Search form

Esegiël 20

Die Here sal die Koning van Israel wees en Hy sal kwaai oor hulle regeer

1Dit was *in die sewende jaar, op die tiende dag van die vyfde maand. Party van die leiers van Israel het gekom om vir die Here te vra wat sal gebeur, en hulle het voor my kom sit. 2Ek het gehoor die Here sê vir my: 3“Mens, jy moet praat met die leiers van Israel. Jy moet vir hulle sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Het julle gekom om vir My te vra wat sal gebeur? Ek sal julle nie antwoord nie, dit is seker, so seker soos Ek lewe.”

Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.

4“Mens, sal jy hulle *oordeel, sal jy hulle oordeel? Dan moet jy vir hulle vertel van die dinge wat hulle *voorvaders gedoen het, dinge wat Ek haat. 5Jy moet vir hulle sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Die dag toe Ek vir Israel gekies het en toe Ek vir die *nageslag van die huisgesin van Jakob belowe het wat Ek sal doen, daardie dag het Ek in die land Egipte gewys het wie Ek is, en Ek het vir hulle belowe en gesê: Ek is julle God die Here. 6Daardie dag het Ek vir hulle belowe dat Ek hulle uit Egipte sal bring na ’n land wat Ek vir hulle uitgesoek het, ’n *land waar daar baie melk en heuning is, die mooiste van al die lande.

7“En Ek het vir hulle gesê: ‘Julle almal hou van die vuil *afgode, maar julle moet hulle weggooi. Julle moenie julleself *onrein maak met die afgode van Egipte nie. Ek is julle God die Here.’ 8Maar hulle was *opstandig teen My, hulle wou nie luister na My nie. Nie een van hulle het die vuil afgode waarvan hy hou, weggegooi nie, hulle het nie die afgode van Egipte gelos nie. Ek het gedink Ek sal hulle daar in Egipte straf en Ek sal aanhou totdat Ek nie meer kwaad is nie.

9“Maar Ek het dit nie gedoen nie. Die Israeliete het tussen ander volke gewoon, en daardie volke het gehoor dat Ek belowe het om die Israeliete uit Egipte te bring. Ek is die Here, Ek wou nie hê dat daardie volke moet dink Ek kan nie doen wat Ek belowe het nie. 10Ek het die Israeliete toe uit Egipte laat kom en Ek het hulle na die woestyn gebring. 11Ek het vir hulle gesê wat Ek wil hê hulle moet doen. Ek het vir hulle geleer om te weet dat hulle sal aanhou lewe as hulle doen wat Ek besluit. 12Ek het ook vir hulle my *Sabbatdae gegee, dit was ’n *teken tussen My en hulle. Hulle moes weet dat Ek, die Here, hulle gekies het om my *gewyde volk te wees. 13Maar die volk Israel was opstandig teen My in die woestyn. Hulle het nie gelewe soos Ek wil hê nie. Hulle het gedink die dinge wat Ek besluit, is nie belangrik nie en hulle het dit nie gedoen sodat hulle kon aanhou lewe nie. Hulle het aangehou om my Sabbatdae te *ontwy, en Ek het gedink Ek sal hulle daar in die woestyn straf en hulle almal doodmaak.

14“Maar Ek het dit nie gedoen nie. Ek is die Here. Die ander volke het gesien dat Ek die Israeliete uit Egipte gebring het en Ek wou nie hê dat daardie volke moet dink Ek kan nie doen wat Ek belowe het nie. 15Ek het ook daar in die woestyn vir hulle gesê dat Ek hulle nie by die land sal bring wat Ek vir hulle wou gee nie, ’n land waar daar baie melk en heuning is, die mooiste van al die lande. 16Ek het dit gesê omdat hulle gedink het die dinge wat Ek besluit, is nie belangrik nie en omdat hulle nie gelewe het soos Ek wil hê nie en omdat hulle my Sabbatdae ontwy het. Hulle het die afgode gedien wat hulle graag wou hê. 17Maar Ek was jammer vir hulle en Ek het hulle nie doodgemaak nie. Ek het hulle nie almal daar in die woestyn laat sterf nie. 18Ek het daar in die woestyn vir hulle kinders gesê: ‘Julle moenie lewe soos julle voorvaders altyd gelewe het nie, julle moenie doen wat hulle besluit het nie en julle moenie julleself onrein maak met hulle afgode nie. 19Ek is julle God die Here. Julle moet lewe soos Ek wil hê en julle moet die dinge doen wat Ek besluit. 20Julle moet my *gewyde Sabbatdae hou. Die Sabbatdae moet ’n teken wees tussen My en julle, sodat julle sal weet dat Ek julle God die Here is.’ 21Maar die kinders was opstandig teen My. Hulle het nie gelewe soos Ek vir hulle gesê het nie, hulle het gedink die dinge wat Ek besluit, is nie belangrik nie en hulle het dit nie gedoen sodat hulle kon aanhou lewe nie. Hulle het aangehou om my Sabbatdae te ontwy. Ek het gedink Ek sal aanhou om hulle daar in die woestyn te straf totdat Ek nie meer kwaad is nie.

