat staan. Ek het gehoor die Persoon praat met my. 3Hy het vir my gesê: “Mens, Ek stuur jou na die Israeliete toe. Hulle is ’n *opstandige volk wat ongehoorsaam is aan My. Hulle en hulle *voorvaders wou nie luister na My nie, tot vandag toe. 4Hulle is hardkoppige mense en hulle wil nie luister nie. Ek stuur jou na hulle toe, en jy moet vir hulle sê wat Ek, die Here, sê. 5En húlle, hulle moet weet dat daar ’n *profeet tussen hulle is. Hulle moet dit weet as hulle luister en hulle moet dit ook weet as hulle nie luister nie. Want hulle is ’n opstandige volk. 6En jy, mens, jy moenie bang wees vir hulle nie. Jy moenie bang wees vir wat hulle sê nie, ook wanneer hulle hardkoppig is en dit vir jou voel of jy op dorings en skerpioene sit. Jy moenie bang wees vir wat hulle sê nie en jy moenie skrik vir hulle nie, want hulle is ’n opstandige volk. 7Hulle is hardkoppig, maar jy moet vir hulle sê wat Ek sê, as hulle luister en ook as hulle nie luister nie. 8En jy, mens, jy moet luister na wat Ek vir jou sê, jy moenie opstandig wees soos hierdie opstandige volk nie. Maak oop jou mond en eet wat Ek vir jou gee.”

9En toe ek kyk, sien ek Hy het sy hand uitgesteek na my toe, en in sy hand sien ek ’n *boekrol. 10Hy het dit oopgerol voor my, en op die boekrol was daar iets geskryf, voor en agter. Dit was die woorde wat mense gebruik wanneer hulle wil huil en treur en bid en kla.

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index