Search form

Esegiël 5

Die Here sal Jerusalem verwoes

1“En jy, mens, jy moet ’n skerp swaard neem en jy moet dit soos ’n skeermes gebruik. Jy moet jou hare en jou baard afskeer, en dan moet jy dit weeg en in drie dele deel. 2Jy moet een derde van die hare in die stad verbrand wanneer die vyande die stad oorwin, die stad wat jy op die baksteen geteken het. Dan moet jy een derde van die hare neem en jy moet dit met die swaard in klein stukkies kap en dit rondom die stad gooi. Daarna moet jy een derde van die hare in die wind gooi sodat dit wegwaai. Ek sal self die mense van die stad volg en jaag met my swaard. 3Dan moet jy ’n bietjie van die baard en die hare neem en jy moet dit toebind in jou *bo-kleed. 4En jy moet ’n klein bietjie van hierdie baard en hare neem en in die vuur gooi en dit verbrand. ’n Vuur sal daar begin brand en dit sal gaan na die hele volk Israel.”

5Die Here, Hy wat Here is, sê: “Hier is Jerusalem. Ek het die stad tussen die volke gesit. Daar is lande rondom die stad. 6Maar die mense van die stad was *opstandig teen My. Hulle het nie gedoen wat Ek wou hê en wat Ek gesê het nie, hulle het meer verkeerd gedoen as die ander volke en die mense van die lande wat rondom die stad is. Hulle het gedink die dinge wat Ek wil hê, is nie belangrik nie, en hulle het nie gelewe soos Ek gesê het nie.”

7Die Here, Hy wat Here is, sê: “Julle het slegter dinge gedoen as die volke wat rondom julle is, julle het nie gelewe soos Ek gesê het nie en julle het nie gedoen wat Ek wil hê nie. Julle het slegter gelewe as die volke rondom julle. 8Daarom sê Ek, die Here: Julle moet dit weet, Ek is nou julle vyand, ja, Ek self. Ek wil *regter wees in die stad en Ek wil julle *oordeel waar die ander volke dit kan sien. 9Ek wil iets met julle doen wat Ek nog nie voorheen gedoen het nie en wat Ek nie weer sal doen nie. Ek wil dit doen omdat julle so baie slegte dinge gedoen het. 10Daarom, pa’s sal hulle kinders eet in die stad, en kinders sal hulle pa’s eet. Ek sal die mense in die stad straf wat *skuldig is en Ek sal die mense wat dan nog lewe, na al die kante toe jaag.”

11Die Here, Hy wat Here is, sê: “So seker soos Ek lewe, Ek sal julle minder maak, Ek sal julle nie vergewe nie en Ek sal nie jammer wees vir julle nie, want julle het my *tempel *onrein gemaak omdat julle daar baie lelike dinge gedoen het, baie slegte dinge. 12Een derde van julle sal in die stad sterf van *pes of van honger, een derde sal rondom die stad sterf in die oorlog, en Ek sal een derde na al die kante toe jaag, Ek sal hulle self met my swaard jaag. 13Ek sal alles aan hulle doen wat Ek wil doen, Ek sal dit doen omdat Ek kwaad is vir hulle. Hulle sal weet dit is Ek, die Here, wat gepraat het. Ek is baie kwaad en Ek sal hulle straf. 14Ek sal Jerusalem *verwoes, sodat dit net ’n hoop klippe is. Die volke wat rondom die stad woon, sal spot met die stad. Elkeen wat daar verbykom, sal dit hoor. 15Wanneer Ek besluit om die mense van Jerusalem te straf omdat Ek kwaad is vir hulle, baie kwaad, dan sal die volke wat rondom hulle woon, hulle spot en *beledig. Die volke sal skrik oor wat Ek met Jerusalem doen 16wanneer Ek my pyle wat doodmaak na hulle toe skiet. Die pyle is die *hongersnood wat hulle sal laat sterf. Ek sal hulle meer en meer honger laat word en Ek sal hulle kos laat opraak sodat hulle sterf. 17Ek stuur honger en wilde diere na julle toe. Hulle sal julle kinders doodmaak. Daar sal pes in die stad kom, en baie mense sal in oorlog sterf. Ek bring vyande na julle toe om julle dood te maak. Ek, die Here, het gepraat.”

Bybel vir almal

© 2007 Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

More Info | Version Index