22“Maar Ek het dit nie gedoen nie. Ek is die Here. Die ander volke het gesien dat Ek die Israeliete uit Egipte gebring het, en Ek wou nie hê dat daardie volke moet dink Ek kan nie doen wat Ek belowe het nie. 23Ek het daar in die woestyn vir hulle gesê dat Ek hulle sal injaag tussen die volke in en dat Ek hulle in ander lande sal laat woon. 24Ek het dit gedoen omdat hulle nie gedoen het wat Ek besluit het nie. Hulle het gedink die dinge wat Ek wil hê, is nie belangrik nie, hulle het my Sabbatdae ontwy en hulle het gehou van die afgode van hulle voorvaders. 25Ek self het hulle toe dinge laat doen wat nie goed is nie, Ek het dinge besluit wat hulle nie sou laat aanhou lewe nie. 26Ek het hulle onrein laat word van die offers wat hulle moes bring. Hulle moes hulle oudste seuns verbrand. Ek wou hulle so bang laat word dat hulle sou weet dat Ek die Here is. 27Mens, daarom moet jy praat met die volk Israel, jy moet vir hulle sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Julle voorvaders het My *beledig toe hulle heeltemal *ontrou geword het aan My. 28Ek het hulle gebring na die land wat Ek vir hulle belowe het. Maar toe hulle al die hoë heuwels en die groen bome sien, het hulle daar *ge-offer en presente neergesit om My te *verneder. Hulle het *wierook gebrand en *drank-offers uitgegooi. 29Ek het toe vir hulle gevra: ‘Wat beteken die *offer-plekke waarnatoe julle gaan?’ Hulle noem daardie plekke nou nog offer-plekke.

30“Daarom, jy moet vir die volk Israel sê: Die Here, Hy wat Here is, vra: Het julle soos julle voorvaders gelewe en julleself onrein gemaak? Dien julle hulle vuil afgode en is julle ontrou aan My? 31Julle sit presente neer vir die afgode, julle verbrand julle kinders, julle maak julleself onrein met julle afgode, tot vandag toe. Volk Israel, moet Ek julle antwoord as julle vir My vra wat sal gebeur? Ek sal julle nie antwoord nie, dit is seker, so seker soos Ek lewe.”

Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.

32“Julle dink julle wil wees soos die ander volke, soos die mense in ander lande wat offers bring vir hout en klip, maar dit sal nie gebeur nie.”

33Die Here, Hy wat Here is, sê: “Ek sal julle Koning wees, dit is seker, so seker soos Ek lewe. Ek sal kwaai oor julle regeer en Ek sal julle laat swaarkry en julle straf. 34Ek was kwaai met julle en Ek het julle laat swaarkry. Ek het julle gestraf en Ek het julle na ander lande gejaag. Maar Ek sal julle bymekaarbring uit daardie lande, Ek sal julle uitbring tussen die volke. 35Ek sal julle na die woestyn bring tussen die land Babel en die land Israel, en daar sal Ek self vir julle oordeel. 36Ek het julle voorvaders ge-oordeel in die woestyn tussen Egipte en Israel, Ek sal julle ook so oordeel. 37Ek sal julle almal tel en Ek sal julle gehoorsaam maak aan die *verbond. 38Ek sal almal wat opstandig is teen My en wat nie na My wil luister nie, apart sit. Ja, Ek sal hulle uithaal uit die lande waar hulle woon, maar hulle sal nie in die land Israel kom nie. Julle sal weet dat Ek die Here is.”

39Die Here, Hy wat Here is, sê: “En julle, volk Israel, as julle nie gehoorsaam wil wees aan My nie, dan moet elkeen van julle sy afgode gaan dien. Maar julle moenie aanhou om my *heilige Naam te ontwy nie. Julle doen dit wanneer julle presente bring en wanneer julle afgode dien.”

Die hele volk Israel sal die Here dien op sy gewyde berg

40Die Here, Hy wat Here is, sê: “Dit is seker, die hele volk Israel sal My dien op my *gewyde berg, op die hoë berg van Israel. Almal in die land, die hele volk Israel, sal My daar dien. Daar sal Ek hulle aanvaar en daar sal Ek julle presente wil hê en julle beste *offers saam met alles wat julle aan My *wy. 41Ek het julle na ander lande gejaag, maar Ek sal julle tussen daardie volke uitbring en Ek sal julle bymekaarmaak. Julle sal dan vir My wees soos ’n *wierook-offer. Die volke sal sien dat Ek die *heilige God vir julle is. 42Julle sal weet dat Ek die Here is wanneer Ek julle bring na die land Israel, na die land wat Ek aan julle *voorvaders belowe het. 43Daar sal julle onthou hoe julle gelewe het en wat julle alles gedoen het toe julle julleself *onrein laat word het. Julle sal naar en siek voel oor al die slegte dinge wat julle gedoen het. 44Volk Israel, julle sal weet dat Ek die Here is wanneer Ek vir julle wys wie Ek is en wanneer Ek julle nie straf oor julle slegte lewe en oor die slegte dinge wat julle gedoen het nie.”

Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.

Die Here sal ’n vuur aansteek

45Ek het gehoor die Here sê vir my: 46“Mens, jy moet jou gesig na die suide draai, jy moet praat teen die suide, jy moet my boodskap bring na die bos in die Suid-land. 47Jy moet vir die bos in die Suid-land sê: Jy moet hoor wat sê die Here. Die Here, Hy wat Here is, sê: Ek sal ’n vuur aansteek teen jou, en die vuur sal elke groen boom en elke droë boom in jou verbrand. Niemand sal die vlamme kan doodmaak wat brand nie. Almal se gesigte sal brand, van die suide tot die noorde. 48Almal wat lewe, sal sien dat Ek, die Here, die vuur aangesteek het, en niemand sal die vuur doodmaak nie.”

49Ek het toe gesê: “Ag, Here, my Here, die mense sê ek probeer om slim dinge te sê wat hulle nie kan verstaan nie.”

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index